PRG se 157ste jaar skop af met verjaarsdagweek vol betekenis
Die eerste week van Maart was verjaarsdagweek by Paul Roos Gymnasium. In 2023 spog Paul Roos met 157 jaar se top-klas opvoeding vir leerders wat hul weg na dié Stellenbosse hoërskool baan.
Op Dinsdag 28 Februarie is die verjaarsdagweek met ‘n tradisionele saalbyeenkoms afgeskop. By hierdie geleentheid is leerders deur die rektor, sowel as oudleerders van die skool, toegespreek. Van dié ouleerders was PRG se 1973-hoofseun, Skip Krige, wat saam met die matrieks van ’73 ‘n skoolbesoek afgelê het en ook die seremonie bygewoon het. Die voorsitter van die oudskoliere-unie, Nils Flaatten (1987) het ook ‘n spreekbeurt gekry.
Die spesiale geleentheidspreker van die geleentheid was die skrywer, joernalis en oudleerder, Pieter du Toit (1997). Sy skryfvaardighede het op skool reeds begin ontwikkel toe hy redaksielid van Paul Roos se Semper was. Na sy studies en indiensneming by Volksblad (Bloemfontein) en Beeld (Pretoria, Kaapstad en Johannesburg), is hy nou as assistant-redakteur by Netwerk24 aan die stuur van ondersoekende joernalistek. Hy het drie boeke – almal topverkopers in Suid-Afrika – “The ANC Billionaires: Big Capital’s Gambit and the Rise of the Few (2022)”, “The Stellenbosch Mafia: Inside the Billionaire’s Club” (2019) en “Enemy of the People: How Jacob Zuma Stole South Africa, and How the People Fought Back” (2017) geskryf.
Soos net ‘n joernalis kan, het Pieter vir die leerders ‘n blitsprentjie van politieke, ekonomiese en tegnologiese verwikkelinge oor die laaste 30 jaar in Suid-Afrika én die wêreld geskets. Sy toespraak het geeïndig oor die onopgesmukte stand van sake vandag, en hoe Paul Roosers (met goeie bedoeling) hul opvoeding en sterkpunte kan inspan om positiewe veranderinge en oplossings vir Suid-Afrika én die wyer wêreld teweeg te bring.
Op 1 Maart, Paul Roos se 157ste verjaarsdag, het die skool die PRG-leerderbal aangebied – ‘n sosiale geleentheid waar 41 skole van die omgewing se leerderrade uitgenooi is om mekaar beter te leer ken en in die komende jaar saam te werk en in leierskap te groei. Paul Roos se leerderraad het oudergewoonte besoek afgelê by die monument vir die skool se stigterslede waar hulle ‘n tradisionele kranslegging gehou het.
Op 3 Maart het 1300 Paul Roos-leerders die eerste Tiger Wheel & Tyre-PRK kaskar Fundracer aangebied. Die doel van die prettige kompetisie was om fondse vir die Borg-‘n-Paul-Rooserfonds in te samel. Registerklasse het kragte saamgesnoer om self fondse vir die fonds in te samel. Op Vrydag, 3 Maart het die klasse mekaar die stryd op die kaskar-baan aangesê. Plaaslike motorhandelaars Suzuki Stellenbosch, NTT Volkswagen Stellenbosch en Rothman’s Autos het almal saam met Tiger Wheel & Tyre as borge van dié spesiale insiatief opgetree. Plaaslike restaurante en ander besighede soos Gino’s, Casa Cerveza, RocoMamas, Jack’s Bagels, BP Dorpstraat, Eerste Kafeeversameling en die Paul Roos Kwikspar het as prysborge opgetree. Tussen die seuns en borge is genoeg fondse ingewin om twee skoolleerders vir ‘n jaar te ondersteun.
Die hoogtepunt van elke senior Paul Rooser se verjaarsdagweek is die jaarlikse verjaarsdagbal. Die verjaarsdagweek eindig met dié gewilde sosiale geleentheid, waar leerders van Paul Roos se suster- en buurskole uitgenooi word as metgeselle.
‘n Tema wat sterk in Paul Roos se 157ste jaar figureer, berus op een van Paul Roos se 7 kernwaardes, verantwoordelikheid. Waar top-gehalte opvoeding geniet word, lê ook verantwoordelikheid om vir die wyer gemeenskap van waarde te wees. Paul Roos is trots op sy oudleerders én leerders wat hul tyd inspan om ‘n verskil in die lewens van ander te maak.





