Cheddar voorste SA-kaas

Beleë cheddar is SA se voorste kaas

Lactalis Suid-Afrika se 18-maande beleë Cheddar, wat uitsluitlik vir Woolworths vervaardig word, is tydens die 189ste Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings verlede Vrydag by Cavalli Estate buite Stellenbosch as suiwelproduk van die jaar gekroon.

Die cheddar, ʼn volronde kaas met ‘n neutagtige en effens pikante geur, was een van 920 suiwelprodukte van 68 vervaardigers wat meegeding het om die aandag van ‘n span van 60 beoordelaars. ‘n Totaal van 26 produkte uit die groot getal inskrywings is met die Qualité-merk van gehalte vereer (sien volledige lys van die crème de la crème onder), terwyl 105 as SA Kampioene  – die wenners in elke kampioenskapklas – aangewys is.

“Vir ‘n produk om gekies te word as Produk van die Jaar in ‘n kompetisie van hierdie omvang, is die droom van elke suiwelvervaardiger,” sê suiwelkenner en hoofbeoordelaar Alan Fourie. “Die Woolworths 18-maande Mature Cheddar is ‘n uitsonderlike produk wat hierdie eerbewys verdien.”

Alban Damour, Hoofbestuurder: Lactalis Suider-Afrika, sê sy kaasspan is verheug daaroor dat die gehalte van hul produkte vir die derde agtereenvolgende jaar erken word. “Ons kaasspan word weer eens geloof vir hul kundigheid en passie, asook vir hul produkte wat gelykstaande is aan die beste regoor die wêreld en gunstelinge is onder Suid-Afrikaanse verbruikers.

“Ons is trots op ons jarelange sakevennootskap met Woolworths, ‘n besigheid wat gehalte net so veel waardeer as ons. Lactalis SA waardeer ook die werk wat Agri-Expo doen om die plaaslike suiwelbedryf te erken en te vier.”

Innovasie

Die SA Suiwelkampioenskappe word reeds sedert 1834 met groot sukses deur Agri-Expo aangebied. Volgens Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, is dit ‘n besonderse voorreg om die kampioenskappe vir die 189ste jaar aan te bied, aangesien Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika, ook 190 jaar van erfenis en 25 jaar van innovasie vier.

“Innovasie kenmerk inderdaad hierdie gesogte vlagskipprojek oor baie jare,” sê Ehlers. “Ons het in 2001 die Qualité-merk geskep as die enigste merk van uitnemendheid vir Suid-Afrikaanse suiwelprodukte. In 2020 het ons die heel eerste virtuele toekenningsgeleentheid in die Suid-Afrikaanse landbousektor in aangebied. Verder is ons die enigste organisasie in die wêreld wat ‘n groot suiwelkampioenskap deurlopend oor die afgelope drie jaar kon aanbied, wat die weg gebaan het vir die suksesvolle nuwe konsep van ‘n hibriede SA Suiweltoekennings, wat vir die tweede jaar by Cavalli Estate sowel as op ons webwerf plaasvind.”

Die groot getal inskrywings en die uitsonderlike gehalte van produkte wat vanjaar ingeskryf is, is volgens Ehlers redes om optimisties te wees oor die toekoms van die suiwelbedryf in Suid-Afrika: “Vanjaar se uitslae getuig van ‘n innoverende bedryf en gesonde kompetisie tussen groter vervaardigers en kleiner entrepreneurs, met ‘n totaal van vyf Qualité’s wat aan Lactalis South Africa toegeken is, drie aan Fairview, twee elk aan Clover SA, De Pekelaar Boerenkaas, Belnori Boutique Cheesery, Klein River Cheese en Rhodes Food Group, en ‘n goeie verdeling tussen die ander wenners.”

Agri-Expo bedank graag die Platinum-vennoot Synercore asook al die ander vennote van die SA Suiwelkampioenskappe vir hul toewyding tot die ontwikkeling van die suiwelbedryf, naamlik Chr.Hansen, AECI Food & Beverage, die Wes-Kaapse departement van landbou, Woolworths, IMCD SA, Condio, Hollard, Orchem, Mane, Polyoak Packaging en The Dairy Mail.

2022 QUALITÉ WENNERS:

Lactalis South Africa (5) 

Woolworths Mature Cheddar 18 Months Matured
Woolworths White Cheddar 6 Months Matured
Président Yellow Cheddar 6 Months Matured
Woolworths Salted Butter
Président Mature Gouda 6 Months Matured     

Fairview Cheese Company (3) 

Woolworths Chevin with Honey
Woolworths Chevin with Garlic & Herbs
Woolworths Brie de Roche

Belnori Boutique Cheesery (2)                   St Francis of  Ashisi White Velvet

Clover SA (2)

Mooirivier Salted Butter              
Butro Modified Butter  

De Pekelaar Boerenkaas (2)                        Boerenkaas Mature

Boerenkaas Belegen

 

Klein River Cheese (2)                                Gruberg Young
Gruberg Mature

Rhodes Food Group (2)                                 Woolworths Ayrshire Mozzarella
Pizza Mozzarella

Darling Romery                                            Full Cream Plain Yoghurt

Dirla Jerseys                                                  Fumato with Paprika Rub & Oak Smoke

Fair Cape Dairies                                          Woolworths Fresh Custard with Vanilla Bean Seeds

Foxenburg Estate                                             Farmhouse Gouda

Ladismith Cheese Company                        Pizza Mozzarella

Lancewood Holdings                                     Mushroom Sauce           

Mooivallei Suiwel                                           Rigg’s Salted Butter        

Polar Ice Cream                                           Maxi Chocolate Therapy

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!