Brood word botanies in Franschhoek
Geïnspireer deur die rykdom van inheemse flora en fynbos op die landgoed, het die La Motte-bakkery ’n nuwe, botanies-geïnspireerde brood bekendgestel.
Dit word gebak met 50% rogmeel en 50% organiese volgraanmeel, met ’n delikate tikkie boegoe, ’n sweempie pienkpeper, ’n bietjie fynbosheuning en die landgoed se ekstra suiwer olyfolie (EVOO).
Die bakkery beveel ’n sagte sny brood met ’n paar repies forel aan, of ’n geroosterde sny met avokado wanneer jy die landgoed vir ontbyt of middagete besoek. Dié besonderse brood het egter weinig meer nodig as ’n ruim smeersel botter en dalk ’n ligte druppeltjie heuning om sy kruie- en speserynote te komplementeer.
Die brood is by die La Motte-bakkery, van Dinsdag tot Sondag vanaf 08:00 beskikbaar.
Die bakkery by La Motte, ‘n dagbesoek werd, vier brood in al sy oorspronklike aantreklikhede met ’n wonderlike daaglikse verskeidenheid varsgebakte lekkernye uit die houtvuur-oond op die perseel. Die brode is beskikbaar om te koop en huis toe te neem en vorm terselfdertyd die basis van die heerlike seisoenale spyskaart.
By die bakkery is daar is intieme sitplek binne en buite, en gaste is welkom om die tuine te verken, met hul eeue-oue eikebome, uitgestrekte grasperke en plaashuis-geïnspireerde speelterrein vir die jongspan.
Benewens die geleentheid om die lowergroen tuine te geniet of ’n ontspanne maaltyd te nuttig, kan gaste ook brood en patisserie koop om huis toe te neem.
Daar is iets besonder verwelkomend, bekend en vertroostend aan die. Die verwelkomende en bekende geur van varsgebakte brood is die hart van die aanbod by die Artisanal Bakery & Garden Café.
Die eienaar van La Motte, Hanneli Rupert-Koegelenberg, en haar familie deel van hul dierbaarste herinneringe aan grootword en leef op die plaas en nooi gaste om die historiese werf en sy sterk gevoel van tuiswees te beleef. Hier kan besoekers die eenvoudige plesier van varsgebroude koffie en ambagsgebak, vars uit die oond, geniet.
Onder die leiding van meesterbakker Markus Färbinger van Knysna se bekende île de pain-kafee, word die oorsponklikheid van brood deurgaans gevier. Die span bakkers bied daagliks ’n verskeidenheid varsgebakte brode uit die houtvuur-oond op die perseel, wat deur Four Grand-Mère in Frankryk ontwerp en vervaardig is.
En wat kan besoekers hier verwag? Gunstelinge soos die klassieke suurdeegbrood en La Motte se gewilde mosbolletjies, asook die crustique – die voorloper van die baguette – die Cederberger, ’n donker, moutagtige rog-suurdeegbrood met speserye, platbrode bedruip met sout en olyfolie, en die The Motte-brood wat spesiaal vir La Motte geskep is, is op die daaglikse spyskaart.
Die spyskaart is seisoenaal en begin met eenvoudige en oorspronklike keuses soos die klassieke Croissant 1837, oestyd-mosbolletjies en ’n sny brood met plaasbotter en rou heuning.
Oop toebroodjies met stewige vulsels, ’n heerlike verskeidenheid somerslaaie en middagete-opsies soos ’n plankie steak voltooi die soutgeregte.
Geïnspireer deur Suid-Afrikaanse gunstelinge en met die delikate aanslag van die fyngebaksjef Marisa Botes, sluit die heerlike verskeidenheid patisserie en soetgoed suurlemoenmeringuetert, melktert en ystervarkies, om maar ’n paar te noem, in.
’n Heerlike verskeidenheid drankies neem jou van koffievergaderings en maaltye tot drankies in die middag. Benewens varsgebroude koffie en ’n keuse van tee, sluit die drankiespyskaart somergunstelinge soos spritzers, vars sappe, frappés, skemerkelkies en natuurlik bekroonde La Motte-wyne teen kelderdeurpryse in.

Die Artisanal Bakery & Garden Café is in die landgoed se Jonkershuis, wat in 1752 gebou is, gevestig. Die elegante Kaaps-Hollandse gebou kombineer nostalgie met iets nuuts en is met moderne glas en staal uitgebrei om sitplek binne en buite te bied.
Die gebou open na die rustigheid van skaduryke tuine, met bekoorlike, oorgroot hout-eikels wat hier en daar versprei is. Oud en jonk word uitgenooi om die tuine met hul eeue-oue eikebome, uitgestrekte grasperke, rustige dam en plaashuis-geïnspireerde speelterrein vir die jongspan te verken.

Benewens die rustige tuine en ’n ontspanne maaltyd, kan gaste brood en patisserie koop om huis toe te neem, deur ’n sorgvuldig saamgestelde verskeidenheid leefstylprodukte en geskenke blaai, of ’n wynproe-ervaring in die Historiese Kelder langsaan geniet.
Die La Motte Artisanal Bakery and Garden Café is van Woensdag tot Sondag oop en bedien ontbyt, brunch, middagete en ’n verskeidenheid aanloklike lekkernye. Die openingstye is van 08:00 tot 16:00. Die kombuis sluit om 15:00, maar gaste is welkom om tot 16:00 middagdrankies te geniet.
Hou ook die aankondigings dop vir saamgestelde brood- en wynproeë en -ervarings wat binnekort bekendgestel sal word.

Sjef Chris Erasmus, die eerste sjef by La Motte toe die Pierneef à La Motte Restaurant in 2010 sy deure geopen het, het tydelik as alumni-sjef na La Motte teruggekeer om te help met die konseptualisering van die ontbyt- en middagete-spyskaart by die La Motte Artisanal Bakery and Garden Café.

