Unieke kombinasie van kuns en bonsai by Rupert-museum

Pierneef en bonsai-uitstalling gaan baie lok

‘n Verrassing wag Saterdag 26 November op besoekers aan die Rupert Museum op hul Museumdag.

Dit is die eerste keer dat Boland Bonsai Kai ‘n bonsai-uitstalling in ‘n kunsmuseum gaan hou, en dít in die vertrek waar Pierneef se beroemde stasiepanele is en wat van sy beroemde boomskilderye bevat – ‘n vertrekpunt vir ‘n eie, eg Suid-Afrikaanse bonsaistyl, die Pierneef-styl.

So word ‘n dialoog tussen hierdie twee kunsvorme geskep en hierdie uitstalling behoort dus van ewe veel belang vir bonsaikwekers as vir kunstenaars en liefhebbers van die visuele kunste te wees.

Boonop is dit die dertigste bestaansjaar vir die Boland Bonsai, ‘n mylpaal wat beslis gevier moet word. Lede van die klub sal toere van die bome op die uitstalling om 10:00-1100; 1100-12:00 en van 15:00-16:00 aanbied en hul kennis en wenke met die besoekers deel.

Voorts sal Winfried Lüdemann, die voorsitter van Boland Bonsai Kai, ‘n demonstrasie in die biblioteek van 10:30-11:30 aanbied. Geen besprekings is nodig vir die toere of die demonstrasie nie. Bonsai-bome sal Saterdag te koop wees.

Die bonsai-uitstalling duur tot Sondag 27 November.

Een van die bome wat op die bonsai-uitstalling in die Rupert-museum sal wees is ‘n commiphora (kanniedood).

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!