So hou lewendes dooies ook lewendig

Wit gepleisterde grafte

Jannie Gagiano

 Die mense wat beweer dat die dood vir mens geen toekoms vooruitsigte bied nie moet weer dink. So sê ou Gert Booysen van AVBOB. Hy maak ‘n goeie lewe uit ander se doodgaan.

Nood leer bid, sê hy,  maar doodsvooruitsig leer beplan. Soos die ou beenkop met die sens naderkruip  moet mense met gesonde verstand beplan en bepaal in watter soort weelderige toerusting  hulle in die grond verpak of in die oond verskroei wil word.

Wie wil nou as die trompet wat die oomblik van die wederopstanding van die vlees aankondig, sommer in enige ou hierjy kis opgewek word? Vir meeste mense moet dit ‘n designer job met silwer handvatsels en duur houtafwerkings  wees anders sal hulle nie  dood in die ding gesien wil word nie.

Watter soort sielevreugde kan ‘n mens nou daaruit  put om op die begrafenisondernemers se “econo plan” ingespit te word?. En dit boonop nog met ‘n tweedehandse suit wat vir jou by hospice gekoop is. Die siel wat in so slordige lap getooi word sal mos nooit rus kry nie. Sal altyd bly stoei met die noodlot wat bepaal het dat hy of sy op hierdie “common”manier in sy of haar sandkombersie onder die langboompies te lande gekom het. En met ‘n munisipaliteit wat versuim om die langboompies mooi te versorg en duifies aanmoedig om in die  takke te sit en koer.

Dan is daar weer die ander soort wat nie rus vir hulle siele kan kry voor hulle nie hulle gat gesien het nie.

Ou Mikke Stone van Garies vertel van die ou vrek van sy omgewing wat elke keer as hy dorp toe gekom het vir besigheid ‘n draai by sy gat gemaak het. En hy wou nie net sy eie gat sien nie. Hy wou sy vrou se gat ook sien. Om te kyk of die balbyters nie alweer nes gemaak in sy of in sy vrou se gat nie.

Want in daardie deel van die wêreld  is daar twee soorte gatkruipers wat jou siel kan versondig. Balbyters en oogpisters. As dit nie die een is nie, dan is dit die ander een. En n balbyter is ‘n ding wat as hy eers in jou gat is, nie net jou siel versondig nie, maar boonop ook nog begin knaag aan die murg in jou pype.

Mikke Stone rapporteer dat die ou vrek na elke inspeksie bevele gegee het dat sy gat en sy vrou se gat deur die munisipaliteit omgeruil moes sodra hy agterkom dat die balbyters in sy gat begin nes maak. Sy staande opdrag het gelui dat sy na sy gat en hy na haar gat verskuif word om die balbyteraanslag op sy gat minder van ‘n gatslag vir hom te maak wanneer sy tyd kom.

Hoe die ding vir die ou vrek uitgedraai het, is onbekend want hy is  ook die een wat in sy testament bepaal het dat hy, die langslewende, alles erf. En sy gat en sy vrou se gat is as bates in sy boedel geregistreer.

Dus ‘n patriarg van die ou soort wat as hy vir sy vrou, wanneer  haar tyd kom, sê kom lê, dan moet sy kom lêe. Of sy nou van haar gat gepla is of te not. Haar gat is mos  sy eiendom. Balbyters of te not.

Sy vrou moes seker maar op die ou ent die balbyters ongesiens trotseer net om hom ter wille te wees.

Nou as iemand sou dink dat dit op ‘n spoggerige dorp soos Stellenboch veel beter gaan as op Garies, het dit mis.

Selfs ’n oppervlakkige ondersoek na toestande in die dorp se begraafplase sal so iemand gou van die teendeel oortuig. Veral as die aandag toegespits word op die begraafplaas wat onder die Papegaaiberg geleë is. Net ‘n vinnige loer sal jou bewus maak van hoe die goeie reëns die grassaad aangespoor het om uitbundig tussen die grafstene te groei en die name op die klippe te verswelg in ‘n groen gloed. Hoe die sterk winde die bome se takke afgewaai en oor die looppaadjies laat opstapel het. Hoe van die groter bome op en oor grafte neergestort het op ‘n manier wat, alhoewel hulle van tyd tot tyd deur munisipale werkers verwyder word, die ingelegtes onder die klippe tog maar net meer teneergedruk moet laat voel as wat hulle verdien.

Die groeisels tussen die grafte maak dit vir besoekers en familielede wat soek na ‘n graf wat hulle lank laas besoek het, moeilik om op te spoor. Dit laat hulle wonder of die afgestorwenes nie gebelgd begin voel oor die toedrag van sake nie en of hierdie gebelgheid nie begin opflikker in ‘n weerbastige vorm wat hulle opstandig kan maak nie.

