Jaffie van Louwstraat groet

Jafta Witbooi groet laaste domicilium

Jannie Gagiano

Een van die meer bekende straatmense  van Louwstraat, ou Jaffie Witbooi is verlede Vrydag aan ‘n hartaanval dood. Hy het by Checkers se hoek net inmekaar gesak en die gees gegee.

Louwstraat was vir meer as 15 jaar sy onvaste domicilium. Hier het hy maar onder ou Mattie Viljoen se afdak en onder die takke van die bome in die dominee se agterplaas gelê en koud kry. Deur amper 20 Stellenbosch-winters het hy homself van tyd tot tyd afgespoel in die Eersterivier wat voor Paul Roos verbyloop, veral gedurende die warm somers. Vir vakansies het hy partykeer uitgewyk na sy suster wat op ‘n plaas buite die dorp gebly het. Hy het maar vel en been aanmekaar gehou met los werkies vir die mense van Louwstraat en vir die koffiewinkel op die hoek van Meulstraat.

Ou Jaffie was nogal ‘n haan onder die henne. Altyd ‘n vrou aan sy sy en iemand by wat hom gehelp het om sy kos en sy komberse warm te hou en te help om die bottel leeg te maak.

Sowat drie jaar gelede het een van die meer vaste van sy los vroue in die dominee se agterplaas verkluim. ‘n Paar van die Louwstraat-burgers het toe maar ‘n paar pitte in die pot gegooi, ‘n paar kanne by die Portugees se drankwinkel gaan koop, ‘n pot sop gekook en al die bergies van die Eersterivier-oewergebied genooi om ‘n “wake’ vir die afgestorwene op die dominie se stoep te kom hou. Baie trane en droefheid by die uitsit van die kers, maar ook vreugde toe een van die stoepsitters wat met die helm gebore is kon berig dat hy deur die boom van die bottel kon sien dat ou Jaffie se vrou se skippie mooi om die Kaap se punt geseil het en die regte draai gevat het op die pad boontoe.

Daar was iets van ‘n gentleman in ou Jaffie se doen en late. Mens het hom nooit ‘n woord hoor vloek nie, altyd beleefd in sy omgang met mense en alhoewel nie te geesdrigtig vir werk wanneer die babalas hom in sy kloue het nie, nooit werksku of om sleurwerkie te doen as mens op sy nommer gedruk het nie. As mens hom sou afskil tot op sy kern, is wat sou oorbly ‘n goeie mens.

Die mense van Louwstraat betreur sy heengaan. Mag sy skippie ook mooi om die Kaap se punt seil en die regte draai vat op die pad anderkant toe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!