Plaaslik vervaardigde aksieprent nou in teaters

Bekroonde aksieprent INDEMINTY, in plaaslike teaters

Na die suksesvolle bekendstelling van die fliek by die Fantasia Internasionale Rolprentfees in Kanada verlede jaar, word INDEMNITY uiteindelik in plaaslike bioskope op 13 Mei 2022 vrygestel.

Dié rolprent, Suid-Afrikaanse skrywer en regisseur – Travis Taute – se debuut-film, is baie goed ontvang deur oorsese kritici. Dit het ook plaaslike media beïndruk tydens die eksklusiewe media-voorskou wat op 28 April plaasgevind het en die bekroonde skrywer, rolprentresensent en dosent, Leon van Nierop, beskryf dit as die dapperste, mees gewaagde en gebalanseerde Suid-Afrikaanse aksierolprent wat nog ooit gemaak is.

INDEMNITY vertel die storie van Theo Abrahams (Jarrid Geduld), ’n voormalige brandweerman wat aan posttraumatiese stresversteuring (PTSV) ly, wat homself aan drank oorgee omdat hy nie kan teruggaan werk toe nie.

Theo se wêreld word op sy kop gedraai wanneer sy vrou en joernalis, Angela (Nicole Fortuin), vermoor word en hy die hoof-verdagte is. Dit dwing om hom om van die polisie te vlug, aangesien hy oortuig is dat hy onskuldig is. Soos wat die saak ondersoek word deur adjunk-hoof, Alan Shard (Andre Jacobs), en speurder, Rene Williamson (Gail Mabalane), word onthullings gemaak oor sy verlede, wat sy PTSV veroorsaak het, wat met sy vrou gebeur het en ’n regeringsameswering met drastiese gevolge.

INDEMNITY, ’n intense en indrukwekkende rolprent wat gemaklik vloei van een aksietoneel na die volgende, stel Taute (mede-skrywer van Nosipho Dumisa se bekroonde Nommer 37 en die Netflix-reeks Blood & Water) se vernuf as skrywer en regisseur op ’n nuwe vlak ten toon.

Gedryf deur die SAFTA-bekroonde Geduld se uitstaande toneelspel, verweef hierdie paranoïese samesweringsriller opwindende aksietonele met ’n emosionele storielyn en ’n kragtige boodskap. Dié prent, wat deur New York Times beskryf word as ’n stylvolle riller, vol erotiek en bedrog, dien as bewys dat plaaslike rolprente en talent aan internasionale standaarde voldoen.

INDEMNITY is deur Gambit Films vervaardig, in samewerking met M-Net Films, Marche Media, die Nasionale Rolprent- en Videostigting en die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging.

Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=kEeirDvFXLw

INDEMNITY IS IN DIE VOLGENDE TEATERS TE SIEN:

Grandwest Cine Centre, The Gables, NU Metro Canal Walk, NU Metro Westgate, Bayside, Blue Route, Cape Gate, Cavendish Commercial, N1 City, Parow, Somerset Mall, Tygervallei

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!