Daniels maak wynkunde geskiedenis

Niks stuit sy drome

Wanneer Andries Daniels vandeesweek sy doktorsgraad in die fakulteit agriWetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang, sal hy die eerste swart Suid-Afrikaanse man word om ‘n PhD in wingerdkunde te verwerf. Sodoende sal dié boorling van Kimberley met ‘n oog vir ‘n goeie rosyntjiedruif twee weke na sy 40ste verjaarsdag ook een van sy lewensdrome bewaarheid: om as dr. Daniels bekend te kan staan.

Daniels is sedert die verwerwing van sy eerste graad – ‘n BScAgric in wingerd- en wynkunde in 2005 – reeds aan die Landbounavorsingsraad (LNR) Infruitec-Nietvooorbij op Stellenbosch verbonde. In 2006 het hy as ‘n navorsingstegnikus daar by die destydse teel- en evaluasie-afdeling ingeval.

Deesdae woon hy in die Strand, en is hy ‘n navorser op tafel-, droog- en wyndruiwe in die LNR se gewasontwikkelingsafdeling.

Tussendeur sy pligte om nuwe tafeldruif- en droogdruifkultivars- en seleksies te evalueer en tweede ekonomie-druiweboere van veral die Noord-Kaap met raad en daad by te staan, het hy sedertdien ook deeltyds drie grade (insluitend sy PhD) suksesvol aangepak. Dié grade is almal deur die US verwerf.

Hy ken van skouer aan die wiel sit. Vanaf sy vroegste studentejare in die vroeë 2000’s het hy al gewoond geraak aan studies én werk kombineer. Terwyl hy aan sy BScAgric-graad gewerk het, het hy snags diens gedoen as nagwag by die beeldende kunstegebou op die US-kampus en as “demi” en merker opgetree in die departement  biochemie.

Op skool het hy dit in sy visier gehad om ‘n mediese dokter te word, maar ongelukkig het hy ten spyte van voorlopige keuring daarvoor nie in 1999 die nodige matriekpunte behaal om dit te kon studeer nie. Hy het egter nie opgegee nie, en het teruggekeer na Hoërskool Adamantia in Kimberley om sy punte te verbeter.

“Ek gee nie sommer op nie – selfs al kom die lewe met draaie en swaaie,” vertel Daniels. Sy verdere Plan B was om deur voorlopige voorgraadse BSc-studies in menslike lewenswetenskappe aan die US mediese keuring te kry – ‘n pad wat talle aspirant-dokters probeer volg.

Laat in sy eerste jaar is hy egter ‘n beurs aangebied deur die wyn- en spiritusraad om eerder wingerd- en wynkunde te studeer. Dit was nie sommer ‘n geleentheid waarvoor hy maklik kon nee sê nie, aangesien hy uit ‘n gesin van twee kinders kom wat onderhou is deur sy ma, ‘n tydelike huiswerker, se salaris.

Hy onthou nog goed hoe hy aan die einde van sy eerste jaar saam met sy ma gestap het, en haar van die beursgeleentheid vertel het – en dat hy daarom nie meer ‘n mediese dokter sou word nie. Sy het hom dadelik in sy nuwe planne ondersteun.

“Sy’t gesê ek moet die kans vat. Dis een ding wat ek van my ma, Agnes Daniels, weet: sy het nog nooit in my pad gestaan nie en my altyd onvoorwaardelik bygestaan en ondersteun,” voeg hy dankbaar by.

Hy het sedertdien die geleenthede aangegryp wat sy nuutgevonde beroep as wingerdkundige hom gebied het.

“’n Mens moenie bang wees vir foute maak nie, ook nie in die werkplek nie. En maak staat op kollegas wat meer kennis oor spesifieke velde het. Mens kan so baie by hulle leer. Die lewe is ‘n spanpoging,” glo hy.

Na evaluasiewerk van byna 13 jaar was hy in 2020 saam met sy spanleier by die LNR, plantteler Phyllis Burger, RaisinsSA en Culdevco betrokke by die vrystelling van ‘Sundowner’, die eerste eg-Suid-Afrikaanse rosyntjiedruifkultivar ooit. Dié vaar veral goed in die Olifantsriviervallei.

