Studenteverbly onverkrygbaar

Verblyftekort kan krisis raak by US

Eiendomsagente op Stellenbosch vrees dat ‘n krisis wag op studente wat by die Universiteit Stellenbosch vir die 2024-akademiese jaar ingeskryf en geregistreer het en wat op die gebruik van privaatlosies staat gemaak het, binnekort op straat sal wees weens ‘n ernstige tekort aan verblyfopsies.

Eiendomsagente wat in die verhuring van studente-akkommodasie spesialiseer, is dit eens dat daar ‘n tekort aan privaatverblyf vir studente is.

Hendrik Lemmer van Coetzenburg Eiendomme, wat al etlike jare blyplek vir studente verhuur, meen die tekort kan groot probleme veroorsaak.

“Dit is die eerste keer in baie jare dat ons talle aansoekers moet wegwys omdat daar nie blyplek is nie. En dit is nie net enkele gevalle nie. Tientalle aansoekers moes al die deur gewys word en ons weet nie waar hule gaan blyplek kry nie.

“Eiendomseienaars wil ook nie meer studente wat met NSFAS-finansiering studeer, aanvaar nie, weens die onsekerheid of betalings gemaak sal word. Die pryse wat tans vir woonplekke gevra word, is in elk geval buite daardie NSFAS-begroting,” meen hy.

Willemien Craill van Seeff Eiendomme, vertel dat hulke met dieselfde probleme ewrvaar.

“Ons kry daagliks gemiddeld tussen 15 en 20 navrae van studente wat nou nog verblyf soek. Hier is net niks op die dorp beskikbaar nie. Die vraag is baie groter as die aanbod en dit veroorsaak natuurlik ook dat pryse die hoogte in skiet. ‘n Enkelkamer kan nou al vir tussen R10 000 en R15 000 per maand kos – as jy dit in die hande kan kry. Goedkoper verblyf van ongeveer R7000 is feitlik nie meer beskikbaar nie. En 90% van die studente wil verkieslik naby die kampus bly, veral die wat nog geen eie vervoer het nie. En as studente in die buitewyke bly, ry hulle met hul motors na die kampus – waar daar geen parkering beskikbaar is nie. Dit is ‘n logistieke nagmerrie en maak die druk op die reeds beperkte infrastruktuur op die dorp net nog erger.

“Wat die probleem verder kompliseer is die weiring van eienaars om nie meer NSFAS-betalings as waarborg te aanvaar nie – daar is genoeg ander studente wat direk kan betaal en hulle wil nie die risiko loop dat hulle nie vir die verhurings betaal gaan word nie,“ meen sy.

Linda van Zyl, algemene bestuurder van MySpace, ’n onderneming wat studenteverblyf verskaf, sê 90% van hul akkommodasie word deur studente opgeneem.

“Ons bied 1 tot 4-slaapkamereenhede aan, waarvan die meeste kamers en-suite is. Wi-Fi is ingesluit, asook krag en water. Ons bied ook ‘n gratis pendeldiens, toegang tot die gimnasium, een-maal ’n week skoonmaak dienste, 24-uur sekuriteit en toesighouerkameras. Elke kamer is ook gemeubileer. Ons het 600 beddens op Stellenbosch beskikbaar, wat almal tans gevul is.” Van Zyl het bevestig dat hulle vanjaar heelwat meer aansoeke as in die verlede gekry het.

“Ondanks die feit dat die pryse vir ons kamers wissel van tussen R7 000 en R14 000 per maand het ons ongeveer 2000 aansoeke ontvang, maar kon net 600 inwoners akkommodeer.“

Volgens ‘n woordvoerder van die US het die situasie rondom studente-akommodasie die afgelope twee weke dramaties verander. Die plekke wat oop was, is opgeneem. Al die groot verskaffers wat nog verlede jaar hierdie tyd oop was, is nou vol, met waglyste. Daar word nou noodgedwonge gekyk na blyplekke buite die dorp.

