Bosfietsberaad 2022: Nog fietsbane kort
Stellenbosch moet sy wêreldklas-fietsplan uitvoer en internasionaal bekend maak en besoekers aan die dorp sal agtvoudig toeneem.
Aldus Dave Pepler, genooide spreker op die Bosfietsberaad 2022 van Stellenbosch Fietsry en die Stellenbbosch Trail Fund Woensdagaand by die Neil Ellis-Wynkelder aan die Helshoogtepas buite Stellenbosch.
Pepler het ook van sy ervaringe as fietsryer sedert 1974 op Stellenbosch gedeel. Jou sig, reuk en gehoor is soveel meer as in ‘n motor. Wanneer hy huis toe ry deur Idasvallei, weet hy wie maak brijani en wie bak vis. As hy in lande in Afrika reis en sy gaste vra hom wat hy nodig het, antwoord hy: “‘n fiets.”
Hy praat met sy vriende om hulle aan te moedig om te begin fietsry. Elke persoon wat hy oortuig om te begin fietsry, word ‘n eiland, en soos mense mekaar aanmoedig om te begin fietsry, word hulle ‘n vasteland. Uiteindeik word dit ‘n kultuur van mense wat dinge anders doen.
Volgens Pepler sal fietsryers ‘n morele basis hê om aan te dring op veilige fietsbane in die dorp as hulle die wette gehoorsaam. Fietsryers moet toon dat hulle wetsgehoorsaam is.
Van die deelnemers aan die beraad het die volgende kommentaar gehad:
Raino Bolz: Ons moet kinders aanmoedig om fiets te ry skool toe.
Annemarie Ferns: Die bevordering van fietsry moet deurentyd op die burgemeester-rektorsforum bespreek word.
Ernst Gouws: Waarom is daar nie meer fietsbane in die dorp nie?
Gawie Groenewald: Geverfde fietsbane, al is dit nie veilig nie, maak motorbestuurders meer bewus van fietsryers. Daar behoort toesluitgeriewe (Nederlands: fietststallings) oral in die dorp te wees sodat fietsryers hul fietse veilig kan wegsluit.
Conrad Stolz: Kerkstraat se parkering vir motors moet verminder word.
Daar was ooreenstemming onder die aanwesiges dat daar voortgegaan moet word om met mekaar te komunikeer en dat hulle oor ‘n jaar weer moet vergader om te evalueer wat tydens die jaar gedoen is om fietsry te bevorder.



