Dagbreek vier 100 jaar met straatmyl

Dagbreek straatmyl weer gevier

Jerry Motsau kom vanjaar sy titel by die 11de Dagbreek-straatmyl op Woensdag 13 Oktober verdedig.

Hy sal slegs die tweede atleet wees om sy titel te verdedig – die vorige was die huidige SA-mylrekordhouer, Johan Cronje wat dit in 2015/2016 gewen het.

Jerry het onlangs in Italië die SA-rRekord in die 3000m verbeter met ‘n tyd van 7:40.99. Hy spog ook met die vinnigste 1500m tyd vir die jaar (3:38.67) wat hy in België gehardloop het.

Die aanslag uit die noorde word aangevul met Jerry se oefenmaat, Luan Munnik, en sy broer James. Luan het ‘n paar goeie wedlope in Europa gehad en is tans nr 2 in die 1500m. Hy spog met ‘n beste straatmyltyd van 3:52.1. James het onlangs ‘n beste tyd van 3:46.29 in die 1500m gehardloop. Hulle word afgerig deur die SA-myllegende, Jean Verster. Jean was spanbestuurder van die SA-atletiekspan by die Olimpiese Spele in Tokyo vanjaar.

Die manskoshuis Dagbreek vier vanjaar sy  Eeufees. Die jaarlikse straatmyl is een van die hoogtepunte op die feesprogram.

Met die effense verligting van Covid-regulasies is die Straatmyl een van die eerste geleenthede vir atlete om bene te rek en weer te kompeteer. Die Straatmyl word aangebied in die boomryke Victoriastraat in Stellenbosch – seker een van die mooiste roetes in die land.

Die Straatmyl is weer deel van die US Toyota Woordfees. Die Woordfees word vanjaar van 1 – 7 Oktober op kanaal DSTV 150 aangebied.

Daar word 7 wedlope aangebied met 13 afdelings – seuns e dogters o.13, o.15 en o.19. ‘n wedloop vir meesters, ‘n pretloop vir studente en ope-afdelings vir ernstige atlete is ook op die program. Die enigste skaatsplank-myl in Suid-Afrika word ook weer aangebied. Skaatsplank is vanjaar die eerste keer as sport by die Olimpiese Spele in Tokyo aangebied.

Registrasie open 16:00 voor Dagbreek en die eerste wedloop begin om 17:30. ‘n Platejoggie sal musiek vir ‘n feestelike atmosfeer verskaf en daar sal vermaak verskaf word deur Eagen Feb as die sanger Michael Jackson. Hy was ‘n finalis in “Maak my Famous” en SA Got Talent.

Alle Covid-regulasies sal gevolg word en toeskouers word versoek om maskers te dra. ‘n Sanitasiestasies sal beskikbaar wees

Die Dagbreek-straatmyl word aangebied te ere van oud-Dagbreker, De Villiers Lamprecht, wat die eerste Suid-Afrikaner was om ‘n droommyl te hardloop  – op 13 November 1964 op Coetzenburg. Vir enige navrae kontak Francois @ 0833685948 of info@straatmyl.co.za

Jerry Motsau (links) kom vanjaar sy titel by die 11de Dagbreek-straatmyl op Woensdag 13 Oktober verdedig.
Johan Cronje kon reeds een maal sy straatmyltitel verdedig.
Atlete kan vir verskillende afdelings inskryf – alles ter viering van Dagbreekse 100ste bestaansjaar.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!