Bulk op die bloedspoor van die volk

Die rol van politieke begrafnisse in die nuwe Suid-Afrika

Jannie Gagiano

Die Xhosa-mense noem dit yakhal nkomo wanneer hulle verwys na die manier waarop beeste rondmaal, kerm en bulk as hulle bloed ruik. Beeste huil soos jakkalse wanneer hulle bloed ruik wat uit die kudde se eie are gestort word.

DJ Opperman verklaar dat die buffel geen metafisika ken nie. Miskien is hy reg, maar as mens die jakkalsgehuil van nkomo  aanhoor, dan begin jy wonder of daar tog nie maar ‘n bietjie  oeroue toorgoed in die geestelike DNA van tropdiere bly voortluier nie.

Met mense hoef jy nie te wonder nie. Mense se verbeelding is deursuur van metafisika. Hoe meer verbeelding, hoe meer metafisika en hoe meer bloed en leed en vernedering ons vyande in ons midde saai, hoe groter die geween en gekners van tande oor die onheil wat die kadawers en die ellendes in ons geledere laat opstapel het. Om ‘n ballade van die bose te komponeer is miskien ‘n vorm van  volksmusiek en soos die jakkalsmusiek van die nkomo, ‘n stuk eksistensiële toerusting.

“Ek is jou wese ondergrond en ek trap in jou spoor soos n goeie hond”, skryf NP van Wyk Louw, “En as jy vlug uit die stad wat brand, dan vlug ek saam soos n vrou aan jou hand”.

Staats- en nasiebouers word tipies verswelg  in ‘n soort proto-erotiese miasma van rewolusionêre gevoelsuiting en bloedlating wanneer hulle ons wil bekoor met beelde van  maatskaplike en politieke verandering. Die Marquis de Sade (die woord sadisme ontstam aan sy  naam) word ‘n soort kodifiseerder en pleitbesorger vir die maniese erotiek wat spruit uit die bloedspuitende wreedhede wat Madame Guillotine gepleeg het om die ou orde se koppe te laat rol en die Franse revolusie vlot te maak.                             ,

Wordsworth klimaks omtrent in sy broek wanneer hy die transformasies wat deur die Franse revolusie in die vooruitsig gestel word, ophemel. “Bliss it was in that dawn to be alive. But to be young was very heaven.” En Lenin het oënskynlik meer sensuele plesier daaruit geput om bloed en  geweld in sy revolusionêre omelette in te klits as wat hy gekry het uit ‘n knippie met Krupskaya.

”To every birth its blood”, skryf ons eie digter Wally Serote.

Hoe meer bloed en staal in die vormende smeltkroes, hoe meer veredeld raak die “ruggraat” of die “inbors” van die  volk of van die proletariaat  of van die nasie of van die chansons de patrie wie se bloedlus in Napoleon se Marseillaise aangewakker  word. Die “Junge Deutschland” word in Bismarck  se “Blut und stahl” retoriek aangemoedig om uit die loopgrawe in die Franse koeëlreens in te storm omdat dit onder meer die seëninge van ‘n verenigte Duitsland as ‘n nalatingskap kon uitlewer.

Lord Byron had sy eie vertolking van  Stellenbosch Universiteit se Latynse motto “Pectora roborant cultus recti”. Moenie op die sypadjies pis nie, het ons as studente gespot. Pis liewer op Castlereagh se graf, was Byron se aanbeveling. Vir Byron was daar meer cultus recti in sy pectora opgewek deur saam met die Grieke ‘n futiele stryd teen die Turke te voer en om op Castlereagh se graf te urineer ‘n beter bestanddeel in die resep om ‘n romantiese vervullingsideaal te verwesentlik as ‘n oorwinning te velde.

