Ervare verpleegkundiges nou tot Stellenbosch se diens

Welkom aan nuwe leiers by klinieke

Die Wes-Kaapse regering se departement van gesondheid en welstand het die afgelope paar maande leiersposisies by vier van sy klinieke in die Stellenbosch-omgewing gevul met toepaslik gekwalifiseerde kandidate.

“Ons is bly dat ons toegewyde personeel kon aanstel as operasionele bestuurders. Hulle vaardighede en entoesiasme is presies wat nodig is,” sê sr. Denise Johnson, die bestuurder van primêre gesondheidsdienste in Stellenbosch.

Die departement se primêre gesondheidsdienste word gedryf deur verpleegkundiges, met die ondersteuning van dokters. Operasionele bestuuders by klinieke bestuur nie net die fasiliteit nie, maar lewer ook self pasiëntsorg soos die res van hul span.

Kayamandi Kliniek se operasionele bestuurder is die borrelende sr. Karen Levy. Sy het in 1996 gekwalifiseer as verpleegkundige en sê dat die opregte dankbaarheid van pasiënte haar aanspoor om verpleging te beoefen. Dis vir haar belangrik om die personeel as as ‘n span nader aan mekaar te bring en het juis by die kliniek se spanbou-aktiwiteit toe dit tyd was vir die foto van saam met die ander operasionele bestuurders.

Sr. Dumokazi Lebudu is Idasvallei-kliniek se nuwe operasionele bestuurder. “Die gemeenskap het my verwelkom. Hulle is vriendelik en het my dadelik tuis laat voel. Die span by die kliniek is absoluut toegewy aan hul werk en pasiënte,” sê sy. Sy het 12 jaar se ervaring in die sak en sê deur verpleging het sy die kans om ‘n verskil in anders se lewens te maak. “Ek wil graag toesien dat ons hoë gehalte, geïntegreerde gesondheidsdienste bied, en ek wil verseker dat daar altyd goeie kommunikasie en interaksie tussen personeel, pasiënte en hul families is. Mens bereik dit deur elkeen as ‘n individu te sien. Op hierdie manier sal ons ‘n holistiese diens kan lewer.”

Haar eweknie by Klapmuts-kliniek, sr. Michelle de Louw, het in haar meer as tien jaar in verpleging, ervaring opgedoen by verskeie velde in gesondheid, wat insluit trauma en die bestuur van kroniese siektes. “Ek wil graag die span lei met begrip. Ek wil hê dat die span gerespekteer sal word deur die gemeenskap omdat hulle met empatie en innovering dien. Ons moet ook gewoontes soos om professioneel aan te trek en trots te wees op wat ons doen, behou,” sê De Louw. Sy wil graag gesondheidsdienste na die gemeenskap neem deur uitreike te bied, soos die een op 13 Julie waar hulle dienste gebied het soos die immunisering van kinders, ontwurming, swangerskaptoetsing, gesinsbeplanning, en meer.

Sr. Chalene Fortuin bring 25 jaar van verpleegervaring na Aan-Het-Pad-kliniek. Dit is vir haar belangrik dat die kliniek omvattende dienste bied wat spesifiek is tot die gemeenskap se behoeftes. “Deur die dienste wat ons bied, bemagtig ons mense om eienaarskap van hul gesondheid te neem,” sê sy. Sy sê dankie aan die span wat haar van die begin af laat welkom voel het.

Srs. Karen Levy (Kayamandi), Dumokazi Lebudu (Idasvallei), Michelle De Louw (Klapmuts) en Chalene Fortuin (Aan-Het-Pad).

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!