Richard laat groot leemte in Stellenbosch

Richard de Villiers laat diep spore agter

Dr Richard de Villiers, radioloog  van Stellenbosch en die groot gees agter die Stellenbosch Trial Fund (STF), is onlangs na ‘n hartaanval oorlede.

Lede van die STF, die Stellenbosch-gemeenskap en vriende en familie het vandeesweek op gepaste wyse van hom afskeid geneem.

Op Madibadag het talle vriende van De Villiers sy lewe gevier deur ‘n swartstinkhoutboom in Koloniesland ter ere van hom te plant.

Dawid Botha van Stellenbosch Fietsry het gesê Richard sal onthou word vir sy entoesiasme, durf en deursettingsvermoë om dinge gedoen te kry ten spyte van groot uitdagings. As hy ‘n visie gehad het om iets te doen, was hy onkeerbaar.

Aan die stuur van Stellenbosch Trail Fund was hy veral bekend vir die netwerk van fiets-, draf en staproetes wat teen die hange van Stellenboschberg en elders uitgelê is.

In die woorde van Holden Marshall, een van die direkteure van die STF: “Richard het die STF 11 jaar gelede gestig saam met sy vrou, Marie-Louise, en hullw het ongelooflike baie werk gedoen om die groot stuk van die Eersterivier wat deur ons dorp loop, op te ruim en om ‘n organisasie van vrywilligers te skep wat tans meer as 50 km se wandel-, draf- en bergfietsroetes in en om die dorp in stand hou.”

Koloniesland, waar die boom Maandag geplant is, is as’t ware oopgestel vir die publiek en deur Richard se toedoen het hierdie boomryke park weer veilig en gewild geraak onder buitelugliefhebbers. Hy was ‘n uitstekende netwerker om veral fondse vir STF te werf.

Richard laat letterlik en figuurlik ‘n onuitwisbare spoor agter op Stellenbosch. Hy sal gemis word.

Foto’s: Facebook

Bron: Stellenbosch-fietsry

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!