Die Paarl se rol in ontwikkeling van Afrikaans

Afrikaans se komvandaan 3
Willem Botha

Die rol van die Paarl
Teen 1872 het ‘n paar ontwikkelde persone wat besef het dat Afrikaans ‘n volwaardige taal in eie reg is, ernstig begin pleit vir die erkenning van Afrikaans, onder andere Arnoldus Pannevis, CP Hoogenhout en ds. SJ du Toit. Pannevis en Du Toit was Paarliete, en Hoogenhout het naby Wellington onderwys gegee. Pannevis het ook in 1872 in die Nederlandse koerant De Zuid-Afrikaan gepleit vir Die Bybel in Afrikaans.  Kort hierna het CP Hoogenhout Matteus 28 uit die Hooghollands van die Statenbybel van 1637 na Afrikaans vertaal, maar Die Kerkbode het geweier om dit te publiseer.

In 1874 het ds. SJ du Toit, ‘n oudleerling van Pannevis, in drie artikels op vernuftige wyse die bestaansreg van Afrikaans as selfstandige taal bepleit. Op 7 November 1874 het Pannevis ‘n brief aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Londen geskryf waarin hy gepleit het vir ‘n Bybel in Afrikaans omdat Afrikaanssprekendes dit beter sou verstaan as die Hooghollands van die Nederlandse Statenbybel. Hy het SJ du Toit aanbeveel as vertaler. Hierdie skrywe sou lei tot ‘n reeks gebeure van kardinale belang vir die erkenning van Afrikaans.
Die Genootskap van Regte Afrikaners

Die Bybelgenootskap wou met Du Toit oor die vertaling in gesprek tree, maar Pannevis het aangedui dat hy eers die saak met ‘n paar voorstanders van Afrikaans wil bespreek. Daardie gesprek het op Saterdag 14 Augustus 1875 in Gideon Malherbe se huis in die Paarl plaasgevind, en word beskou as die stigtingsvergadering van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Teenwoordig was SJ du Toit, CP Hoogenhout, Gideon Malherbe, Petrus J Malherbe, DF (later Oom Lokomotief),  DF (Dokter) du Toit, SG du Toit en August Ahrbeck.

Hoeveel invloed kan ag Paarliete uitoefen op die ontwikkeling van ‘n taal? Dit hang alles af van hul geesdrif en deursettingsvermoë en daarvan het hierdie Paarliete baie gehad. Die name van die lede van die GRA is aanvanklik nie bekend gemaak nie, omdat hulle vervolging op sosiale en selfs kerklike terrein gevrees het.

Dr Willem Botha – hy skryf in vyf aflewerings oor die geskiedenis van Afrikaans die afgelope 100 jaar.

Die Patriotwoordeboek

Daar is besluit om die vertaling van die Bybel uit te stel totdat ‘n vaste skryfvorm vir Afrikaans vasgestel is. Voorts is onder andere besluit om ‘n “Afrikaanse woordeboek” die lig te laat sien wat in 1902 as die Patriot-woordeboek verskyn het. Die spelwyse in die woordeboek was ‘n toonbeeld van “ons skryf soos ons praat”. Die letter “v” en die diftong “ei” kom glad nie voor nie: dus fol en hoefeel in plaas van vol en hoeveel en pasty en sky in plaas van pastei en skei. Ook “t” en “s” soos vandag in plaas van die Nederlandse “th” en “sch”: dus tee en bos, in plaas van thee en bosch.

Die Patriotwoordeboek se spelling is egter nie deur die eerste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls van 1917 gehandhaaf nie, nadat daar reeds in 1904 deur die Zuid-Afrikaansche Taalbond besluit is op die vernederlandsing van die Afrikaanse spellingsisteem. Hierdeur is die Afrikaanse spelling van die 1800’s en ook van die Patriotwoordeboek van 1902 grootliks geïgnoreer.

Die Afrikaanse Patriot

Die GRA se doelstellings het spoedig neerslag gevind: Die Afrikaanse Patriot, die eerste Afrikaanse koerant, verskyn op 15 Januarie 1876. Dit was die GRA se eerste taak. Sowel die GRA as hul koerant Die Patriot is aanvanklik bespot, selfs van die kansel af vanwaar in Nederlands gepreek is vir Afrikaanssprekendes. Afrikaans is uitgemaak as ‘n “patois”-taaltjie, ongeskik vir enige intellektuele aktiwiteit. Eenvoudig gestel, is ‘n “Patois” ‘n variant van ‘n taal wat as benede peil beskou word. Die Bybel in hierdie taal was daarom bykans ondenkbaar, maar dit is algemeen bespreek soos in die waarskynlik apokriewe staaltjie oor die Paarlse ouderling wat oortuig was dat “as Nederlands goed genoeg was vir Moses, is dit ook goed genoeg vir my”.

Bronne

Carstens WAM en Raidt EH       Die storie van Afrikaans Deel 2, 2019

Oberholster AG               Paarlvallei 1687 – 1987, 1987

Van Rensburg C              So kry ons Afrikaans, 2012

Van Rensburg C              Van Afrikaans gepraat, 2018

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!