PRG vier 155 jaar met kuns

“See and Be Seen” kunsuitstalling en veiling by PRG

Paul Roos Gimnasium en Investec bied van 19 tot 30 Oktober die “See and Be Seen”-kunsuitstalling en -veiling aan. Dit is  ’n fondsinsamelingsprojek ter viering van die skool se 155ste bestaansjaar, veral belangrik in die lig van die onstuimige tye waarin ons verkeer. Fondse wat ingesamel word, is ten bate van die Borg ‘n Paul Rooser-inisiatief, wat finansiële verligting bied aan gesinne in die Paul Roos-skoolgemeenskap wat gebuk gaan onder finansiële druk.

Deon Meyer en Frank Kilbourn sal tydens die openings- en veilingsgeleenthede van die besonderse projek met besoekers gesels.

Meyer is ‘n huishoudelike naam nie net in Suid -Afrika nie, maar wêreldwyd en met boeke wat in 27 tale vertaal is, het hy ‘n naam gemaak as ’n misdaadfiksie- en draaiboekskrywer wêreldwyd. Onlangs is wyd berig oor die ridderskap wat hy van die Franse regering vir sy skryfwerk ontvang het.

Deon Meyer sal in gesprek wees tydens die opening van die “See and Be Seen”-kunsuitstalling op Dinsdag, 19 Oktober vanaf 10:00 tot 12:00.

Frank Kilbourn is ‘n gerespekteerde sake-entrepreneur wie se liefde vir kuns ooreenstem met sy merkwaardige filantropie. Frank is in 2016 aangestel as voorsitter van Strauss & Co. Die private kunsversameling van Frank en Lizelle Kilbourn met meer as 1300 individuele kunswerke, is ‘n bewys van hul passie om die geskiedenis van Suid -Afrikaanse kuns te versamel en te dokumenteer.

Kilbourn sal insigte oor die versameling en belegging in kuns deel op die “See and Be Seen” -veiling wat op Woensdag 20 Oktober tussen 17:30 en 19:30 aangebied word.

Albei geleenthede word aangebied in die nuwe binnenshuise krieketsentrum op die kampus. ‘n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar vir beide geleenthede teen R250 elk, insluitend verversings en vermaak deur Paul Roos-leerders.

Sowel Deon as Frank beklemtoon die belangrikheid van die “See and Be Seen”-inisiatief om belangstelling in die skeppende kunste op te bou, terwyl hulle ook jong leerders ondersteun om ‘n goeie opvoeding te behaal.

Deon sê: “Ek neem deel omdat dit ‘n voorreg is om my gemeenskap, Paul Roos en die kunste op hierdie manier te ondersteun.”

Frank stem saam: “Kuns verryk nie net mense se lewens nie, dit laat ook kreatiwiteit by mense los wat ons in staat stel om beter oplossings te vind vir die uitdagings van ons tyd.”

Die “See and Been”-kunsuitstalling word vanaf 19 tot 30 Oktober op weeksdae tussen 10:00 – 14:30 en Saterdae tussen 10:00 – 13:00 aangebied en is oop vir die publiek. Toegang is gratis.

Deon Meyer gaan tydens die kunsuitstalling optree.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!