Nuwe oesjaar spog met Erfenisseël en vertel ’n wilde verhaal
Die jaar 1986 was…wild. En nie net omdat Delheim se Ou Jong-wingerd – die een waaruit sy beroemde Wild Ferment Chenin Blanc kom – toe aangeplant is nie. Die Stellenbosch-wynkelder het wel pas sy jongste oesjaar vrygestel, die eerste sedert hy amptelike Erfeniswingerd-status bereik het.
Maar benewens dié kamstige wildheid, is die Delheim Wild Ferment Chenin Blanc 2021 die toonbeeld van dié bekende kelder in familiebesit, se slagspreuk: “Die reis werd”.
Die spesiale seël en reeksnommer wat elke bottel nou dra, waarborg sy stamboom, maar dui ook op daardie wilde era wat verband hou met die maak van die wyn self. Delheim laat die “wilde” gis rondom die kelder – eerder as om kommersiële gis by te voeg – toe om fermentasie aan te wakker.
“Ek hou van spontane- of wilde gisting met hierdie wingerd, want dit is oud genoeg om ’n storie te vertel,” sê Roelof Lotriet, keldermeester. “Jonger wingerde is soos kinders wat steeds leiding nodig het. Ouer wingerde soos die blok wat ons vir die Wild Ferment Chenin Blanc gebruik, het reeds baie winters deurleef en kan baie verhale vertel.
“Vir my is dit soos daardie familielid wat al die beste stories by die kampvuur of etenstafel vertel,” sê hy.
En watter stories sou dié wyn nie alles kon vertel nie!
“1986 was ’n tyd van intense kreatiwiteit,” sê Roelof.
“Top Gun was ’n massiewe loket-treffer en Metallica se Master of Puppets-album is vrygestel. Vandag is Top Gun terug op nommer een by die loket en Master of Puppets is weer in die mode, danksy Netflix se treffer-reeks Stranger Things.”
Queen het ook in 1986 sy It’s a kind of Magic-album vrygestel en die eerste groep musikante is opgeneem in die Amerikaanse Rock ’n Roll Hall of Fame. Dit het Elvis Presley, James Brown, Little Richard, Fats Domino, Chuck Berry, Ray Charles, Sam Cooke, die Everly Brothers, Buddy Holly en Jerry Lee Lewis ingesluit. Dit was ook die jaar wat die Oprah Winfrey Show gedebuteer het en boonop was dit die jaar wat Roelof gebore is.
“Dit was – en is – regtig ’n wilde tyd om te lewe,” sê hy.
Roelof verduidelik dat slegs een blok wingerd vir die Wild Ferment Chenin Blanc gebruik word. Om te verhoed dat ’n een-dimensionele wyn gemaak word, fermenteer Delheim die wyn in verskillende houers, soos ouer 500 liter Franse eikehoutvate en eiervormige betontenks.
“Ek gebruik ouer vate, omdat ek soveel moontlik van Delheim se Chenin blanc-vrugte in die wyn wil laat praat en nie Franse terroir nie.”
Dit word vir nog “nege of so” maande op die gismoer gelaat, voordat die finale versnyding gedoen word. ’n Baie ligte filtrasie word voor bottelering gedoen.
“Vir my is hierdie wyn die wonderlike verhaal van Delheim en sy baanbreker geskiedenis in die Suid-Afrikaanse wynbedryf,” sê Roelof.
Oor erfenis sertifisering
In al die wynlande van die wêreld word ou wingerde met trots op etikette genoem. Dit is die waarde wat aan hierdie oues en die wyne wat hulle produseer, toegeken word. Dis egter net in Suid-Afrika waar dit moontlik is dat hierdie aanspraak deur die regulerende owerheid gesertifiseer word. Hier kan lede van die Old Vine Project (OVP) saam met die plantdatum, ’n Certified Heritage Vineyards-seël op bottels aanbring, wat van wingerde van 35 jaar of ouer gemaak word. Dit is wynliefhebbers se waarborg van outentieke wyne, wat volgens die OVP-wingerdbou- en wynmaak riglyne gekweek word.
Proenotas
Die Delheim Wild Ferment Chenin Blanc 2021 toon ’n komplekse reeks kenmerke, wat met hierdie styl geassosieer word. Oorheersende geure is steenvrugte en lemoenskil, wat ondersteun word deur ’n subtiele skeutjie kanferfoelie. Daar is lewendige vrugte op die tong met ’n oorvloedige mondgevoel en ’n talmende nasmaak.
Roelof stel voor dat die wyn met goeie berging vir ten minste ses jaar van die oesjaar sal verouder.

