Tussenverkiesing kry kinkel in kandidaat-kabel

Tussenverkiesing in Paradyskloof kry wrang smaak na persoonlike aanval op kandidaat

Danie Keet

Die verkiesing van ‘n wyksverteenwoordiger vir Paradyskloof (wyk 21) op Stellenbosch het ‘n kinkel gekry met lede van die DA wat onderling ‘n valse boodskap gestuur en mekaar wederregtelik vermaan het oor hul teenstander se gesondheidstoestand.

Dit is waarskynlik gedoen om dit as wapen teen haar kandidatuur te gebruik wanneer kruisies môre (8 Maart) getrek word.

Die herrie het ontstaan toe Rikus Badenhorst, ‘n prominente DA-lid en die voormalige wyksverteenwoordiger in wyk 21 en nou lid van die provinsiale wetgewer, op ‘n sosiale mediaplatform so ‘n waarskuwing teen Dawn van Wyk, onafhanklike kandidaat vir die wyk, gemaak het.

Verskeie senior DA-lede, wat ook lede van die provinsiale en nasionale vergadering is, het die boodskap ontvang en soos dit maar met sosiale media gaan, het die boodskap uitgelek en is dit gou wyd versprei. Hulle het egter nerens erken dat die boodskap vals is of dat dit dalk ‘n skending van persoonlike regte is nie.

Volgens Van Wyk grens die optrede van die DA-politici aan naamskending en die skending van haar menseregte en reg op privaatheid.

Badenhorst het nie op WhatsApp-boodskappe en telefoniese pogings om sy mening te kry, gereageer nie.

Gesie van Deventer, DA-burgemeester, het by navraag  ontken dat sy van die boodskap geweet het en dat sy nie in die DA se politieke strukture in Stellenbosch of die provinsie dien nie.

“Ek het geen persoonlike kennis van die beweerde gebeure nie en kan nie kommentaar lewer nie. Kommentaar moet eerder van die provinsiale strukture gevra word,” het sy in ‘n verklaring aan www.stellenboschmonitor.com gesê.
Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof, is indringend oor die aangeleentheid uitgevra, maar was nie bereid om op al die vrae te antwoord nie.

Hy het in ‘n e-posantwoord gesê weens die realiteit dat hierdie gerugte net mooi niks te doen het met DA-kommunikasie nie, kan hy slegs die volgende sê: “Dit is onmoontlik om kommentaar te lewer op gerugte oor private gesprekke wat op geen stadium deel uitmaak van DA kommunikasie nie. Die DA se verkiesingsboodskap bly deurentyd gefokus op ons bewese rekord van goeie regering.”

Ander vrae wat aan Schreiber gestel is, sluit in wat sy mening hieroor is, watter optrede deur die DA gedoen gaan word oor hierdie opmerking, wat die DA se provinsiale bestuur hieroor sê en of daar optrede gaan wees teenoor die persoon wat dit gesê het, asook teen die ander DA-lede wat die boodskap ontvang het en van die inhoud daarvan bewus is.

Schreiber het ook gesê hy sukkel om te verstaan waarom dit in terme van POPI- en ander wetgewing eties regverdigbaar sou wees om oor hierdie inligting, wat op geen stadium deel vorm van enige DA verkiesingskommunikasie nie, te berig.

Oor Schreiber se mening dat die POPIA-wet beperkinge op die publisering van sulke inligting kan plaas, het ‘n mediakenner, George Claassen, gesê die POPIA-wetgewing is nie op joernaliste van toepassing nie.

POPIA is nie van toepassing as persoonlike inligting uitsluitlik vir joernalistieke doeleindes, literêre of artistieke uitdrukking verwerk word nie.

“’n Whatsapp-groep is sosiale media. Dit is in die openbare belang dat iemand wat die private mediese rekord oor iemand anders op so ‘n groep deel, aan die kaak gestel word, veral nog as die persoon homself as kandidaat verkiesbaar stel. Aangesien dit gaan oor openbare verteenwoordiging, is dit belangrik dat inwoners en kiesers weet met wie hulle te doen het,” het hy dit beklemtoon.

“Een van die grondbeginsels van die DA, soos dit op hul eie webwerf verkondig word, is dat die party enige vorm van onregverdige diskriminasie op enige gronde verwerp. In my geval verbreek hulle dus hul eie waardestelsel,” het Van Wyk gereageer.

“Die feit dat Schreiber meen die boodskap was nie op amptelike DA-kommunikasie nie, beteken niks – die persoon wat dit uitgestuur het, is ‘n senior DA-lid wat namens die party optree. Schreiber se naam was ook op die verspreidingslys. Hy is ook lid van die nasionale parlement en sulke gedrag en optrede kan deur niemand goedgepraat word nie. Die feit dat daar nie ‘n DA-stempel op die boodskap was nie, ontken geensins sy betrokkenheid by die party nie,” het sy gesê. Sy oorweeg tans verdere stappe teen sowel die verspreider as ontvangers van die boodskap.

Dawn van Wyk, onafhanklike kandidaat in wyk 21.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!