Mossie kry borg

Man van  moord aangekla – uit op borg van R5000-00

Johan “Mossie” Serdyn, die Stellenbosse sakeman wat daarvan aangekla word dat hy ‘n man met voorbedagte rade doodgeskiet en vermoor het, is gister op borg van R5 000-00 vrygelaat nadat hy in die Stellenbosse landdroshof verskyn het. Serdyn is Vrydag in hegtenis geneem en moes die naweek in die tronk deurbring.

Serdyn het na bewering ‘n inbreker by sy sake-onderneming in Plankenburgstraat doodgeskiet. Daar is die afgelope ruk telkemale by die onderneming ingebreek en ‘n gat is ook in die ringmuur gekap. Die onderneming is naby aan Kayamandi geleë. Sakemense in die omgewing het gesê hulle meld nie eers meer inbrake by die plaaslike polisie aan nie aangesien niks daaraan gedoen word nie.

Na wat berig word het die alarm in in Serdyn se besigheid Vrydagoggend omstreems 02:00 afgegaan en het hy gaan ondersoek instel. Hy het na bewering eers ‘n waarskuwingskoot afgevuur. Die verdagte rower is in die kop getref en is op die toneel dood. ‘n Veiligheidswag wat in die omgewing diens gedoen het, is na wat verneem word die enigste ander getuie van die voorval en het in die hof beskryf hoe hy gesien het Serdyn die man skiet.

Die staatsaankaler, Lucille Daniels, het in die saak gesê omdat dit ‘n bylae 6-misdryf is, moet Serdyn aan die hof bewys hoekom hy op borg vrygelaat moet word. Reuben Liddell, Serdyn se regsverteenwoordiger, het aangvoer dat Serdyn al 37 jaar in Die Boord bly, ongetroud is en sy eie onderneming bedryf. Hy het ook nie kinders nie en is daarom nie ‘n vlugrisiko nie. Hy is ook ‘n bekende sakeman op Stellenbosch en gewilde sportman wat gereeld aan die Bergrivier-kanomarathon deelneem. Hy het ook al verskeie Comrades-wedlope voltooi. Hy het geen vorige veroordelings of hangende sake teen hom nie.

Die saak is tot 27 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel.

Johan “Mossie” Serdyn (links) en sy susterskind Ricus Serdyn buite die landdroshof op Stellnbsoch nadat hy opborgtog van R5000-00 vrygelaat is. Foto: Francois Lombard

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!