‘Weesgewas’ het baie waarde
’n MSc-graduandus van die Universiteit Stellenbosch (US), Carla de Beer, is op ’n missie om mense meer bewus te maak van duifertjies, een van die wêreld se vele sogenaamde “weesgewasse”. Sy doen dit, letterlik, een falafel op ’n keer, en het selfs ’n aanlyn-resepteboek genaamd “World Peas” saamgestel met duifertjies as hoofbestanddeel.
De Beer het in April ’n MSc-graad in plantbiotegnologie van die US verwerf. Sy het haar navorsing in die fakulteit agriWetenskappe se instituut vir plantbiotegnoloie (IPB) voltooi onder leiding van die IPB se dr. Bianke Loedolff en die IPB se adjunk-direkteur, dr. Shaun Peters.
De Beer kom van Ceres en werk tans vir ‘n agrimaatskappy in Wellington. Sy hoop om eendag haar gedroogte klaargemaakte mengsel vir falafels gemaak van duifertjies in gesondheidswinkels en by kleinhandelaars te sien.
Haar navorsing was deel van ’n veel groter driejaar-projek wat deur Peters gelei is, en befonds is deur die nasionale navorsingstigting (NNS). So is meer uitgevind oor die voedingswaarde van duifertjies en die potensiaal daarvan as ’n sogenaamde “klimaatslim gewas”.
Duifertjies (Cajanus cajan) is ’n peulgewas wat wyd geëet word in Asië, die Karibiese Eilande en deel van Afrika. Dit dien ook as ’n voergewas en dekgewas. Dit word nog nie kommersieel verbou in Suid-Afrika nie.
“Dit word ’n weesgewas genoem omdat daar nog nie veel gedoen is in terme van navorsing om te bepaal watter eienskappe van belang mag wees vir landbou, voedselsekuriteit en voeding nie. Sy genoom-volgorde is darem onlangs bepaal, en dit het nuwe weë vir navorsing geopen,” merk Peters op. “Deur ons navorsing wil ons wys wat in hierdie peulgewas sit.”
Duifertjieresepte
Mens kan plaaslik gedroogte duifertjies koop, of soms dit ook as ‘n meel vind. Al hierdie voorraad word ingevoer.
“Daar is soveel meer waarvoor ’n mens dit kan gebruik as net vir die tradisionele dhal of kerries,” sê De Beer, wat lief is vir kook en vegetariese geregte verkies.
Tydens haar studie het sy duifertjies gebruik om onder meer pastas (wat gewoonlik van koring gemaak word) te maak, asook vleislose hamburgers en peusel-skyfies.
Nadat sy nie ‘n resep vir diepgebraaide balletjies duifertjie falafels aanlyn kon vind nie, het sy besluit om haar eie klaargemaakte falafelmengsel te vervolmaak. Falafels word dikwels gebruik saam met slaaie en broodjies, veral deur vegetariërs, en word tipies gemaak van kekerertjies of fava-bone.
In haar falafel-resep gebruik De Beer Midde-Oosterse geure soos komyn, koljander, sesam en knoffel. Sy is ook geïnspireer deur geregte was sy geëet het terwyl sy vroeg in 2020 in Indië was as deel van die Global Citizens Project van die Frederick van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskap-ontwikkeling aan die US.
Sommige van die resepte wat in haar resepteboek ingesluit is, is gedurende grendeltyd eers op haar huismaats op Stellenbosch getoets.
“My arme huismaats! Ons kombuis het dikwels daaronder gely,” erken De Beer.
Nadat sy tevrede was met haar resep het die sensoriese navorsingslaboratorium in die US departement voedselwetenskap gehelp met die nodige sensoriese analise van haar gereg.
“Ek het suksesvol gewys dis heeltemal moontlik om ’n lewensvatbare verbruikersproduk, ’n falafelmeel van duifertjies, te maak wat in winkels verkoop kan word,” sê sy.
Voedingswaarde
De Beer het in 2020 geregistreer vir haar MSc studies, net voordat die Covid-19 pandemie op die toneel gekom het. Die IPB span se “vasbyt”-houding het haar gehelp om steeds haar studie binne twee jaar te voltooi. En volgens haar studieleiers was daar heelwat pret in die proses!
