Wyn-geïnspireerde skouspel kronkel op 28 Januarie deur Eikestad
Begin jou jaar op ’n hoë noot deur op Saterdag 28 Januarie by die kleurvolle jaarlikse oesparade in Stellenbosch – die hartland van Suid-Afrikaanse wyn – aan te sluit. Om die parade nog meer spesiaal te maak, vind die geleentheid plaas in dieselfde week wat Suid-Afrika die 364ste jaar sedert wyn vir die eerste keer in Mzansi gemaak is, herdenk.
Ons land is die enigste land ter wêreld met ’n amptelike aangetekende datum – 2 Februarie 1659 – vir hierdie geleentheid. Oesfeeste is egter alomteenwoordig in wyn-gemeenskappe regoor die wêreld, en dien nie net as feesviering nie, maar ook om die naderende seisoen wanneer druiwe vir die nuwe wyn gepluk word, te seën.
“Oestyd is die oomblik wanneer Moeder Natuur haar beloning vir ’n jaar se harde werk en sorg in die wingerde, verklap,” sê Elmarie Rabe, Stellenbosch Wynroetes se bestuurder.
Die Stellenbosch Wynoes-parade word in samewerking met die plaaslike munisipaliteit en Stellenbosch Wynroetes, die land se oudste wynroete, aangebied.
Elke jaar op ’n vasgestelde datum is Stellenbosch se strate vol kykers, wat na die vlotte en hul geklede gevolge kom kyk. Onder hulle is wynmakers en werkers, en ook wynliefhebbers. Dit begin die oggend by die Speelgoedmuseum in Markstraat en kronkel deur die dorp se bekende strate omsoom deur eikebome, om by die stadsaal af te sluit met ’n kort seremonie. Hier sal die burgemeester van Stellenbosch, wat ook die fees se beskermheer is, amptelik die oes seën. Die parade vertrek weer vandaar en eindig weer in Markstraat.
Die gewilde trofees vir beste gees en beste vlot, sal ook toegeken word en die wynroete nooi oud en jonk uit om hulle te kom aanmoedig.
Datum: Saterdag, 28 Januarie 2023
Tyd: Die parade begin om 09:30 by die Speelgoedmuseum in Markstaat.