Middelvlei bied weer ‘Kersliedjies teen Sonsondergang11 Desember
Dit is weer tyd vir Middelvlei se “Kersliedjies teen Sonsondergang” wat vanjaar op Sondag, 11 Desember, om 6nm plaasvind. Hierdie is ’n geleentheid vir oud en jonk om Kersfees reeds vroeg te begin vier, en veral die kleingoed kan uitsien na ’n “besoek” van Vader Krismis.
Middelvlei buite Stellenbosch is ’n wynplaas waar kinders sorgeloos kan rondhol en speel op ’n groot grasperk, plaasdiere van naderby kan beskou of aan pretspeletjies deelneem. Dit stel die ouer geslag in staat om te ontspan met ’n glas van hul gunstelingwyn uit Middelvlei se portefeulje. Die bonus van ’n asemrowende sonsondergang maak die geleentheid natuurlik soveel meer besonders.
Vader Kersfees sal ’n spesiale verskyning maak om geskenkies aan die kleingoed uit te deel en die aand word afgesluit met almal wat saam Kersliedjies sing.
Kaartjies vir die “Kersliedjies teen Sonsondergang” kos R400 per paartjie en sluit ’n boerebraai-geïnspireerde tapasbord in wat vars gemaakte soetmieliepoffertjies met ’n soet brandrissiesous, mini-braaibroodjies, en hoender- en boerewors-sosaties insluit. Nagereg is ’n opsionele ekstra.
Die kleingoed kan hul verlustig aan ’n peuselboks wat boerewors, aartappelskyfies, sap en soetgoed insluit en R90 per kind kos.
Voorafbespreking vir hierdie onvergeetlike ervaring is noodsaaklik.