Opwindende teaterjaar lê voor – Theart van Teksmark

Agtste Teksmark, inspireer, daag uit

Teksmark was ’n inspirerende geleentheid met opwindende teaterkonsepte en insiggewende gesprekke, wat ook uitgedaag het.”

So sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, wat die agtste Teksmark verlede week by die Baxter-teater in Kaapstad aangebied het.

Volgens Theart was dit opvallend dat daar gewaag word met temas wat wyer as die self en identiteit kyk, maar met ’n groter, meer holistiese aanslag na die wêreld. “Volgende jaar gaan beslis ’n interessante teaterjaar wees en dit maak my opgewonde dat daar met ’n nuwe lens na die verlede gekyk word, met ’n blik na die hede én die toekoms, sonder om in die onmiddellike wêreld vasgevang te word.”

Teksmark, wat sedert 2016 aangebied word, is nie ’n kompetisie nie, maar skep ’n platform vir opkomende en gevestigde skrywers om hul teks-idees voor verteenwoordigers uit die teaterbedryf, asook potensiële beleggers en die publiek te toets.

“Soveel sterk tekste is die afgelope drie dae hier voorgelê, dat verskeie verdere gesprekke reeds aan die gang is en nog agter die skerms gaan plaasvind – met vennote wat nie hier kon wees nie, wat ook besig is om teks-idees te lees en na die opnames te kyk. Een ding is seker: Daar is opwindende teaterwerk op pad vir 2024 en 2025,” sê Theart.

Vir Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter-teater, begin alles met ’n teks. “Ek glo werklik in Teksmark. ’n Projek soos hierdie is baie belangrik vir die industrie. Daar is geen gelyke vir die innoveer, inspireer en uitbrei in die omvang van verbeelding en intellek, wat deur ’n goeie skrywer na die verhoog gebring kan word nie. Dit gaan oor innoverende dialoog en ons moet die skrywers op hierdie manier ondersteun.”

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê vanjaar se Teksmark was een van dié projek se bestes. “Die aanbod van tekste was besonders sterk en ek is meer opgewonde oor die toekoms van teater as ooit vantevore,” sê sy. Faasen het ook aangekondig dat ’n nuwe teksontwikkelingsprojek later vanjaar vir die eerste keer in Gauteng aangebied word.

Die TV-aanbieder Kabous Meiring het die sessies gefasiliteer, waar skrywers ’n geleentheid gehad om oor teks-idees te gesels en daarna vrae uit die gehoor kon beantwoord. Vanjaar se 18 tekste is: Dryfhout deur Nell van der Merwe, Found deur Darryl Nel, Ken jy vir Dewie? deur Ilne Fourie, Khanya and Her Golden Dream deur Sibahle Mabaso, Kontrapunt deur Jason Jacobs & Devon Delmar, Mahlomola a Lockdown – An Unspoken Story of Covid-19 deur Ngwako Maifala, Martha deur Ilse van Niekerk & Albert Maritz, Moedswil en muitery deur Ingrid Winterbach, Ontbaar deur Philip Rademeyer, Please don’t call me Moffie deur Zubayr Charles, praat gou weer deur Kanya Viljoen, Punchlines deur Brent Palmer, Stoffel deur Elisha Zeeman-Knoesen, The Good White deur Mike van Graan, The Massacre at Mount Ursula deur Louis Viljoen, Tot ’n einde deur Ludwig Binge, Verloren deur Andi Colombo en Waar die wind ons waai deur Mikyall Harris.

Vir meer inligting oor Teksmark 2023 kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, telefonies by 044 203 8600 of via WhatsApp by 065 285 2337.

  • Teksmark word finansieel ondersteun deur NATi, die Baxter-teater en die Het Jan Marais Nationale Fonds, met gebruik van fasiliteite en infrastruktuur vir dié projek wat deur die Baxter-teater geborg word.

‘n Toneel uit een van die Teksmark-produskies. Foto’s: Nardus Engelbrecht

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!