Madonsela lei in stryd teen arm stede

Thuli Madonsela verkies as hoof van globale organisasie

‘n Buitengewone eer het prof Thuli Madonsela, bekleër van die Universiteit Stellenbosch regstrust se leerstoel in maatskaplike geregtigheid, te beurt geval toe sy vroeër hierdie maand verkies is tot die voorsitter van die bestuursraad van die Alliansie van Stede (Cities Alliance) tydens dié internasionale organisasie se jaarvergadering.

Die nuwe bestuursraad van die Alliansie bestaan uit 15 lede. By dieselfde geleentheid is Anibal Gaviria van Kolombië tot president van die vergadering herverkies.

Die Alliansie van Stede is ‘n internasionale vennootskap wat stedelike armoede bestry en stede wêreldwyd ondersteun om volhoubaar te ontwikkel. Die Alliansie word gesteun deur UNOPS (die Verenigde Nasies se projekdienste), ‘n agentskap wat toegewy is aan die implementering van infrastruktuur- en verskaffingsprojekte van VN-sisteme, internasionale finansiële instellings, regerings en ander vennote wêreldwyd.

Madonsela is die voormalige openbare beskermer van Suid-Afrika, ‘n regskommissaris en ‘n lid van die Afrika Akademie vir Wetenskap. Sy was een van die opstellers van die Suid-Afrikaanse grondwet en stigter van die Thuma Stigting vir Demokrasie, Leierskap en Geletterdheid. As die nuwe voorsitter van die Stedelike Alliansie, volg sy vir Clare Short, voormalige zekretaris vir internasionale ontwikkeling van Brittanje, op.

Madonsela sê dit is ‘n wonderlike eer en voorreg om verkies te word as voorsitter van die bestuur van die Stedelike Alliansie. Sy is vol lof vir die Alliansie se langtermyn programmatiese benaderings wat regerings ondersteun om toepaslike beleidsraamwerke te ontwikkel; plaaslike vaardigheid en kapasiteit te versterk; strategiese stadsbeplanning uit te voer en beleggings te fassiliteer.

“Ek voel uitsonderlik geëerd oor die vertroue wat in my gestel is om as voorsitter vir die Stedelike Alliansie op te tree. Daar is ‘n sterk sinergie tussen die werk wat ons doen in terme van maatskaplike geregtigheid – om ‘n samelewing en wêreld te vestig wat regverdig is teenoor almal – en die noodsaaklike werk wat Cities Alliance verrig om seker te maak dat geen mens of gesin in haglike of onmenslike omstandighede hoef te oorleef nie. Ek sien daarna uit om saam met ongelooflike leiers te werk om by te dra tot behuisingsoplossings wat belyn is met die VN se wêreldwye Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte.”

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Stedelike Netwerk (SASN), raadslid Xola Pakati, het Madonsela gelukgewens met haar aanstelling. Hy het haar verseker van die SASN se verbintenis tot volhoubare ontwikkeling. “Ek wil prof Madonsela gelukwens met haar kritieke aanstelling gesien die uitdagings ten opsigte van verstedeliking wat ons land, die kontinent en die wêreld in die gesig staar. Ons het al vir meer as ‘n dekade ‘n vennootskap met die Stedelike Alliansie en terwyl ons vanjaar SASN se 20ste bestaansjaar vier, sien ons uit om sáám te streef na voordelige stedelike ontwikkeling,” het Pakati gesê.

Die Stedelike Alliansie bestuursraad voorsien operasionale oorsig en ondersteun besluitnemingsprosesse in die vennootskap. Die nuwe raad bestaan uit 15 lede wat uit vier afdelings verkies word:

  • Regerings: Duitsland, Swede, Switserland, die VSA, Frankryk, Oeganda en Suid-Afrika.
  • Multilaterale organisasies: Verenigde Nasies mensehulpbronne-program (UN-Habitat) en die Wêreldbank.
  • Plaaslike owerhede: Verenigde Stede en Plaaslike Owerhede, en die Statebond Plaaslike Regering Forum.
  • Burgerlike samelewing: Slum Dwellers International (SDI), Habitat for Humanity International, Reall, en Women in Informal Employment: Globalizing and Organizing (WIEGO).

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!