Lemmer het by navraag gesê:”Daar is defnitief ‘n beskikbaarheidskrisis oor verskillende prysklasse, nie net vir studente wat met NFSAS-ondersteuning studeer nie. Sommige studente het nou al aan aangedui dat hulle klaar hier begin het, maar liewer van Maandag af by Potch en ander plekke gaan studeer. Dit was nog nooit so in die 25 jaar wat ek in die bedryf is nie en ons weet regtig nie wat om te doen nie. Daar is ook die kwessie van bekostigbaarheid en teen die tariewe waarteen privaatlosies tans verhuur word, is min studente voorberei op hierdie addisionele uitgawes.“

Intussen  sê die US-woordvoerder dat hulle baie streng riglyne het vir die inname van studente en dat hul inskrywingsbeplanning streng gemonitor word. Die US mag nie meer studente inneem as waarmee met die departement van hoër onderwys ooreengekom is nie, aangesien die departement van daardie studente subsidieer.

“Ons kan net spekuleer oor die rede hoekom studente vanjaar skynbaar meer privaat-losies verkies as in die verlede, maar dit is nie omdat ons 5000 meer studente as in die verlede geregistreer het nie. Inderwaarheid dui syfers daarop dat ons tans minder studente geregistreer het as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

”Die US het nie 5000 meer studente as die vorige jaar ingeneem nie. Ons teikengetal vir 2023 was 5615 nuwe eerstejaarstudente en vir 2024 was dit 5 716 nuwelinge. Om hierdie getalle te kan akkommodeer, sal twee nuwe koushuise met ongeveer 350 beddens in die tweede kwartaal beskikbaar wees.

“Bekostigbaarheid is ‘n werklike probleem en die NSFAS-perk van R45 000 vir behuising het

‘n wesenlike invloed op die beskikbaarheid van akkommodasie in die privaat sektor. Talle van ons sleutelverskaffers het aangedui dat hulle nie meer NSFAS-studente sal kan bystaan nie.”

Baie eiendomseienaars vereis ook nou vooruitbetaalde deposito‘s om te verseker dat studente die NSFAS-tekorte sal kan dek. US-studente wat in hierdie kategorie val, is meestal die sonder akkommodasie en soek die ondergemiddelde blyplekke en kan nie die verwagte tekorte betaal of waarborg nie. Die US het verlede jaar bykans 7 000 privaatbeddens geakkrediteer en vanjaar is daar reeds 4560 gevul. Daar is nou ‘n blyplek in Eersterivier, Solaris Crest, sowat 15 km vanaf Stellenbosch,  gekontrakteer waar ‘n addisionele 130 beddens beskikbaar is. Ouers is egter hieroor bekommerd aangesien dit ver van die kampus is en ook sekere veiligheidsrisiko’s kan inhou.

Volgens Martin Viljoen, US-woordvoerder,  bly verblyf by hoëronderwysinstellings ‘n nasionale uitdaging. Soos met die meeste universiteite, is koshuisplekke beperk en die US werk saam met private verskaffers om geakkrediteerde akkommodasie aan te bied.

“Nagenoeg 75% van alle US-studente pendel of bly in privaat akkommodasie. Privaat-akkommodasie word nie deur die US geadministreer nie. Daar is egter ‘n akkommodasiekantoor wat help met geakkrediteerde privaat akkommodasie.

“Die US ondersteun studente om geskikte akkommodasie te vind en sal voortgaan om met die betrokke entiteite, insluitend die Studenteraad en NSFAS, in gesprek te tree wat betref langtermynoplossings vir geskikte akkommodasie.

“Ons het vanjaar ongeveer 14 000 aansoeke vir US-koshuisruimtes (eerstejaarstudente) ontvang en kan slegs ongeveer 2 000 eerstejaarstudente in US-koshuise op die Stellenbosch-kampus en 280 eerstejaarstudente op die Tygerberg-kampus akkommodeer.  In totaal bied die US nagenoeg 8000 koshuisbeddens en byna 5000 privaat geakkrediteerde beddens vir 2024 aan,“ het Viljoen gesê.

One Reply to “Studenteverbly onverkrygbaar”

  1. If SU provided shuttle services to the outlying suburbs of Stellenbosch then that would provide and make available much more accommodation for the students, especially those without their own transport, those who don’t wish to use private transport due to the lack of parking at SU.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!