Ontelbare 48 eersdaags by Adam Small-teaterkompleks
Die Ontelbare 48, ‘n eenmanstuk uit die pen van Wessel Pretorius, kom maak hierdie September ʼn draai by die US Adam Small-teaterkompleks in Stellenbosch. Hierdie teaterstuk is die tweede aanbieding in die Adam Small-teaterprojek wat vroeër vanjaar afgeskop het as deel van teaterherlewing in Stellenbosch.
En watter fantastiese vertoning om die eerste produksie, Die Fel Omstrede Kroon van Edward 2 en Gaveston deur Marthinus Basson, mee op te volg. Die Ontelbare 48 met Wessel Pretorius (regie, teks en vervaardiger) het juis vier Fiësta-nominasies, insluitend beste produksie, vir hierdie uitmuntende solostuk ontvang.
Waaroor gaan die stuk?
Dis Woensdagaand op ʼn klein plattelandse dorpie in die Laeveld. Die skoolsaal word ingerig vir die maandelikse fliekaand. Agt-en-veertig dorpenaars vergader bymekaar, elkeen met sy eie storie, om The Sound of Music te kyk. Tussen hulle sit ʼn moordenaar met ʼn sluwe plan.
“Dit is ʼn mikrokosmiese blik op die alledaagse menslikheid wat ons almal, maak nie saak hoe anders ons dink of leef nie, eindelik saambind. ʼn Satiriese drama wat die mens se uithouvermoë vier,” sê Pretorius.
Daar is vier karakters: ʼn gefrustreerde hokkie-afrigter en ma, ’n hoërskoolseun wat bewus word van sy gay-seksualiteit, ’n drama-afrigter, en ’n dogtertjie van vyf.
Meer oor Wessel Pretorius
Wessel Pretorius het in 2015 die Afrikaans Onbeperk-prys vir ʼn jong stem gewen. Hy het ook vier Fiesta-toekennings en die Woordtrofeë vir beste dramaproduksie vir sy solostuk Ont-ontvang. Ont- is later deur Hennie van Greunen vertaal as Undone en het getoer na die Fringefees in Edinburg, Afrovibes in Nederland, die Wiener Festwochen in Wene en die Nasionale Kunstefees in Grahamstad waar dit die Standard Bank Ovation (goud) gekry het.
Pretorius het ook die teaterstukke Waterpas, wat ‘n Kanna-toekenning vir beste komedie ontvang het, Die dag is bros, wat vyf Fiësta-benoemings en die ATKV-Woordveertjie vir beste drama gewen het, Sandton City Grootdoop, Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof trilogie, I love You Sally Field (and other stories) en Renaissance, geskryf.
Die Ontelbare 48 is tussen Dinsdag 12 tot Saterdag 16 September 2023 by die US Adam Small-teaterkompleks in Stellenbosch op die planke. Kaartjies is deur Quicket beskikbaar en kaartjiepryse begin by R100 per persoon.
Baie belangrik, geen o.13 (taal) sal toegelaat word nie.