Haar navorsing het egter nie net gegaan oor regstaan in die kombuis nie. De Beer het die voedingswaarde van die doppe rondom vars duifertjies bestudeer. Dit word gewoonlik verwyder en weggegooi wanneer die ertjies gedroog of gemaal word tot meel. Sy het gevind dit is baie hoog in sowel gesonde anti-oksidante en weerstandige stysels – selfs meer so as in kekerertjies.
Sy het ook duifertjies se vermoë om koolhidrate en stysels te stoor bekyk, en watter gesondheidsvoordele daar is in die landrasse van duifertjies waarmee daar kleinskaals in Suid-Afrika geboer word nie. Hiervoor is duifertjies onder meer geoes uit die groentetuin van Peters se ouers in Kaapstad, en daarna op Stellenbosch bestudeer.
Sogenaamde totale stysel, wat as glukose in die bloedstroom vrygestel word, bestaan gewoonlik uit sowel weerstandige stysel en oplosbare stysel. Laasgenoemde stel glukose vinniger vry, wat dit ’n meer ongesonde soort stysel maak vir mense.
Deur haar studies het De Beer gevind dat duifertjies ’n hoë vlak van weerstandige stysels bevat.
“Dit is byna onmoontlik vir ons spysverteringstelsel om weerstandige stysel te prosesseer, maar ons verwys steeds daarna as ’n sogenaamde ‘goeie’ stysel. Dis omdat dit die mikrobioom in ons ingewande verbeter, wat belangrik is vir ’n gesonde algemene stelsel. Soos dit stadig deur ons ingewande beweeg, breek bakterieë dit af in suikers, en voed daarop as energiebron,” verduidelik De Beer se studieleier, dr. Bianke Loedolff.
Duifertjies in Suid-Afrika
Duifertjies is baie gewild in Asiatiese lande soos Indië.
“Dit word nog nie kommersieel verbou in Suid-Afrika nie, maar jy sal dit tipies vind in huis-tuine of by kleinboere in KwaZulu-Natal en Limpopo,” sê Peters.
Duifertjie-variëteite wat in Suid-Afrika gekweek word het is vermoedelik na die land gebruik deur Indiese kontrakarbeiders in die 1800s. Dit wil voorkom asof die plante aangepas het by plaaslike klimaatstoestande en ontwikkel het in geneties verskillende landrasse.
Peters meen dat Suid-Afrikaanse boere moet begin kennis neem van duifertjies, omdat hulle droogtebestand is en ‘n hoë markwaarde het.
“Hierdie ertjies is ’n uitstekende bron van voeding vir mens sowel as dier en kan in wisselbou-gewasstelsels gebruik word om stikstof in die grond te bind.”
De Beer is een van vyf MSc studente wat tussen 2019 en 2021 aspekte van duifertjies bestudeer het as deel van ’n NNS-ondersteunde projek wat drr. Peters en Loedolff gelei het. Sewe honneurs-studente het reeds suksesvol afstudeer, met die program se eerste PhD-student wat aan die einde van 2022 sal kwalifiseer. In die proses is agronomiese eienskappe, die voedings- en genotipiese profiele en hul vermoë om klimaatstres te weerstaan, en voordele vir menslike gesondheid en voeding van Suid-Afrikaanse duif-erfjie landrasse bestudeer.
“Hierdie inligting bied ‘n basislyn vir toekomstige Suid-Afrikaans-geleide teelprogramme dalk kan lei produksie in Suid-Afrika, omdat dit ’n alternatiewe gewasmodel met hoë waarde is,” sê Peters.
* Laai De Beer se aanlyn-resepteboek vir duifertjies getitel “World Peas” af by die volgende skakel: https://www.canva.com/design/DAEv4AdFvm8/elfTWmLzmIArZo8B-DDOyQ/view?utm_content=DAEv4AdFvm8&utm_campaign=designshare&utm_medium=link&utm_sour#1
Carla de Beer met ‘n klaargebraaide falafel wat sy uit duifertjies gemaak het. Dit was deel van haar MSc-navorsing aan die Universiteit Stellenbosch. FOTO: ENGELA DUVENAGE
So lyk ‘n duifertjieplant. FOTO: ENGELA DUVENAGE



