Covid-19-inentings kom na US-kampus

Universiteit Stellenbosch open COVID-19-inentingsterrein

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal op Dinsdag 10 Augustus ’n inentingsterrein open vir sy personeellede en lede van die publiek wat op die amptelike Suid-Afrikaanse COVID-19-inentingsportaal geregistreer is.

Deur toegang tot inentings vir Universiteitspersoneel en die groter Stellenbosse gemeenskap uit te brei, sal die US-terrein na verwagting die druk op hospitale en klinieke in die omgewing verlig.

“Entstowwe is veilig en red lewens. Ek moedig almal aan wat vir die inenting in aanmerking kom, om dit te kry – ek het myne ontvang,” sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US.

Die inentingsterrein, wat in die maklik toeganklike Lentelusklubhuis by die Universiteit se sokkerkompleks in Hammanshandweg, Stellenbosch, geleë sal wees, sal ooreenkomstig die riglyne van die nasionale inentingsprogram en in samewerking met Stellenbosch-hospitaal, ’n amptelike inentingsentrum, bedryf word.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, sê die inentingsterrein is die gevolg van volgehoue pogings deur die US se Kampusgesondheidsdiens en ander rolspelers by die Universiteit om toegang tot inentings te bevorder.

“Hoewel ons eksterne opsies verwelkom, is ons bly dat ons nou ook hierdie interne terrein vir ons personeellede en hulle familielede sal hê. Dit sal boonop ander opvoedkundige instellings en die plaaslike gemeenskap baat, sowel as ons jonger personeellede en studente sodra hulle vir inenting kan registreer.”

Die US-inentingsterrein sal sy program met die Pfizer-entstof afskop en geskikte individue – tans diegene bo 35-jarige ouderdom – sal sowel hulle eerste as tweede dosisse by die terrein kan ontvang.

Entstowwe sal via die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid toegeken word na gelang van beskikbaarheid, en diegene wat die entstowwe sal toedien, sal as deel van die nasionale program vir dié doel opleiding ontvang.

Dr Pierre Viviers, Senior Direkteur van die US se Kampusgesondheidsdiens, sê “Ons doel is om met ten minste 50 inentings per dag te begin. As ons 400 per dag kan haal, sal dit fantasties wees.”

Viviers moedig almal aan wat die inenting kan kry, om van die terrein gebruik te maak: “Ons weet entstowwe werk om die koronavirussiekte en die komplikasies daarvan, veral sterfte, teen te werk. Dit is die vinnigste manier om gemeenskapsimmuniteit te bereik sodat ons die verspreiding van die virus kan stuit en die ramp wat dit veroorsaak het, kan begin omkeer.”

Prof Wim de Villiers, US-rektor, saam met Jess Davies, ʼn mediese student in haar vierde jaar wat hom teen COVID-19 ingeënt het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!