Olifant-posbusse help uitkenning van mense, olifante

Olifante se urine en mis soos ‘posbusse’

Engela Duvenage, namens die Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch

Afrika-olifante deel ‘n sogenaamde “trop-reuk” wat dit vir hulle maklik maak om lede van hul eie trop te herken. Dié het meer te doen met die bakterie wat hulle aan mekaar afvee gedurende hul rituele groetsesssies as die feit dat hulle dalk verwant mag wees. Dié olifante is ook besonders goed daarmee om ‘n mens se spoor te volg, sê bewaringskundige dr Katharina von Dürckheim van die Universiteit Stellenbosch (US).

Sy het in Desember 2021 haar PhD in bewaringsekologie oor die onderwerp aan die US verwerf. Sy lei nou die nuwe Wildlife Free to Roam (WFR) navorsingsprogram aan die US. Daardeur word gefokus op die skep van verbindingsroetes wat wild sal toelaat om makliker te beweeg tussen talle groot oorgrens-bewaringsgebiede in Suider-Afrika.

“Olifant posbusse”

“Olifante laat urine en mis langs die roetes wat hulle volg. Dié is as’t ware kommunikasie-spilpunte of ‘olifant posbusse’. Dit bevat reukboodskappe wat ander olifante toelaat om te monitor watter ander olifante in die omgewing is, en moontlik gereed is om te paar,” verduidelik Von Dürckheim.

“Wanneer daar ’n kol urine op die grond is, sal ’n olifant eers op daardie sandkol blaas en ’n soort stofstorm van partikels veroorsaak. Daarna asem die dier dit diep in deur sy slurp, en voer soms partikels na die Jacobson’s orgaan in die bokant van die mond, in wat ons ’n flehmen-reaksie noem.”

Haar PhD-tesis het die amptelike titel van “Olfaction and scent discrimination in African elephants (Loxodonta africana)” gedra.

Wat die amptelike titel egter nie verklap nie, is dat hierdie ma van twee en ‘n MBA-gegradueerde daarby gedurende die loop van haar studies die kans gehad het om deel te wees van ’n groot verskuiwingsoperasie van 120 olifante in Malawi. Sy het ook saamgewerk met deskundiges van die Amerikaanse Leër wat die vermoë van wilde diere om landmyne te bespeur bestudeer het, en daarom ook olifante se besonderse reuksin ondersoek het.

Dit was die uiters geritualiseerde manier waarop Afrika-olifante mekaar groet – iets wat Von Dürckheim oor die jare al dikwels die voorreg gehad het om waar te neem – wat haar aangetrek het tot haar PhD- onderwerp.

“Afrika-olifante het hierdie fassinerende, rituele groet-seremonie wanneer hulle bymekaar kom. Selfs mak olifante doen dit steeds. Hulle urineer, ontlas, skei vloeistof van hul temporale kliere af, brom, trompetter, draai in die rondte en flap hulle ore om ’n soort ‘pagiderm-parfuum’ te versprei. Dis iets wat my herinner aan hoe skoenlappers en motte hul vlerke waai om feromone te versprei.”

Nie-herkouende diere soos olifante, renosters en seekoeie word as pagiderms geklassifiseer.

Chemiese boodskappe

Von Dürckheim het haarself begin afvra: “Watter boodskappe bevat hierdie chemiese seine wat olifante elke keer afskei? Dit moet tog ‘n funksie hê.”

Gegewe haar onderwerp was haar PhD werklik ’n reuse-taak, maar tog het sy daarin geslaag om oor jare heen baanbreker-navorsing te doen. Sy het vir die eerste keer in diepte gekyk na die chemie agter die afskeidings van die genitalieë en speeksel- en temporale kliere van vrylopende Afrika- olifantkoeie. Laasgenoemde veroorsaak die tipiese “tranerige oë” van ’n Afrika-olifantkoei – iets wat selde by Asiese olifantkoeie gesien word.

Haar navorsing toon dat Afrika-olifante deur aan urine en mis te snuif kan onderskei tussen onbekende en bekende lede van hul spesie. Hulle kan ook tussen individuele olifante onderskei op grond van die “reuk” wat afgeskei word deur die temporale en speekselkliere en genitalieë.

