Spook van 2016 kelder Maties amper weer

Maties oppad na halfeindstryd in Varsitybekerreeks

FNB Maties het gisteraand in die Danie Craven-stadion sy byna 6-jaarlange onoorwonne rekord oor die FNB NWU gestand gedoen en sy Varsitybekerkragmeting met 20-12 gewen.

Die stryd was maar ‘n armdrukkery en Maties het al sy punte in die eerste helfte aangeteken, alhoewel die besoekers eerste op die telbord was danksy ‘n verdoelde drie deur die Eagles se kaptein, Sampie Swiegers.

Maties het kort daarna teruggeslaan met Sean Swart, een van die staatmakers in die span tot dusver vanjaar, wat ook agter die doellyn gaan kuier het.

Die Eagles het sedert die ontstaan van die reeks, in 2016, die Maties nog net een keer geklop en dit was in daardie jaar se eindstryd – ook die enigste keer wat die Eagles die titel kon verower – met ‘n sege van 7-6 oor Maties.

In die 26ste minuut het Waqar Solaan ‘n goeie breekslag gehad wat Maties se heelagter, Nevaldo Fleurs, vir ‘n uitstekende drie oorgestuur het. Fleurs het self verdoel en het daarna nog twee strafdoele behaal om Maties se telling op 20 te staan te bring, met slegs die 7 van die besoekers op die telbord met die omdraaislag.

Swak hanteerwerk het die besoekers se spel gekniehalter, ondanks nog ’n drie deur sy kaptein Swiegers. Hy het egter swaar geleef in die skrums, maar die faset van die spel het tog in hul guns getel.

Twee mislukte pogings pale toe deur Martin Venter (losskakel) het ook tot die NWU treurmare bygedra en veroorsaak dat hulle nie die 2016-sege kon herhaal nie.

Dinge lyk sleg vir NWU  en die kans is skraal dat hy die uitspeelrondte gaan haal. Maties is steeds op koers vir ‘n semifinaal op hul tuisveld.

Maties is nou bo aan die punteleer met 24, gevolg deur Ikeys met 21 en Tuks en Wits elkeen met 20 punte.

Eerskomende Maandag is dit die jaarlikse derby tussen Maties en Ikeys op die Ikeys se tuisveld.

Video’s: Thys Lombard

Nevaldo Fleurs van Maties in Maandagaand se wedstryd teen die Eagles.
Matiesondersteuners is weer Maandagaande terug in die Danie Craven-stadion om hul span aan te moedig in sy opmars na die Varsitybekerkroon.
Maties se kaptein, Sean Swart, speel die hele seisoen al ‘n barshou en was weer een van die staatmakers in die wedstryd teen die NWU Eagles. Foto’s Luigi Bennett/Varsity Cup

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!