Eersterivier-voetgangerbrug, -paadjies aan Stellenbosch oorgedra
Die voetgangerbrug oor die Eersterivier en ’n netwerk van voetpaadjies is op 2 November amptelik geopen tydens ’n lintknipseremonie deur Jannie Durand (hoofuitvoerende beampte, Remgro Beperk) en burgemeester Gesie van Deventer. Hiermee is die brug en voetpaadjies wat deur Remgro gebou is aan die Stellenbosch-munisipaliteit en die publiek oorgedra. Die paadjies verbind Stellentialaan (ingang langs die Rupert Museum) met Aan-de-Wagenweg (by De Volkskombuis).
Volgens Durand is dit ‘n voorreg om deel te kan wees van die voortgesette ontwikkeling en verbetering van Stellenbosch. “Ons is trotse lede van die Stellenbosch-gemeenskap en sien daarna uit om deel te wees van verskeie planne om in die breë gemeenskap te belê.”
Die burgemeester het die nuwe voetgangerbrug en voetpaadjies beskryf as “’n reuse bate vir ons gemeenskap. As ’n munisipaliteit, werk ons graag saam met vennote soos Remgro wat bydra tot ons dorp se ontwikkeling en verbetering. Die voetpaadjies skep pragtige alternatiewe roetes vir inwoners en toeriste wat ons dorp besoek. Klim op ’n fiets of trek stapskoene aan en kom verken die pragtige voetpaadjies! Ons bedank Remgro vir hul bydra om ons dorp te verbeter en mooi te maak.”
Remgro het in 2016 met die Eersterivier-rehabilitasieprojek begin. Dit het die voetgangerbrug asook fase 1 van die voetpaadjieprojek ingesluit, as deel van die groter Remgro-eiendomsmeesterplan. Die plan is in 2013 opgestel om die Laer Dorpstraat-omgewing in ’n veelvoudige ontwikkeling en gesogte sakesektor te omskep. Dit het terselfdertyd ook die omgewing vir die breë Stellenbosch-gemeenskap verbeter.
Die brug en nie-gemotoriseerdevervoer- (NGV) voetpaadjies is die eerste deel van die eiendomsmeesterplan. ‘n Besondere kenmerk is dat dit ’n veilige voetganger- en NGV-roete oor die Eersterivier vanaf Stellentialaan en onder die R44 deur na Aan-de-Wagenweg skep. Die roete wat beligting en kringtelevisiekameras insluit, sal deur die munisipaliteit gemoniteer word. Die voetpaadjies skep alternatiewe roetes vir werkers, skoliere, voetgangers, drawwers, fietsryers en toeriste tussen die Stellenbosch-stasie, die Boord, Onder-Papegaaiberg en die Universiteit/Coetzenburg.
Die rehabilitasie-veldtog van die rivier loop hand-aan-hand met die konstruksie van die brug en voetpaadjies en sluit die verwydering van uitheemse plantegroei en die plant van geskikte inheemse plante in. Die rivierwalle word ook gerehabiliteer vir vloedbeheer en stabilisasie. ’n Onderhoudsooreenkoms is met die munisipaliteit gesluit waarvolgens Remgro die instandhouding van die rivierwalle tot einde 2023 sal doen.
Fase 2 van die voetpaadjie-projek, wat onderhewig is aan ’n publieke deelname- en wysigingsproses, strek van Aan-de-Wagenweg tot by die Krigestraat-houtbrug. Dit sal ’n veilige alternatiewe roete vir skoliere van die omliggende skole skep.
Die volgende Aan-de Wagenweg-projekte is deel van die Remgro-eiendomsmeesterplan en is reeds voltooi: Die herlewing en restourasie van die De Volkskombuis Restaurant, die Aan-de-Wagenweg draaisirkel en die Southern Sun de Wagen Hotel wat in 2021 sy deure geopen het.
Die verbreding van Laer Dorpstraat (tussen die R44 en Adam Tasweg) word beplan om verkeersdruk in Laer Dorpstraat te verlig. ‘n Erfenisimpakstudie en openbaredeelnameproses vir die projek is reeds afgehandel.
Remgro neem ook deel aan die Adam Tas Korridor-projek om die breë Stellenbosch te bevoordeel.


