Fynbosbioom ergste geraak deur inderingerplante – monitering nodig

Kostedoeltreffende moniteringstelsel kan help met bestuur van indringerplante

Die ernstige ekologiese en sosio-ekonomiese impak van uitheemse indringerplante in Suid-Afrika het tot omvattende navorsing- en mitigeringstrategieë op die gebied van biologiese indringing gelei. Wat egter kort, is ʼn moniteringstelsel op nasionale vlak wat akkurate en betroubare data verskaf oor hoe volop dié plante is en van hul verspreiding oor die land heen.

“Dié verspreidingsdata is onder meer nodig vir hoëvlak-beleidsformulering, strategiese beplanning en die bepaling van bestuurskoste, asook vir die gedetailleerde monitering van die impak van mitigasieprogramme wat ten doel het om indringerspesies doeltreffend te bestuur en die land se ryk biodiversiteit te beskerm,” sê dr Ian Kotze van die departement bos- en houtwetenskap in die fakulteit agriWetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US).

Kotze het vir sy onlangse doktorale studie aan die US ʼn wetenskaplik akkurate, streng statistiese en kostedoeltreffende moniteringsmetodologie ontwerp en toegepas, gebaseer op ʼn sekondêre meting of steekproef van die omvang en volopheid van belangrike uitheemse indringerplante in Suid-Afrika. Hy het verskillende steekproefontwerpe vergelyk en geëvalueer op grond van hul doeltreffendheid om die omvang en volopheid van hierdie indringerspesies oor verskillende omgewingskategorieë heen en in herhaalde oorsigsimulasies te beskryf.

Volgens Kotze is hierdie oorsigbenadering een van die eerste sulke stelsels wêreldwyd wat oor so ʼn groot geografiese area getoets en geïmplementeer is. Dié benadering vorm die basis vir herhaalde inventarisse oor tyd heen en maak die langtermyn-monitering van spesies moontlik. 

“Die oorsig wat op nasionale vlak vir Suid-Afrika geïmplementeer is, het uit 55 461 steekproefpunte bestaan wat oor ʼn tydperk van 12 maande waargeneem is. Die ontleding van die data toon dat 18 miljoen hektaar of 17% van die land se natuurlike en semi-natuurlike areas op verskillende indringingsvlakke deur ʼn reeks verskillende uitheemse indringerplante geraak word.”

Die drie belangrikste spesies wat beslaande oppervlak betref, is Acacia mearnsii (swartwattel), gevolg deur Eucalyptus (gombome) en Pinus-spesies (dennebome). Die fynbosbioom word die ergste geraak, gevolg deur die grasveld- en savanna-biome.”

Kotze sê dit is belangrik om data oor indringerplantverspreiding en -hoeveelhede op hierdie skaal te meet om intervensie- of mitigasiestrategieë op ʼn nasionale vlak te prioritiseer.

“Ondanks die sukses van talle mitigasiestrategieë, skiet hulle steeds tekort aan betroubare protokolle om die verspreiding van uitheemse indringerplante oor uitgebreide areas te bepaal. Dit maak dit moeilik om te monitor hoe ver en wyd hierdie indringerspesies versprei het en hoe volop hulle oor tyd geword het.

“Die beskikbaarheid van sulke data is van deurslaggewende belang vir mitigasiestrategieë soos ons voortgesette Werk vir Water-program – ons grootste verwyderingsinisiatief van uitheemse indringerplante wat in 1996 deur die regering begin is om uitheemse plantindringing aan te pak deur meganiese en chemiese beheermetodes in geselekteerde areas te kombineer en deur werklose mense van plaaslike gemeenskappe in diens te neem.”

Kotze wys voorts daarop dat Suid-Afrika die Konvensie oor Biologiese Diversiteit (KBD), ʼn internasionale ooreenkoms wat ʼn betekenisvolle vermindering van biodiversiteitsverlies ten doel het, onderteken het. Die KBD het 20 biodiversiteitsverwante teikens gestel om dit te bewerkstellig.

“Bepaalde meetbare sleutelaanwysers word gebruik om vordering met die bereiking van hierdie teikens te kwantifiseer en te monitor. Die monitering van die omvang en hoeveelheid van indringerspesies word as ʼn sleutelaanwyser beskou om die status van indringing te beoordeel.”

Kotze sê benewens die Water vir Werk-program het onder meer landboubesproeiingsrade, nasionale parke, natuurreservate en munisipaliteite reeds sy data vir hul strategiese besluitneming, beplanning en implementering gebruik.

Indringerplante naby Hemanus.

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!