Om nie te praat van al die bestanddele wat ingesuur is in die resepteboek wat moes dien as ‘n Kook en Geniet-handleiding vir die vorming van ons soort Afrikaanse nasionale bewussynslensiesop nie. Afrikaanse mense het baie om op trots te wees, maar die politieke voerbakke van nasionale volksbewussynsvorming was volgestop met die ellendes en bloed wat deur die inboorlinge by Bloedrivier en Weenen, die Engelse met hulle verengelsingsbeleid, hulle imperiale oorlogstaktiek en strafkampe in die Boereoorlog, Jode-“uitbuiters” in die depressie ens. toegelaat het dat ons ‘n treurige boklied kon aanhef. Ons doringboompies se skoonheid was omtrent altyd geskonde, ons  bassies geskeur en ons stammetjies amper middeldeur. Ons is aangemoedig om  soos jakkalse  te huil en te bulk op die bloedspoor van ons kudde. Dit laat mens wonder of enige noemenswaardige nasie al ooit tot nasie geword sonder om deur vernielsugtige vyande tot stand gebring te word.

Maar as iemand sou dink dat die Afrikaners die koek gevat het met volksfeeste en Voortrekkeroptogte, met Dingaansdag-uitspattighede en Bloedrivier-plegtighede, met tiekiedraai-uitbundighede, bulderende selfverheerlikinge en ander soortgelyke ensovoortse, moet soiemand weer dink.

Niemand kom naby ons nuwe regeerders as dat kom by die fyn kunsies van Die Gebulk op die Bloedspoor van die Stryders vir Geregtigheid nie.

Boonop lyk dit asof ‘n Wet van Omgekeerde Eweredighede hier ter sprake kan wees. Hoe meer die omstandighede wat onder hul bewind uittorring en versleg, hoe luider word die huldigingsliedere wat ter viering van hul magsbesetting diens moet doen.

Die inploffing van Apartheid het die ”strugglers” ontneem van die vyand wat hul immuniteitstelsel wakker en aan die gang gehou het. Oorwinning oor die vyand bring die kommer dat al die kritiek wat vroeër afgewentel kon word op andere, nou op die oorwinnaars gekonsentreer word. Apartheid het in die stof gebyt, maar die “strugglers” het gou spyt gekry dat hulle die vyand verslaan het.

Hulle moes nou alleen pa staan vir al die skades en ellendes in die nuwe bedeling sonder om krediet te kry vir hul goeie dade. Hulle raak verlore in ‘n wêreld waar hulle nie vyande het wat hulle bestaansreg kan begrond nie. Soos Guppies in ‘n vistenk begin hulle borrels byt wanneer die Apartheidsuurstof begin opraak.

‘n Afwesige vyand is baie slegter nuus as ‘n teenwoordige vyand. ‘n Politieke kulkunsie word  dan aangewend om die opgeduikte lyk van apartheid deur kunsmatige asemhaling aan die lewe te hou.

Dit vereis ‘n soort voodoo-prikkelpolitiek wat herinner aan die maniere waarop dooie paddas se spiersametrekkings deur die toediening van ‘n elektriese stroom geprikkel word en die resultaat dan  aangebied kan word as bewys van ‘n vorm van lewensuiting. Steek met jou politiek ‘n elektriese koggelstok in ‘n boer se gat op en as hy onplesierig brul, dan bewys dit mos dat sy senuweestelsel nog werk met ‘n ingeboude apartheidsbedrading. Elke bulk op die bloedspoor doen diens as ‘n skokstok om die blinde rassistiese padda wat in die onstuimige waters van ‘n “kollektiewe onderbewussyn” rondspartel, te laat opduik na ‘n vlak waar sy spiersametrekkings op die musiek van die nuwe bedeling getoonset kan word. As dit met ‘n mistagoog soos Saulus van Tarsus kan gebeur, kan dit seker ook maar met ‘n blinde padda ook gebeur.