“Ons hoop om binnekort nog ‘n kultivar vry te stel, hopelik een wat veral goed sal vaar in die Noord-Kaap,” verklap hy.

Vir hul werk op ‘Sundowner’ het Daniels en Burger verlede jaar die gesogte Sagtevrugte Industrietoekenning gewen. Vanjaar is hy ook deur Landbouskrywers SA aangewys as Landboukundige van die Jaar vir die Noord-Kaap.

 PhD-werk

Daniels geniet die afwisseling wat sy werk bied – vanaf werk in die laboratorium tot die kans om ‘n gereelde draai in die wingerd te kan maak.

Hy’s dankbaar oor sy opleiding in wingerd- en wynkunde wat hy aan die US gekry het.

“Dit het vir my ‘n baie goeie geheelprentjie gegee, en ‘n breë kennis van wat in ‘n wingerd en in die bedryf gebeur.”

Sy doktorale studies is egter nie noodwendig gedoen op ‘n onderwerp wat sal help om die vrug van die wingerd – druiwe – beter te verbou nie. Dit het gebou op werk waarmee hy reeds sedert sy honneursdae aan die US besig is.

“Gewoonlik gebruik boere refraktometers om suikers te toets as hulle wil vasstel of druiwe gereed is om te oes. Dis egter nogal intensiewe werk, veral as jy baie wingerdblokke het wat getoets moet word. Dis ook nie altyd so akkuraat nie,” vertel Daniels.

Nou het hy wiskundige modelle geskryf waarmee die gehalte van trosse tafeldruiwe tot op korrelvlak sonder enige skade daaraan bepaal kan word deur die spektra van elke korrel afsonderlik met naby-infrarooi-tegnologie te skandeer.

Sy modelle neem ook aspekte rondom die eetkwaliteit van druiwe (in terme van hoe soet of suur korrels is) in ag.

Daarmee kan heel akkuraat voorspel word watter trosse meer geneig sal wees om vrot te raak of donkerkleurige doppe en die verbruining van vlees sal ontwikkel terwyl dit oorsee verskeep word.

“As mens reeds op pakhuisvlak sou kon bepaal watter druiwe na vier tot ses weke se verskeping geneig sou wees om onooglik te verbruin, sou mens groot finansiële verliese vir uitvoerders kon keer. Dan kan hulle dit eerder op die plaaslike mark verkoop, eerder as dat dit sonder meer by die hawe afgekeur word omdat dit substandaard is.”

Hy hoop om die resultate van sy grootliks laboratoriumgebaseerde PhD-werk ook binnekort op ‘n kommersiële skaal te kan toets.

Daniels is ‘n mense-mens wat baie waarde aan vriendskappe heg.

“Op skool het ek Marie Heese se ‘Die Uurwerk Kantel’ gelees, waarin die hoofkarakter dikwels praat oor die konsep van ‘om diensbaar te wees’. Dit het ‘n groot indruk op my gemaak.”

Hierdie ingesteldheid kom hom ook goed te staan in sy werk as unieverteenwoordiger op verskillende werknemersforums. Ook put hy groot genot daaruit om ontluikende tweede-ekonomie Noord-Kaapse boere met raad en daad in die wingerde by te staan en te help om die beste moontlike rosyntjie en wyndruiwe te kweek.

  • In 2017 het ‘n klasmaat, vriendin en mentor van dr. Daniels, dr. Erna Blancquaert, die eerste swart Suid-Afrikaner geword om ‘n doktorsgraad in Wingerkunde – ook aan die US – te verwerf.

Dr Andries Daniels (middel) besig om aan wingerdboere inligting oor hul wingerde te verskaf tydens ‘n onlangse opedag. Foto: LNR
Dr. Andries Daniels is die eerste swart Suid-Afrikaanse man wat ‘n doktorsgraad in wingerdkunde verwerf het. Foto: LNR
Dr. Andries Daniels is die eerste swart Suid-Afrikaanse man wat ‘n doktorsgraad in wingerdkunde verwerf het. Foto: LNR

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!