Navorsers in die geesteswetenskappe het begin wonder of dit nie tyd geword het om geeste op te roep op die ou beproefde metode van die séance nie. Met die glasies wat op ‘n spieëltafel-alfabet rondwarrel en die name van die geeste wat hulle aanmeld vir ‘n gesprek uitspel. Dan kan ‘n mens dalk onderhoude voer met die voorvaders en moeders en uitvind hoe hulle oor die saak voel.

Ander het begin dink dat as mens met die gevorderde vorme van kommunikasietegnologie wat so ‘n hoe peil van bergingskapasiteit in die “cloud” beskikbaar maak, algorismes ingespan sou kon word om verwagte responspatrone wat in die cloud voorkom te orden op ‘n manier wat hulle dan  meer leesbaar kan maak vir KI-programme. Op ‘n manier wat jou in staat kan stel om selfs met ‘n selfoon jou voorvaders se gedagtes te kan lees.

Daar is natuurlik altyd ‘n klomp Luddites in die séance-gildes wat saam met sangomas en ander impressarios van die okkulte kunste heul om nuwerwetse metodes om met die afgestorwenes te skakel, ondermyn met virusbesmettings en heidense inkantasies. Die vooruitsigte om skakeling met die dooies op sosiale media platvorms staan te maak lyk nietemin rooskleurig.

My eie voorvader lê juis onder ‘n klip in die Papegaaiberg. En soos ek hom in het lewe geken het, kan ek my al klaar voorstel hoe ons gesprek kan verloop.

Ek kan die gesprek open met ‘n navraag oor wat hy dink van die sielsuiweringsmetodes van die Voodoo-praktisyns wat  hoederhane se koppe afkap en dan in die sproei van die bloedreën wat volg, hulle sondes skoon was. Dit is ‘n ou gespreksonderwerp tussen ons. Ek wil hom laat gemaklik voel.

Voorvaders is natuurlik wispelturige wesens. Mens weet nie altyd waar jy met hulle aan of af is nie. Veel is die verhale van lewendes wat op togte soos myne voor dooimansdeur te staan gekom het. Veral as jy ‘n gesprek probeer open met so ‘n esoteriese onderwerp.

Noem dit maar beginners luck, maar met my eerste poging om sy gees voor die gees te roep meld hy aan.

En ‘n regte ou korrelkop daarby. Hy vlieg my in.

Hoe durf ek kerm oor isoteriese sielsuiweringstegnieke terwyl ons in die midde staan van die vuil toestande waarin ons dorp se begraafplase verval het, wil hy weet. Wat baat dit om hoenderhane se koppe af te kap en saam met die struikelende en spuitende kokkedoodledoos in agterplase rond te “boogie” ter rituele uitwissing van politieke vlekke as die kerkhowe besig is om in hulle peetjie te gaan?  Die vermetelheid! Nee, boetman! Ask not what your ancestors can do for you. Ask what you can do for your ancestors! 

“Dit is ‘n skande. Bome tuimel en val op grafte. Grafstene word geskend. Rampokkers sluip laatnag hier rond met skietgoed en messe, vat diep teue aan dagga-zolle en koggel die spoke met sulke smerige sekskapades dat dit selfs die pornograwe onder hulle laat bloos. Hulle raak in die algemeen so astrant en parmantig dat die afgestorwenes nie meer hulle ewige lewens seker is nie.

Die toegangspaaie het so versleg dat mens eitlik net met ‘n vier-by-vier daarop kan ry en die hele kerkhof is  besig om in ‘n death trap te verander. Die wetstoepassers doen hulle bes om die wanpraktyke te bekamp, maar het te doen met slinkse ouentjies wat hulle hit en run tricks  dikwels in die tronke geleer het. Die plek is laatnag afgesonder en afgeleë met baie vinnige skuilplekke wanneer hulle die wetstoepassers met die pad hoor of sien aankom.

Dit word vir my duidelik. Tot dusver was die voorvaders  maar net wederopstandig. Nou begin raak hulle net gewoon opstandig. Hulle  wil spoke opjaag. Ek hoor al hoe die oukêrel sy betoog afsluit met Viva! Lank lewe die dooies! Viva! Hy het ’n punt beet. Ons moes die dooies lewendig hou anders gaan hulle tot niet.

Ek wil nie spoke opjaag nie, maar as ons hier versuim gaan ons sondes die vadere besoek. Tot in die derde en vierde geslag van dié wat hom skaad. Nie van bo af ondertoe nie, maar van onder af boontoe. Die sonde van die nasate besoek al klaar die vadere. Ons druk hulle almeer in ‘n blik. Dit is om van skaam te wees.

In elk geval tot wanneer ons die begraagplase beter begin versorg.

Na alles is dit tog een van die maniere waarop ons wat lewendig is die dooies lewendig kan hou.

Sommige grafte is erg verwaarloos…

“Die ingelegtes onder die klippe moet tog maar net meer teneergedruk voel as wat hulle verdien.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!