Moeilikheid is net dat die mistagoog en vryheidsvegter wat rerig ‘n bloedpoor kon trap of inderdaad een uitgetrap het, al hoe meer net gewoon afsterf, deur Zondo en ander snuffeldienste uitgeruik word of net doodgewoon in die rustigheid van onbeduidendheid verdwyn.

In sulke omstandighede spring die Kultus van die Lewende Dooies weer tot lewe. Die staatsbegrafnis, of die baster-staatsbegrafnis, word ‘n geleentheid om die kwynende begeestering vir die revolusionêre ywer weer te prikkel. Die afgestorwenes, toegerus met die bloed van die revolusionêre kudde in hul are, kry die kans om ‘n goeie lewe te maak uit die feit dat hulle die emmer geskop het. Digters, sokkerspelers, sangers, kitaarvirtuosi, skrumskakels, pleitbesorgers, skoolmeesters, toordokters, smokkelaars, sangomas, piepiejollers, manteldraaiers, paneelkloppers, hoerjaers, spioene, wapenhandelaars, trompetspelers, teaterkunstenaars, slymkokers, sterrewiggelaars en nog veel meer, en insluitende begrafnisondernemers, laat gereeld die staatsvlae halfmas hang.

Hul begrafnisse kry meer lugtyd op televisie as wat hulle in hul lewensgang kon kry. En op al drie die hoofkanale. En gelyktydig. Soms vir twee tot drie ure aaneenlopend. As jy Andy Warhol se 15 minute van lewensvervullende  roem nastreef, is daar in die nuwe Suid-Afrika geen beter manier om dit te verwesenlik as om reikhalsend uit te sien na jou eie begrafnis nie. “Ek is bereid om te sterf vir so ‘n geleentheid” is ‘n versugting wat miskien meer en meer gehoor sou kon word in die volkslewe.

Sommige sal moet besluit of dit goeie “struggle”-maniere is om ‘n comrade se begrafnis by te woon as die comrade nie jou begrafnis bygewoon het nie. Om nie te praat van die verkwanseling van regte om ’n musikale blyspel van jou begrafnisdiens  te maak nie.

Ander woon waarskynlik hul comrades se begrafnisse vir ander redes by. Mens kan jou voorstel dat CR JZ se begrafnis sal bywoon net om seker te maak hy is werklik dood en dat die inspit nie onderhewig gaan wees aan die uitslag van ‘n interdik wat hy teen die hemelse vader aangevra  het om sy afsterwe nietig te verklaar nie.

Soos altyd is daar ook uitsonderings. Desmond Tutu het verlede week die “volle behandeling” gekry en as hy dit kon ervaar, hoor mens in jou verbeelding al daardie veroordelende ou kekkel-laggie van hom  wat dikwels  tot uiting gekom het in die teenwoordigheid van opvallende huigelary. Dit laat mens dink aan Jimmy Hendrix se opmerking oor mense se liefde vir die dooies – “Once you are dead you are made for life.”

Maar benoude katte maak benoude spronge en die nood leer bid. Veral by begrafnisdienste. Dit lyk so al of die vryheidsvegters begin lei aan die politieke eweknie van ‘n soort post-koiitale neerslagtigheid. Om die bus te jaag, was die bron van die ekstase. Nie om die bus te vang nie. Dit is dié dat diegene wat hulle in die helde-akker wil inspit, meer spruit uit die geledere van die jaers as uit die geledere van die vangers en meer voordoen in die gedaantes van opgeduikte lyke uit  vergange tye, as in die gedaantes van eietydse atavars.

Miskien is begrafnisse na alles tog maar net ‘n geleentheid vir die uitstorting van ‘n soort heimwee vir die comrades wat hul politieke maagdelikheid kon behou deur vry te bly van die besmettinge van magsbesetting.

Jannie Gagiano:” Niemand kom naby ons nuwe regeerders as dit kom by die fyn kunsies van Die Gebulk op die Bloedspoor van die Stryders vir Geregtigheid nie. ” .

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!