Misdaad in Stellenbosch snags ‘n slaggat

Stellenbosser bewusteloos in badkamer aangetref

AfriForum Jeug help Maties met praktiese veiligheidsopleiding

Te midde van pogings om Stellenbosch ‘n veiliger plek vir almal, die duisende studente inkluis, te maak, blyk dit dat veral die middedorp met sy talle kuierplekke, steeds ‘n gevaarlike plek is om laataand rond te beweeg.

Dit is veral saans en oor naweke wanneer kuierplekke stampvol is en talle Stellenbossers die naglewe, kuierplekke en talle restaurante se aanbiedinge wil geniet, dat ‘n mens agterkom dat alles nie pluis is nie.

Gesprekke op Whatsapp-veiligheidsgroepe klink gereeld soos hierdie paar voorbeelde:

”Daar is twee mans besig om by ‘n motor by XYZ in te breek….“

“Daar is ‘n hele klomp leeglêers en trollie-mense in Birdstraat wat mense pla…“

“Ons het hulp nodig by…kliënte slaan teen die vensters om in te kom…“

“Hierdie mense het iemand in die badkamer van….aangeval, stuur aseblief hulp…“

“Hier is vanaand ’n hele klomp potensiële sakkerollers in die dorp, hulle drentel rond in Birdstraat, Du Toitstraat en die parkeerarea by XYZ, en die taxistaanplek…“

“Hierdie pa neem sy seun na kroeë met vals identiteitsdokumente…“

”Stuur ’n ambulans na XYZ asb, persoon is bewusteloos…”

“Twee individue het pas iets by XYZ gesteel. die een dra ‘n driekleur-rugbytrui, die ander het  ’n swart pet en gestreepte wit hemp aan…”

“Hier is ‘n groepie mans wat studente dreig en vir geld vra, stuur asseblief ondersteuning…“

“Hierdie man met die blou baadjie het ‘n kliënt se baadjie met sy motorsleutels by XYZ gesteel….“

“Hierdie persoon het ‘n klein bruin sakkie by XAZ gesteel…”

“Bekende hawelose man is aangerand en lê by die ingang van FNB, die ambulans het nog steeds nie opgegaag nie…“

“n Kliënt is aangerand, stuur asb ’n ambulans…”

“Minderjarige kinders hier by ons probeer die toegangsperoneel omkoop vir toegang…” ‚

En so kan ‘n mens aangaan. In die meeste gevalle word beeldmatriaal van geslotebaan-televisiekameras sam met die boodskappe uitgestuur om optrede deur veiligheidspersoneel te vergemaklik.

Tydens ‘n ernstiger voorval Saterdagaand by ‘n bekende kuierplek in Dorpstraat is ‘n jong vroulike  student na bewering met ‘n dwelmmiddel bedwelm. Haar vriendin het agtergekom dat sy nie meer by haar is nie en het haar gaan soek. Sy is bewusteloos in die kuierplek se badkamer gekry. Die meisie is deur veiligheidspersoneel bygestaan en met ‘n Uber vir behandeling na ‘n plaaslike hospitaal geneem waar sy die nag deurgebring het.

By die hospitaal is haar urine positief getoets vir kalmeermiddels. Dit is vir haar gesê dat dit daardie kalmeermiddels was wat haar haar bewussein laat verloor het.

Die spesifieke kuierplek (die naam is aan stellenboschmonitor.com bekend) was die enigste plek waar die kinders daardie aand gekuier het en dit is dus duidelik dat die voorval daar plaasgevind het.

“‘n Ander lid van die vriendegroepie het vroeër die aand twee afsonderlike voorvalle waargeneem waartydens jong meisies uit die klub gedra is,“ het ‘n ouer van een van die kinders vertel.

“Ons het die klub se eienaar versoek om van die beeldmateriaal wat in die klub opgeneem is,  beskikbaar te stel sodat ons die moontlike skuldiges kan identifiseer. Hy het daartoe ingestem, maar tot dusver het ons niks ontvang nie. Dit is egter jammer dat die betrokke meisie se ouers nie ‘n klag by die polisie wil indien nie, uit vrees vir onnodige blootstelling vir die jong meisie.“

Intussen het AfriForum Jeug die afgelope week ’n Veiligheid 101-werksessie by die Kruiskerk aangebied om studente van die Universiteit Stellenbosch toe te rus met praktiese kennis en vaardighede om hulself beter op en om die kampus te beskerm. Die sessie is in samewerking met AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid aangebied, asook die organisasie sonder winsbejag Stop Trafficking of People en Helpende Hand se Wes-Kaap-tak.

Die veiligheidswerksessie het gefokus op algehele veiligheid, omgewingsbewustheid en die werklikheid van mensehandel in Suid-Afrika. Hierop het ’n praktiese opleidingsessie gevolg waar studente geleer is hoe om hulself uit gevaarlike situasies te kry. Dit het tegnieke ingesluit oor hoe om aan ’n kaping te ontsnap, asook hoe om op te tree in situasies waar wapens, soos messe, betrokke is. Die fokus was op vinnige denke, selfvertroue en basiese, maar effektiewe beginsels met betrekking tot selfverdediging.

“Veiligheid begin by die individu. Studente moet leer om hul omgewing te evalueer, gevaar betyds te identifiseer en die selfvertroue te hê om op te tree wanneer iets nie reg voel nie,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug.

Sy voeg by dat hierdie soort inisiatiewe noodsaaklik is in die huidige Suid-Afrikaanse konteks. “Ons sien hoe studente toenemend blootgestel word aan misdaad soos kapings, roof en selfs mensehandel. Hierdie tipe opleiding bied nie net broodnodige kennis aan jongmense nie, maar bemagtig hulle ook om proaktief op te tree en hul eie veiligheid ernstig op te neem.”

Die werksessie het ook klem gelê op die belangrikheid van samewerking tussen organisasies, ondernemings en die gemeenskap om volhoubare oplossings vir veiligheid te bied. Studente is aangemoedig om nie net op gevestigde strukture staat te maak nie, maar om self deel van die oplossing te word deur waaksaam en verantwoordelik op te tree.

AfriForum Jeug se Maties-tak beoog om hierdie Veiligheid 101-werksessies op ’n gereelde basis aan te bied as deel van die organisasie se breër fokus op studenteveiligheid en gemeenskaps-bemagtiging.

“Wanneer studente toegerus is met die regte kennis en vaardighede, skep ons nie net veiliger kampusse nie, maar ook sterker, meer weerbare gemeenskappe,” het Gerber gesê.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!