Groep vriendinne wen WAT se Borg ’n Woord-Sanlamprys
’n Groep vriendinne van Menlopark is as die 2026-wenners van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ’n Woord-Sanlamprys van R25 000 aangewys ná ’n gelukkige trekking.
Die trekking is onlangs behartig deur die voorsitter van die WAT Trust, Johan Holtzhausen, en dr. Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT.
Die vriendinne ken mekaar al byna 18 jaar, sedert hul kinders saam in gr.R by Laerskool Menlopark was. “Ons het saam ’n lang pad as Menlopark-mammas deur die laer- en hoërskool gestap,” vertel Lana Kotzé. “Met Eleanor se 60ste verjaarsdag wou ons iets spesiaal gee, maar op ons ouderdom raak dit al hoe moeiliker om ’n oorspronklike geskenk te kry.”
Lana het toe onthou hoe Esthe Pretorius en Michelle Burger die woord “kant” vir die Springbok-speler Bongi Mbonambi geborg het. Die vriendinne het besluit om die woord “taalkundige” vir Eleanor Cornelius te koop. “Ons het gevoel dit sal vir iemand wat haar lewe aan tale gewy het, besonders wees om te weet ’n woord behoort aan haar,” sê Lana. Op die vraag waarom juis dié woord, antwoord sy: “Vir 18 jaar sorg sy al dat ons ons Afrikaans suiwer praat – selfs ná ’n paar glase wyn.”

Die WAT se Borg ’n Woord-projek bestaan sedert 2010 en dien nie net as ’n belangrike fondsinsamelingsinisiatief nie, maar bevorder ook bewustheid oor die waarde, omvang en kleurrykheid van Afrikaans.
Almal wat woorde borg of koop, kom in aanmerking vir die jaarlikse Borg ’n Woord-Sanlamprys van R25 000. Volgens Louw is die langdurige vennootskap met Sanlam van groot waarde: “Dit is ’n voorreg om Sanlam as getroue ankerdonateur te hê. Hul bydraes speel ’n sleutelrol in die tienjaarplan om die WAT teen die einde van die dekade tot by Z te voltooi.”
Woorde kan teen R100 elk geborg word, wat ’n sertifikaat en ses maande se toegang tot die Aanlyn WAT insluit. Woorde kan ook eksklusief teen R5 000 gekoop word, wat beteken dat niemand anders dit kan borg of koop nie. Hierdie skenkings kwalifiseer ook vir ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat.
Besoek www.wat.co.za en klik op “Borg ’n Woord” indien jy ’n woord wil borg of koop.

