Kom babbel saam rondom kuns

Uiteenlopende kunswerke  bring vreugde

Die tweede Woordfees-kunsveiling, in samewerking met Strauss & Co, vind op 12 Oktober in die Stellenbosse stadsaal plaas.

Die kunswerke waarop vanjaar gebie kan word, word voor die veiling in die stadsaal uitgestal en sluit werke deur bekende en opkomende kunstenaars in wat elke sak sal pas.

“Die werke op uitstalling is ongelooflik uiteenlopend, maar in sy geheel bring die uitstalling vreugde. Dit is ’n visuele tonikum. Die uitstalling pas dus goed by die bruising en sprankeling van die feestema – Borrel. Dis ’n verfrissende ervaring in ’n wêreld waar kuns geneig is om baie ernstig en somber te wees,” sê die kurator, Teresa Lizamore.

Van die 180 werke wat uitgestal word, kom om en by 90 by die veiling onder die hamer.

Beide die uitstalling en veiling is gratis.

Werk van die volgende opwindende kunstenaars is op die uitstalling te sien én by die veiling te koop:
Chris Diedericks, Willie Bester, Conrad Botes, Wilma Cruise, Manyatsa Monyamane, Guy du Toit, Gordon Froud, Anton Kannemeyer, Claudette Schreuders, Peter Mammes, Michael Selekane en Mbali Tshabalala.

Gerekende kunstenaars waarvan werk te sien maar nie te koop is nie, sluit in:
Ruhan Janse van Vuuren en Diane Victor (in samewerking gemaak), Justice Mukheli en Judy Woodborne.
Sluit gerus op 12 Oktober vanaf 18:00 by ons aan om te deel in die opwinding van die veiling. Voornemende kopers sal ook aanlyn en per telefoon kan bie. Strauss & Co sal binnekort ‘n katalogus met die werke wat te koop is, aanlyn beskikbaar stel. Hou ons sosiale media en webwerf dop vir verdere besonderhede.

Al die werke word vir die duur van die fees in die stadsaal uitgestal. Daar sal op 10, 11 en 12 Oktober rondleidings om 10:00 aangebied word. Die rondleiding duur ongeveer 50 minute en is gratis.

Uitstalling | 7–15 OKTOBER 10:00-18:00 | Stadsaal | Gratis

Kunsveiling | 12 OKTOBER 18:00 vir 18:30 | Stadsaal | Gratis

Anton Kannemeyer se weergawe van Yolandi Visser.
Henk Serfontein se skets.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!