Kinderkookboek is haar hart op papier

Gewilde kook-skrywer kook nou vir kinders

Marinda Engelbrecht is nie net ‘n bekende gesig op TV nie, sy het so pas haar derde kookboek die lig laat sien. Van kinderteater tot aanbieder en beoordeelaar, staan Marinda se teenwoordigheid in die kosbedryf kop en skouers uit. Sy is die aanbieder van “Maklik met Marinda” en mede-aanbieder van “Laat die potte prut” op VIA DStv-kanaal 147.

Haar eerste kookboek “Maklik met Marinda” is nie meer in druk nie, maar “Marinda se Koskas” is nog vars en beskikbaar. Heerlike jap-trap resepte met dit wat jy in die koskas het.

Met haar nuutste kookboek span sy haar liefde vir onderwys, kinders en kook in om kinders speel-speel te leer. Wetenskap, wiskunde, kreatiwiteit en lees met begrip word aangeraak en toegepas in die kombuis met “Chef Sout en Prof Pretzel”. Marinda sê alhoewel geskik vir die ouderdom van vier tot 14, kook haar twee-jarige kleinkind saam.

“Studente en volwassenes koop ook die boek, hulle sê resepte is so lekker en maklik,” sê Marinda.

Leer met Marinda se kookboek

“ … om hulle daaraan bloot te stel sonder dat hulle dit eintlik besef. Sny ‘n broodtjie in kwarte, hoeveel milligram en gram. ‘n vaste stof word ‘n vloeistof …” – Marinda –

Waarom ‘n kinderkookboek

“Daar was lank laas ‘n Suid Afrikaanse, Afrikaanse kinderkookboek op die mark,” gesels Marinda. Sy het hierdie boek geskryf as ‘n  Ma, Ouma en opvoedkundige. Vir haar is hierdie kookboek ‘n stukkie van haar hart op papier. Marinda beklemtoon dat sy baie lief is vir kinders, en graag ‘n liefde vir kos en kook by kinders wil kweek.

“Met hierdie kookboek word die kombuis ‘n gelyke speelveld vir selfs gestremde, aandag afleibare en skaam kinders. Kombuis bou selfvertroue. Kinders eet nie graag wortels nie, maar sal die wortelslaai eet wanneer hy dit self gemaak het,” vertel Marinda.

Net so bekend soos haar kleurryke kookvernuf, is Marinda ook bekend vir haar kleurryke brilrame. Sy is ‘n trotse ambassadeur vir Spectacle World en vertel hoe opgewonde sy raak wanneer sy ‘n nuwe raam kies.

Tans is Marinda besig met ‘n boekbekendstellingstoer. Beide Marinda se kookboeke is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels en aanlyn by TAKEALOT en LOOT. Die kinderkookboek kan ook tydens die boekbekendstellings gekoop word.

Annette Havenga

Marinda Engelbrecht se nuwe kookboek vir kinders is die ideale Kersgeskenk.

Kook met en vir kinders is altyd pret, meen Marinda Engelbrecht.

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!