HSS sluit skool en koshuis vir week; klasse gaan aanlyn voort
Die Hoërskool Stellenbosch (HSS) het vanoggend bevestig dat ’n besluit in oorleg met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) geneem is om die skool en koshuis vir ’n week te sluit. Klasse gaan egter aanlyn voortgesit word.
Die besluit is geneem op grond van positiewe Covid-19-gevalle onder leerders, onderwysers, koshuisleerders en -personeel die afgelope twee weke.
Die departement van gesondheid het onlangs die koshuis besoek en het toe aanbeveel dat koshuisleerders isoleer en dat die wat huis toe kan gaan, dit sal doen. Intussen het ’n verdere aantal leerders en van die skool- en koshuispersoneel positief getoets. Daar is tans geen rede tot paniek nie, maar om verantwoordelik en voorkomend op te tree, is daar besluit om die skool en koshuis vir die week vanaf Maandag, 17 Mei tot Vrydag 21 Mei te sluit.
HSS het in ’n skrywe aan ouers die onderneming gegee om so ver moontlik op datum te bly met akademiese verpligtinge. Die skool het in 2020 suksesvol oorgeskakel na aanlyn-onderrig en sal dit redelik gemaklik vir die week kan doen.
“Omdat meer as ’n kwart van die skool se leerders in die koshuis woon – en dus reeds in die koshuis of tuis isoleer – maak dit nie sin om nie voort te gaan met aangesig-tot-aangesig klasse nie, maar vir die week oor te skakel na ’n aanlyn-modus.
“Ons besef die sluit van die skool en koshuis bring frustrasie en moeite mee, maar ons glo dat leerders en ouers begrip het vir die uitdaging wat die pandemie meebring.
“Die skool doen steeds ’n beroep op leerders en hul ouers om in hierdie tyd verantwoordelik op te tree deur fisiese afstand te handhaaf, gesigmaskers te dra en gereeld handreinigers te gebruik,” het Theo Pellissier, die skoolhoof gesê.
Die skoolgebou is steeds oop en die administratiewe en akademiese personeel is steeds op die terrein.
Intussen het Andre Cruywagen, koshuishoof van HSS bekend gemaak dat Marlene Engelbrecht. ‘n lid van die koshuispersoneel ook oorlede is.
“Dit is met groot leedwese dat Hoërskool Stellenbosch en sy koshuis, Huis du Preez, kennis geneem het van die afsterwe van Marlene Engelbrecht van Stellenbosch. Haar afwesigheid laat ‘n groot leemte in die kombuis, die koshuis, en inwoners se harte.
“Marlene werk reeds sedert 2005 in die kombuis van die koshuis waar jare se inwoners haar geken het as ‘die tannie met die vriendelike gesig’ en sy bekend daarvoor was dat sy lekker kon lag. Ons sal haar onthou as iemand wat besonder behulpsaam was. Sy was altyd vriendelik en jy het haar altyd met ’n glimlag gevang. Sy was iemand vir wie die lewe lekker was, dis vir seker.
Reinette Franken, matrone van die koshuis het gesê die vriendelike en sagte Marlene het in 2005 by ons kombuisspan aangesluit. Jare het ons lief en leed gedeel en mekaar ondersteun. Ons gaan die verlies nie net in die werkplek voel nie, maar ook op persoonlike vlak, omdat sy almal se vriendin was. Haar sagtheid en glimlag sal ons altyd bybly.
“Ons dink ook aan Marlene se familie en vriende in hierdie hartseer tyd.”

Ouers van die ouervereniging was ongelooflik om te help met die omstandighede by die skool. Hulle het ingegryp en vir koshuiskinders wat laas week in moes bly, kos voorsien. Hier braai ‘n pa, Ivan Skinner, die hamburgerpatties. 
Kospakkies is by die skool afgelewer om te sorg dat die leerders genoeg van alles het. 
Boodskappe van bemoediging het ingestroom. 
Marlene Engelbrecht





