Afrikaans is nie 100 jaar oud nie

deur Willem Botha
Afrikaans se honderdste jaar as amptelike landstaal word vanjaar gevier, maar dit beteken nie Afrikaans is ‘n honderd jaar oud nie. Maar hoe oud is Afrikaans dan? Kom ons begin by die begin.
Khoi-Afrikaans 1595 – 1658
Nederlandse skepe het reeds sedert 1590 die Kaapse kus aangedoen en met die inheemse Khoi-Khoin gekommunikeer. Toe die Khoi-Khoin begin het om Hollandse woorde aan te leer, was dit die begin van Afrikaans. Khoi-Afrikaans dateer van 1595 af en die volgende 50 jaar tot by die vestiging van die verversingstasie aan die Kaap was die eerste periode in die geskiedenis van Afrikaans. In 1611 het ʼn Nederlandse ekspedisie die plantnaam kanna by die Khoi-Khoin geleer en in die jare daarna ook boegoe (plant met medisinale nut) en dagga (hasj in Nederlands). In 1647, vyf jaar voor Jan van Riebeeck se koms, het ʼn groep van 62 Nederlanders vir meer as ʼn jaar aan die Kaap oorgebly nadat hulle skip gestrand het. Die Khoi-Khoin se kennis van Nederlands was toe al so goed dat daar reeds tolke onder hulle was (soos Herry (Autoshumato)) wat kommunikasie moontlik gemaak het.
In 1652 het Johan Anthoniszoon (“Jan”) van Riebeeck as 32-jarige Amsterdammer voet aan wal gesit in die Kaap met ongeveer 90 Nederlandse koloniste. Hulle was hoofsaaklik van die provinsie Holland en het dus Hollands gepraat en nie Standaardnederlands nie. Weldra sou hulle kennis maak met Khoi-Afrikaans.
In 1655, drie jaar na Van Riebeeck se koms, het ʼn boot vir drie weke in Saldanabaai gelê. Ene De Flacourt het toe ʼn Khoi-woordelys van 221 woorde saamgestel waarin baie Nederlandse woorde herken kan word, soos kers, kis, knoop, tou en koring. Die woord more (in plaas van morgen) kom daarin voor soos dit vandag in Afrikaans bestaan net soos reen (in plaas van regen). In die lys was ook woorde met ‘n uitspraak wat nog in Kaaps gehoor word, soos wate (water) en vagiet (vergeet). Dit lyk inderdaad na die eerste fase in die geskiedenis van Afrikaans. Dit is nie Nederlands nie, en dit is nie Khoi nie: dit is Khoi-Afrikaans, drie jaar na Van Riebeeck se koms.
Koms van die slawe: 1658 – 1700
Slawe is vanaf 1658 na die Kaap ingevoer; hulle het die tale Maleis en Portugees saamgebring. Dit het veroorsaak dat Afrikaans as ‘n Kreoolse taal ontwikkel het onder die invloed van Nederlands, Khoi, Khoi-Afrikaans en die gesproke taal van die slawe, veral Maleis. Die invloed blyk uit Afrikaanse woorde soos piesang (Maleis), baadjie (Maleis), gogga (Khoi) en baie dankie (uit Nederlands hartelijk dank en Maleis banyak).
Ongeveer 1700, dus sowat 50 jaar na die koms van Jan van Riebeeck, het ‘n eiesoortige Nederlandse dialek aan die Kaap ontstaan, bekend as Kaaps, of Kaaps-Hollands of Krom-Hollands, wat die voorfinale fase in die ontwikkeling van Afrikaans was.
Dr. Botha is die voormalige hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
Bronne
Carstens WAM en Raidt EH: Die storie van Afrikaans Deel 2, 2019
Van Rensburg C: So kry ons Afrikaans, 2012
Van Rensburg C: Van Afrikaans gepraat, 2018

