EFF eis (weer) grondoordrag
Danie Keet
Nie veel het gekom van die veelbesproke optog deur die EFF Woensdag na die hoofkantoor van Remgro op Stellenbosch nie.
Julis Malema, die EFF-leier, het die optog van Kayamandi tot by Remgro se hoofkantoor deur Stellenbosch gelei. Daar was geen voorvalle van geweld of ander ontwrigting tydens die optog nie. ’n Swaar polisieteenwoordigheid was deurgaans sigbaar. Ongeveer 500 EFF-lede het die singende optog meegemaak.
Malema het gesê die optog is gehou om die aandag op die kwessie van grondeienaarskap te vestig en met sy retoriese uitsprake weer gedreig dat indien grond nie aan swart mense oorhandig sal word nie, dit afgevat gaan word. ‘n Petisie, waarop hulle eis het Johann Rupert binne 14 dae op moet antwoord, is aan ‘n Remgro-verteenwoordiger oorhandig. Daarin eis hulle ‘n geouditeerde belastingverslag van Rupert se besighede en openbarmaking van al sy oorsese rekeninge en ekonomiese beleggings.
Die datum, 6 April, is gekies om saam te val met die dag toe Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap geland het.
Volgens Malema is armoede onder swart mense die gevolg van ’n tekort aan grond en moet die grond aan sy regmatige eienaars teruggegee word.
“Daar is geen toekoms in Suid-Afrika sonder grondeienaarskap nie,” het hy gesê.

Foto: Francois Lombard


