Covid-19 se derde vlaag is hier – laat jou inent
Daar was die afgelope week ‘n toename van 74% aktiewe gevalle van COVID-19 in die Kaapse Wynland. Groeperings van gevalle is aangemeld in die Witzenberg, Stellenbosch en Langeberg.
Volgens die jongste beraminge beteken tien positiewe gevalle dat minstens nog 14 mense COVID-19 kry. Almal kan COVID-19 kry en almal kan dit versprei, so doen jou deel om jouself en jou geliefdes te beskerm. Wees versigtig selfs wanneer jy met ‘n klein groepie mense kuier. Let na die tyd op of jy simptome soos ‘n hoes, koorsigheid, diarree of ‘n verlies van jou smaak-/reuksintuie het. Kontak dadelik jou gesondheidswerker.
Hoogtepunte soos vaksinering van bekendes het gesondheidswerkers opnuut gemotiveer om senior burgers teen COVID-19 te ent. Van die meer as 80 000 mense in die ouderdomsgroep van 60 en ouer in die Kaapse Wynland, kon personeel tot einde 18 Junie 18 652 mense ent. Dit is die eerste van die twee-dosis entstof.
Huis McCrone Kliniek se personeel het aktrise Annelize van der Ryst Dinsdag ontvang vir haar enting teen koronavirus. Van Der Ryst, bekend vir rolle soos Matrone in 7de Laan, is skertsend daar uit, en het gesê dat Kierietjies (Hilda van 7de Laan) nie geënt sal kan word nie, want sy is so dun dat die naald haar sal deurboor.
Sr. Janine Bosch, assistent-bestuurder van Primêre Gesondheidsdienste in die Paarl-omgewing, het onlangs opgemerk dat ‘n voormalige kollega wat na aan haar hart is, by TC Newman Gemeenskapsdagsentrum aangedoen het vir haar enting. “Dit was só goed om Nana Nkhutsu te sien. Ek was bly en het geërd gevoel dat ons haar kon inent. Só kan ons haar beskerm en terugploeg vir al haar liefde aan ons kinders,” sê Bosch. Nkhutsu het voorheen by Paarl Hospitaal se crèche gewerk.
Entings teen COVID-19 word tans voortgesit.
Teen18 Junie 2021 is 3617 mense van 60 jaar en ouer in Stellenbosch ingeënt. Inentings vind plaas by Van Der Stel Saal (09:00 – 14:00) , Cloetesville Gemeenskapsdagsentrum (09:00 – 14:00), Ida’svallei-Kliniek (09:00 – 14:00), Kayamandi-kliniek (09:00 – 14:00) en Kylemore-kliniek (09:00 – 14:00).
Mense wat teen COVID-19 geënt wil word, moet registreer. Wag vir die SMS wat sal aandui wanneer dit jou beurt is om geënt te word. As jy ‘n twee-dosis entstof ontvang het, keer slegs terug vir jou tweede inenting soos aangedui op jou afspraakkaartjie. Jou eerste en tweede inënting sal 42 dae uitmekaar geskeduleer word.
Jy word geprioritiseer vir inenting wanneer jy opdaag volgens jou inentingsafspraak. Indien daar aan die einde van die dag nog entstowwe beskikbaar is, kan mense wat opdaag sonder dat hulle ‘n afspraak het, miskien gehelp word. Voorkom teleurstelling deur slegs te gaan volgens jou afspraak. Die Wes-Kaap het minder entstowwe ontvang as wat aangevra is. Spanne op grondvlak bestuur die voorraad deur te fokus op mense wie opdaag vir afsprake.
Indien jy geregistreer het en wag vir jou afspraak-SMS, óf indien jou afspraak aangedui is by ‘n fasiliteite buite jou onmiddellike omgewing, bel 0860 142 142 bel. Jy kan ook ‘n e-pos stuur na service@westerncape.gov.za.
Registreer só: Stuur die woord ‘REGISTER’ na 0600 123 456 op WhatsApp of skakel *134*832#. Vir hulp om te registreer, skakel 0860 142 142 of besoek www.westerncape.gov.za. Inwoners van die Breedevallei, Langeberg, Stellenbosch en Drakenstein kan hul naaste biblioteek besoek om van die geriewe gebruik te maak om via www.westerncape.gov.za te registreer.
Het jy geweet?
- Meer as 70% van gesondheidswerkers is in die Kaapse Wynland is teen COVID-19 geënt
- In die week van 14 Junie het slegs twee gesondheidswerkers van hier aktiewe COVID-19
- 115 gesondheidswerkers van hier is opgelei as COVID-19 vaksineerders
- Elke vaksineerder kan tot 50 vaksinerings doen per dag, afhangend van die beskikbaarheid van entstowwe.
- Vaksinering teen COVID-19 is een manier om jou risiko vir COVID-19 te beperk. Almal (ongeag of jy gevaksineer is of nie) moet maskers dra, groot groepe mense vermy en ‘n veilige afstand van mekaar hou.
Stellenbosch het teen 17 Junie 2021 7 257 Covid-gevalle gehad.


