Debbie is Le Grande se gehieme wapen

Debbie Thompson – Le Grand Domaine se Geheime Wapen

Hoewel die wynmaakbedryf tradisioneel deur mans oorheers word, het Le Grand Domaine se wynmaker, Debbie Thompson, reeds gewys dat sy iemand is om mee rekening te hou. Nadat sy vroeg in 2020 aangestel is, het sy reeds ’n rits toekennings vir hierdie boetiekhandelsmerk ingepalm.

Hierdie is slegs die tweede wynhandelsmerk vir wie Debbie werk aangesien sy die vorige 20 jaar op Simonsig onder die mentorskap van Johan Malan wyn gemaak het. As die eerste vroue-wynmaker op die landgoed, het sy 18 jaar lank gefokus op die maak van rooiwyn voordat sy die pos as keldermeester aanvaar het. Haar skuif na Le Grand Domaine was, soos Debbie dit stel, ’n 180 grade-ommeswaai. Die skuif van ’n groot kelder na ’n kleiner, nuwe kelder het sy eie uitdagings gebring. Verder moes sy ook ’n kopskuif maak weg van rooiwyn uitsluitlik en ook aan ander kultivars begin dink. O ja, en toe skop sy af reg aan die begin van ’n globale pandemie! Dis uiteraard nie wat sy in gedagte gehad het nie, maar sy het al hierdie uitdagings tromp-op aangepak en hulle in haar eie suksesse omgeskep.

Debbie wys vinnig daarop dat sy nie al die krediet kan aanvaar nie. Die voordeel van ’n kleiner kelder is dat mens baie meer betrokke is, en dis ook so met haar span by Le Grand Domaine. Hierdie is ’n kelder wat hoofsaaklik deur vrouens bedryf word, met drie vroulike en twee manlike personeellede. Dit sluit Debbie se assistant, Martinique de Bruin, in wat haar loopbaan by Thelema begin het. Debbie glo dat goeie wyn net van goeie druiwe gemaak kan word en beskou haarself gelukkig om met een van die beste wingerdboukundiges, Deon Joubert, saam te werk. Haar leuse in haar beroepslewe is om van onder af te begin en jouself op te werk, en dat jy net so goed is soos jou span.

Hoewel sy nog redelik nuut by die maatskappy is, het Debbie reeds veel in ’n kort tydjie bereik. Dit sluit die handelsmerk se eerste Cap Classique in (wat in 2022 bekend gestel word) en lofbetuigings van rolspelers in die wynbedryf.

Die mees onlangse is ’n Top 10 Sauvignon Blanc vir The Pledge Darling Sauvignon Blanc 2020, terwyl die 2021-oesjaarwyn onder die top 20 ingesluit is. Hierbenewens het Le Grand Domaine ook in die jongste Platter’s by Diners Club South African Wine Guide erkenning gekry met 4½ sterre vir The Pledge Darling Sauvignon Blanc 2020, The Pledge Sauvignon Blanc 2020 en die Grand Vin Selection Sauvignon Blanc 2020, terwyl die Grand Vin Selection Cabernet Sauvignon Merlot 2019 en Grand Vin Selection Rosé 2020 elkeen vierstergraderings ontvang het. En dis nie al nie, The Pledge Our Darling Sauvignon Blanc 2020 het dubbelgoud los geslaan op vanjaar se Veritas-kompetisie, terwyl goue medaljes toegeken is aan The Pledge Our Darling Sauvignon Blanc 2021 en die Grand Vin Sauvignon Blanc 2021. Inderdaad puik prestasies en die ideale inspirasie vir Debbie en haar span om voort te gaan om na die sterre te reik.

Wanneer Debbie nie in die kelder of wingerd is nie, sal mens haar iewers buite vind waar sy en haar man, Simon, en twee dogters, Hannah en Jesse, die buitelewe geniet.

  • Le Grand Domaine is in die Devon-vallei in die hart van die Stellenbosse wynlande. Bernard Fontannaz, stigter van Origin Vineyards, het voortgebou op sy reputasie in die wynbedryf deur gesogte wingerde in Suid-Afrika, Argentinië en Switserland te vestig. Hy het Le Grand Domaine in 2016 aangeskaf om ’n “Suid-Afrikaanse chateau” te skep wat slegs Bordeaux-kultivars verbou.
  • Debbie glo dat goeie wyn net van goeie druiwe gemaak kan word en beskou haarself gelukkig om met een van die beste wingerdboukundiges, Deon Joubert, saam te werk.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!