Bloemhoffers blink uit
Vier leerders van die Hoër Meisieskool Bloemhof pryk vanjaar onder die top 10-deelnemers in die senior afdeling van die nasionale Taalbondeksamen.
Mia Ham (gr.12) het leerders van regoor Suid-Afrika uitgestof om ’n eerste plek in hierdie tweetaligheidseksamen te verower. Kort op haar hakke, in die derde posisie, is haar klasmaat Elsa-Marié van der Watt, gevolg deur Kyanti Greyling (gr.11) in die vierde plek en Ghite Scholtz (ook gr.11) in die agtste posisie.
Die SA Taalbond bied sedert 1953 jaarliks ’n tweetaligheidseksamen vir hoërskoolleerders aan sodat leerders hul tweetaligheid kan bepaal en ’n sertifikaat kan verwerf om hierdie vaardigheid aan te dui. Al is Afrikaans die HMS Bloemhof se medium van onderrig, bied die skool Engels as huis- en eerste addisionele taal aan met matrikulante wat jaarliks in dié vakke puik presteer.
Die Taalbondeksamen bestaan uit ’n vraestel in Engels en een in Afrikaans en word vir juniors (gr.8-10) en seniors (gr.11-12) opgestel.
Mia stap vanjaar nie net met die louere weg nie, maar palm ook ’n studiebeurs van die Universiteit Stellenbosch in.
Anaïs Herman, ’n gr.12-leerder, het vanjaar ’n derde plek in die nasionale English Olympiad se afdeling vir eerste addisionele taal-sprekers verower. Behalwe vir ’n kontantprys, raap sy ook ’n studiebeurs op.
Sy het ook vanjaar vir die olimpiade in rekenaartoepassingstegnologie (RTT) ingeskryf en tot die finaal deurgedring.

Anaïs Herman


