PRG-atlete, tennisspelers is tops

PRG-atlete presteer in Mosselbaai

Paul Roos-atlete het Saterdag 18 September 2021 deelgeneem aan ‘n Worpe-byeenkoms gereël deur Eden Athlete-bestuursdienste en aangebied by die Van Riebeek-sportterrein in Mosselbaai.

Die span het bestaan uit Zak Hickman, Reinhardt Nel, Ruan de Weerdt, Nathan Sander en Joshua Acker met Riel Pienaar wat opgetree het as spanbestuurder en beampte.

Ten spyte van die feit dat dit die eerste formele byeenkoms van die seisoen was, het die atlete goed vertoon. Drie atlete, Zak Hickman (goud spiesgooi o.15), Ruan de Weerdt (silwer gewigstoot o.15) en Joshua Acker (silwer diskus o.17) het podiumplekke behaal met Zak wat ook ‘n byeenkomsrekord verbeter het.

Ruan en Joshua het albei meer as 800 punte ingesamel met hulle pogings en het gewys hoekom hulle reeds vroeër die jaar by die ASA-kampioenskappe Boland verteenwoordig het.

Tennisspan wen provinsiale toernooi

Die Paul Roos o.16 A-tennisspan was die naweek onoorwonne by die provinsiale afdeling van die PNB Rising Stars-tennistoernooi wat deur Tennis Suid-Afrika (TSA) aangebied is. Die span is as die  algehele wenners van die Wes-Kaapse provinsiale afdeling gekroon.

Die toernooi is ‘n nuwe toernooi op die jaarlikse kalender en ‘n poging van TSA om die beste o.16-seuns en -dogters in die land te vind. Elke span bestaan slegs uit 4 spelers wat 2 enkelspelle en 1 dubbelspel moet speel.

Die Paul Roosspan het die sterk span van HJS Paarl in die finaal met 2-1 gewen.

Die Paul Roosers het bestaan uit Leonardo Sola, Willem de Waal, Jake Downie en Echard de Kock. Leonardo en Willem het enkels gespeel, terwyl Jake en Echard in die dubbelspel in aksie was. Hulle het al hul wedstryde oortuigend gewen en hul uitslae was soos volg:

PRG klop Bredasdorp: 3 – 0

PRG klop Drie Ankerbaai: 3 – 0

PRG klop Outeniqua B: 3 – 0

PRG klop HS Bellville: 3 – 0

PRG klop HJS Paarl: 2 – 1 (Finaal)

Die oorwinning in die provinsiale afdeling neem die Paul Roosspan na die nasionale finaal in Pretoria in Oktober waar die span teen die ander provinsiale wenners sal deelneem.

Op die foto is die Paul Roos o.16-wenspan met hul medaljes en trofee: Swannie Swanepoel (afrigter), Willem de Waal, Jake Downie, Echard de Kock en Leonardo Sola.

Die PRG-atlete is van links na regs: Reinhardt Nel, Zak Hickman, Joshua Acker, Ruan de Weerdt en Nathan Sander.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!