Hier word skryfbeiteltjies geslyp
Die Stellenbosch Universiteit was oor die jare heen die kweekplek van Afrikaanse digters. In die vorige eeu het die digter, DJ Opperman, as professor die Letterkundige Laboratorium bestuur waar hy jong digters geslyp het. Wie almal aan sy voete gesit het, kan ek nie met sekerheid sê nie. Ek weet egter van Fanie Olivier, Joan Hambidge, Lina Spies, Pieter Fourie en Charles Fryer, maar daar moet nog baie meer wees.
In die jongste tyd het baie van die nuwe digters in Afrikaans onder die Eike hul skryfbeiteltjies geslyp.
Deesdae spring digbundels soos paddastoele op – dis amper of elke Jan Rap en sy maat deesdae dig.
“Oor vandag se poësie se vriend Luns
dis waaragtig nie altyd woordkuns
ek kry soms die gevoel
woordvernuf is die doel
dit mag slim wees maar slim is nie kuns”
Die limeriek is egter ’n ander storie. Dit het ’n vaste vorm waarvan nie afgewyk mag word nie.
Die limeriek is ’n tipiese voorbeeld van speelse digkuns. Dit gee dus nie voor om hoogstaande te wees nie en en puriste sal dit as minderwaardige digkuns beskou.
Die limmeriek is vol aardse humor, baldadigheid, gevatheid en woordspeling. Daar bestaan natuurlik baie limerieke wat aan die stout of skurwe kant is en sommiges is selfs gewaagd en onfatsoenlik om die minste te sê.
Behalwe vir sy speelsheid en baldadigheid verleen hierdie tipe vers hom uitstekend tot sosiale en ander kommentaar en sal met sy vyf reëls soms meer trefkrag hê as ’n lang relaas oor die onderwerp.
Ek mag seker met my man, Johan de Kock se kalwers ploeg? As afgetrede Soöloog het hy onder andere met die skryf van limerieke hom besig gehou. In 2009 het hy dit self uitgegee om later as geskenke vir familie en nabyvriende te skenk. Die bekende spotprenttekenaar, Fred Mouton se illustrasies was soos altyd in die kol.
Hy is die eerste een om te erken dat dit nou nie grootkuns is nie:
“Hier is geen literêre aanspraak nie
dit is versies bloot vir die vermaak
vind jy dit nie klugtig
of te liggewigtig
los maar uit dis geen ernstige saak”
Dis vanselfsprekend dat Johan, wat nou vir die afgelope vyf-en-sewentig jaar hier op Stellenbosch woon en wat vir byna sewe-en dertig jaar aan die universiteit klasgegee het, oor die studente en hul mannewales sou skryf:
“’n Jongman met hoë ambisie
is Matieland toe vir admissie
maar met al sy gevryery
is die kursus verby
en aanvaar hy toe maar demissie
Vol geesdrif is Sampie van Stormsvlei
Matieland toe om ’n graad te kry
maar met mooi meisies volop
en party boonop loskop
het hy hom skoon uit sy graad gevry
In Stellenbosch histories van faam
is ’n plein dubbelsinnig van naam
baie Maties het al
by die kroeg uitgeval
en die plein se naam prakties beaam*
Die verveligste prof werklikwaar
so het almal sy lesings ervaar
nou word goedig gespot
in sy klas slaap die lot
mans en meisies sowaar deurmekaar”
Die afgelope paar weke het almal besef hierdie woorde van Johan bly universeel waar:
“Met verkiessing net om die draai
is ou Piet Politiek aan lawaai
hy belowe al weer
nes die vorige keer
maar ons ken ou jakkals se laai”
*Die Braak, historiese gedenkwaardigheid in Stellenbosch se middedorp
. Cornelia de Kock

