Bloemhoffer in pylvak vir gesogte titel

Bloemhoffer in top 5 vir gesogte mode-kompetisie

Kayla Pretorius, graad 12, is onlangs as een van die Top 5-finaliste aangewys in die tydskrif Sarie, se Nuwe gesig-kompetisie.

Die wenner van hierdie kompetisie, wat in samewerking met die Isa Carstens-akademie aangebied word, word op 4 Oktober op Sarie.com aangekondig en verskyn op die voorblad van ‘n kleiner weergawe van Sarie se November/Desember-uitgawe. Die kompetisie is spesiaal vir hoërskoolmeisies tussen gr.10 en 12.

Vandat die kompetisie in 2011 begin is, was die fokus op die hutsmerk #jyisgenoeg en daag dit meisies uit om hulself as goed genoeg te ag.

Ons het ‘n paar vrae aan Kayla gestel:

Hoekom het jy ingeskryf vir die Nuwe Gesig-kompetisie?

Ek het besluit om vir die kompetisie in te skryf omdat ek die platform wil gebruik om ‘n stem te wees om ander te motiveer en te inspireer. Ek glo een persoon kán ‘n verskil maak al is dit hoe klein.

Meestal het ek dit gedoen vir my eie selfbeeld en my liefde vir die kamera. Jy is soms krities oor jouself en oor hoe ander mense jou sien.  Ek voel mense is geneig om hulself te verander om aan ander mense se onrealistiese verwagtinge te voldoen.

Ek is van kleintyd af lief vir en gemaklik voor die kamera.

Ek hou van uitdagings en toe ek hoor dis tyd om weer in te skryf vir die kompetisie het ek dit dadelik aangepak.

Hoe was die ervaring vir jou tot dusver?

Sjoe! Ek beskryf my ervaring die beste as een, groot seëning.

Die tydskrif het só groot ‘n impak gehad op die manier hoe ek myself vandag beskou vandag – ń positiewe impak natuurlik. Ek is daagliks steeds verras dat ek as ‘n finalis vir die kompetisie aangekondig is. Woorde kan eerlikwaar nie my dankbaarheid beskryf nie.

Dit voel soos ‘n sprokiesdroom en ek wag om wakker te word. SARIE skep só ‘n positiewe en gesonde beeld vir die jeug en ouer vrouens.

Wat was vir jou die lekkerste deel van deelneem?

Die lekkerste deel vir my was die opwindende fotosessies wat ek saam met my oom, Marius Pretorius, gehad het. Ek het ‘n groot liefde vir die kamera en toe ek ingeskryf het, het my oom my op soveel uitstappies geneem waar hy foto’s van my geneem het. Ek het die foto’s dan op sosiale media geplaas en die #sarienuwegesig hutsmerk gebruik. Ek het soveel gegroei en ek bedank Sarie daarvoor.

Wat is die grootste ding wat jy geleer het deur deel te neem?

Ek het besef dat my imperfeksies alles dinge is wat my uniek maak en ek het myself leer liefhê. Ek het geleer om my imperfeksies te aanvaar.

Ek het besef dat iemand altyd meer of minder as jy sal hê. Daar sal altyd iemand wees wat beter of slegter is in wat jy doen. Jy kan nie op grond van ander assesseer wie jy is of wat jy het nie en as jou fokus is op wat hulle het of doen, kan jy nooit al die buitengewone seëninge in jou eie lewe ten volle waardeer nie. Selfs jou verlede en toekoms kan nie vandag maatstawwe vir jou lewe wees nie.

In hierdie kompetisie het ek myself belowe om nie te vergelyk nie, maar om eerder dankbaar te wees vir hoe ver ek al gekom het. Elkeen is spesiaal en uniek op hulle eie manier.

Wat inspireer jou?

My ma en suster inspireer my die meeste. Hulle is my grootste rolmodelle en my beste vriendinne. Hulle het werklik die sterkste mense wat ek ken en my grootste ondersteuners. Hulle het my altyd aangemoedig om alles te aanvaar waaroor ek onseker voel.

Wat behels die toekoms vir Kayla Pretorius?

Ek beplan om volgende jaar medies “Bachelor of Nursing and midwifery” by die Universiteit Stellenbosch, of by die Universiteit van die Wes-Kaap te studeer.

Ek het in Junie gaan “Job Shadow” by Melomed Privaat Hospitaal in Bellville. Ek het daar ook besef dat ek ná my graad wil spesialiseer in pediatriese verpleegkunde.

Ek het ‘n groot passie vir jong kinders en het ‘n baie liefdevolle hart. Ek wou nog altyd iets in die mediese lyn swot en nadat ek by die hospitaal was, het ek net weer my ambisie en liefde vir omgee en “herstel” besef.  Ek droom ook om eendag deeltyds modelwerk te doen.

Het jy enige advies vir ander leerders wat oorweeg om in te skryf?

Die Sarie Nuwe Gesig-kompetisie speel ‘n baie positiewe en gesonde rol vir ander jongmense.

Die #Jyisgenoeg-hutsmerk verseker jong mense dat hul skoonheid steeds menswaardig is. Sarie sien jou as genoeg, uniek en spesiaal ten spyte wat die uitkoms mag wees. ‘n Platform soos hierdie verwelkom almal en enige iemand sonder oordeel en wys vir elkeen dat hulle genoeg is.

Ek raai ander hoërskoolleerders aan om in te skryf. Dit het my selfbeeld opgebou en dit het my gewys dat ek genoeg is. Ek was heeltemal sprakeloos toe ek uitvind ek is ‘n top 30-finalis en nog meer toe ek as ‘n top 5-finalis aangewys is. Wie nie waag nie, sal nie wen nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!