Genetika

In hierdie proses speel genetika – en dus of een dier verwant is aan ‘n ander – blykbaar nie juis ’n rol nie. So het Von Dürckheim uitgevind deur ‘n konsep genaamd die reuk-geen kovariansie (of OGC) te ondersoek. Dié konsep is reeds in baie ander diere nagevors is, maar Von Dürckheim was die eerste wat dit by olifante ondersoek het.

“Om OGC te bestudeer ondersoek jy bloed en DNS, en analiseer die liggaamschemie van verwante en onverwante diere. Jy kyk of verwante diere weens genetiese verwantskap ’n meer soortgelyke chemiese profiel het as onverwante diere, of nie.”

Terwyl verwante olifante wel baie chemiese samestellings deel, het sy gevind dit wissel in intensiteit en identiteit.

Haar navorsing het aangedui dat daar iets soos individuele identiteitsreukprofiele onder Afrika- olifante bestaan. Die diere kan ook seine optel wat vir hulle aandui hoe oud ‘n ander olifant is volgens afskeidings van die temporale en speekselkliere. Reuk-aanduiders wat wys op ‘n genetiese verwantskap is slegs gevind in die labiale afskeidings van volwasse olifant-susters.

Von Dürckheim wou ook vasstel of daar iets soos ’n kenmerkende “tropreuk” of “groepreuk”  is, omdat olifante sulke groeplewende diere is en verwante diere kan herken. Sy kon egter nie ’n verband vind tussen ‘n tropreuk wat aandui dat ‘n groep genetiese verwant is nie. Dit lyk egter wel asof daar ’n reuk bestaan wat lidmaatskap tot ‘n spesifieke trop aandui.

Dit wil voorkom asof dié tropreuk wat sommige olifante deel eerder veroorsaak word deur bakterie. Dis ook die geval by hiënas en meerkatte.

“Bakterie word maklik uitgeruil as lede van dieselfde groep byvoorbeeld hul liggame teen mekaar vryf en mekaar se liggame met hul slurpe ondersoek.

“Dis bes moontlik hul gedeelde bakterie wat ’n spesifieke tropreuk veroorsaak, en nie noodwendig omdat die diere verwant is aan mekaar nie.

“Dit beteken egter nie dat olifante nie familielede kan herken nie, of dat daar nie iets soos ’n genetiese teken van verwantskap bestaan nie. Baie navorsing dui daarop dat urine so ’n genetiese merker bevat. Dit moet egter nog in olifante nagevors word.”

Hoe olifante mense herken

Deur met olifante in gevangenskap te werk, het Von Dürckheim meer geleer oor hoe hulle hul reuksin gebruik as dit by mense kom.

“Olifante is baie bedrewe om met reuk tussen mense te onderskei. Hulle kan ’n spesifieke mens oor ‘n gebied heen naspoor.

“Ons het byvoorbeeld ‘n eksperiment gedoen waarin ons iemand ‘n ent weg die veld in laat stap het. ‘n Uur later het ons ‘n olifant sy spoor laat volg. Hulle het die mens elke keer suksesvol opgespoor. Die resultaat was merkwaardig.”

Haar studies het gewys dat olifante hul reuksin kan gebruik om tussen drie generasies van mense te onderskei, en ook minstens tussen nege verskillende mense.

“Hulle leer ontsettend vinnig.”

Dr Katharina von Durckheim with elephant.jpg 1 and 2
Dr Katharina von Dürckheim, leader of Wildlife Free to Roam (WFR) research programme in the Department of Conservation Ecology and Entomology at Stellenbosch University (SU), studied African elephants’ sense of smell as part of her recent PhD in Conservation Ecology. PHOTO: KATHARINA VON DURKCHEIM
Among the many adventures that Dr Katharina von Dürckheim, leader of the Wildlife Free to Roam Project in Stellenbosch University’s Department of Conservation Ecology and Entomology, has had was being part of a translocation project of wild African elephants in Malawi. PHOTO CREDIT: KATHARINA VON DURCKHEIM

 

Bacteria can be shared through the frequent physical and affiliative behaviour of elephants. Members of the same group often rub against each other, or explore each other’s bodies with their trunks, for instance. In the process a tell-tale “herd odour” is shared among herd members. PHOTO: ENGELA DUVENAGE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!