Oorlog in Oekraïne rede vir beduidende onbestendigheid

Ekonomiese impak van Rusland/Oekraïne-oorlog op landbousektor

Inhoud verskaf deur Adriaan Pask, Beleggingshoof, PSG Wealth & Marieta Wessels, Tegniese Versekeringspesialis, PSG Insure 

Nadat spanning maande lank opgebou het, en na verskeie mislukte diplomatieke pogings, het alles uitgeloop op ‘n gewapende konflik in Oekraïne. In ‘n tyd van wêreldwye onsekerheid, kry ons van oral nuus oor militêre aanvalle, verskerpte sanksies en die skending van mense- en burgerregte

In die onlangse Think Big-webinaar het die onafhanklike politieke ontleder en hoofspreker Daniel Silke sy insigte oor die onbestendigheid gedeel en verduidelik waar ons nou is met die wêreldwye ontwrigting. Hy het ook die toekoms van die geopolitieke landskap bespreek. Die konflik het natuurlik beduidende onbestendigheid veroorsaak namate wêreldmarkte die kettingreaksie van die militêre optrede begin verwerk het.

Beduidende impak op invoer en uitvoer oor die hele wêreld
Kommer oor tekorte voortspruitend uit verskaffingsketting-ontwrigtings het reeds die pryse van strategiese produkte opgejaag, wat regoor die wêreld ‘n negatiewe uitwerking op verbruikers en besighede sal hê. Rusland en Oekraïne is groot uitvoerders van mielies, koring, kunsmis en belangrike metale vir die vervaardiging van enigiets van selfone tot voertuie. Opgejaagde kospryse is ‘n geweldige risiko, veral vir ontwikkelende lande wat sterk op invoer uit dié twee lande staatmaak. Tracy Davids van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het aan Business Day gesê dat “Suid-Afrika in 2019 en 2020 sowat 30% van sy koring uit Rusland en Oekraïne ingevoer het. In 2021 was dit net onder 10%.”

Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) is China en die VS Suid-Afrika se twee grootste uitvoerbestemmings, met Rusland 37ste en Oekraïne 101ste op die lys. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die Landbousakekamer van Suid-Afrika, sê: “Rusland was in 2020 die bestemming van 7% van Suid-Afrika se sitrus-uitvoer volgens waarde … Rusland het 12% van Suid-Afrika se appel- en peeruitvoere ontvang, en is Suid-Afrika se tweede-grootste mark vir hierdie produkte. Ander Suid-Afrikaanse uitvoere na Rusland sluit tafeldruiwe en macadamianeute in.” In November 2021 was die vernaamste produkte wat Suid-Afrika na die Russiese Federasie uitgevoer het mangaanerts (VS$17.5m), sitrus (VS$10.5m), motors (VS$6.26m), platinum (VS$4.77m) en anorganiese soute (VS$3.5m), volgens die jongste handelsdata van die Observatorium vir Ekonomiese Kompleksiteit (OEC).

Implikasies vir Suid-Afrikaanse besighede t.o.v. korttermynversekering
Oorlog, oproer en terreuraanvalle is nog altyd van dekking uitgesluit in alle produkverskaffers se polisbewoording. Versekeraars wat oorlog en aanvalle dek, het laat blyk dat alle oorlogsdekking in Rusland en Oekraïne gekanselleer word. Alle produkverskaffers is verplig om kansellasiekennisgewings aan hul kliënte te stuur dat dekking uitgesluit sal word, wat beteken daar is geen alternatiewe oplossing vir die oorlogsdekking in Rusland en Oekraïne nie.

Die sanksiebeperking en uitsluitingsklousules in alle produkverskaffers se polisbewoording meld dat geen versekeraar dekking sal verskaf of ‘n eis of voordeel sal betaal indien dit daardie versekeraar aan sanksies, verbiedings of beperkings ingevolge resolusies van die Verenigde Nasies of ekonomiese sanksies, wette of regulasies van die Europese Unie, Verenigde Koninkryk of Verenigde State van Amerika sal blootstel nie. Die Verenigde Koninkryk, Verenigde State en Europese Unie het streng sanksies teen Rusland, ‘n lys van maatskappye en sekere individue ingestel. Gevolglik moet produkverskaffers by hierdie beperkings hou en aan al hul kliënte en adviseurs 30 dae kennis gee waar daar poliskontrakte bestaan. Versekering van enige besendings ná hierdie datums sal aan ‘n skriftelike ooreenkoms met die produkverskaffers voor die aanvang van die risiko onderhewig wees, maar neem kennis van die feit dat die produkverskaffers nie dekking sal waarborg nie.

Gesonde advies nou deurslaggewend in onseker tyd
Aangesien die meeste van ons nog nooit oorlog ervaar het nie, is die situasie met Rusland en Oekraïne verontrustend. Ons korttermynadviseurs is goed toegerus om oor hierdie belangrike saak, en alle aspekte van jou versekering, advies te gee. Dit is ‘n komplekse risiko wat spesialis-advies verg. Wat jou beleggings betref, lyk dit in tye soos nou teen-intuïtief om nie te reageer nie. Soos altyd, verwag ons egter dat die grootste risiko’s vir kliënte se langtermynwelvaart uit die gevolge van ondeurdagte optrede sal voortspruit. Gesels met jou welvaartadviseur oor enige vrae wat jy moontlik het.

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!