Stellenbosch-munisipaliteit – ‘Red ons natuurreservaat’

Inwoners kry geen hulp van Raad om Papegaaiberg te red

Inwoners van Onder-Papegaaiberg is erg gegrief oor die verval van die Papegaaiberg-natuurreservaat en dat geen hulp vir die bewaring daarvan van die Stellenbosch-munisipaliteit verkry word nie.

Besoekers aan die reservaat is in gevaar en ondervind gereeld aanvalle op mense wat daar stap.

In die afgelope drie maande is 28 misdade aangemeld en ‘n inwoner van Onder-Papegaaiberg, wat aan die reservaat grens, is in Februarie vanjaar in ‘n aanval 24 keer met ‘n mes gesteek.

Dit is ‘n probleem wat reeds geruime tyd sloer en min word gedoen om aan die klagtes van die inwoners gehoor te gee.

‘n Vrou wat verlede week daar gaan stap het, is deur ‘n rondloperhond aangeval. Gelukkig het sy ernstige beserings vrygespring, maar haar hond is kwaai gebyt.
Karen Coetzee vertel dat sy met haar hond in die reservaat gaan stap het toe hulle aangeval is.

“Eers was daar net een hond wat losgeloop en my hond bestorm het. Kort daarna het ons op ‘n groep mans afgekom wat ongeveer 15 honde by hulle gehad het. Dis duidelik ‘n groep wat met hul honde in die reservaat jag. Die mans het ook uit die rigting van Onder-Papegaaiberg se woonbuurt gekom en ‘n mens wonder wat hulle daar gaan soek het. Hulle word ook gereeld in die omgewing van die begraafplaaas opgemerk,” het sy vertel.

Volgens Pretorius is daar gereeld aanvalle op mense en honde, sowel as inbrake en diefstal in die huise en tuine van inwoners van die buurt. Hulle het al met die plaaslike SAPD probeer skakel, maar daar het niks van gekom nie. Die munisipaliteit steur hom skynbaar ook nie aan die probleem nie.

“Ons kry geen antwoorde van die munisipaliteit nie. Wat die groepe mans met die klomp honde doen is om die honde op te steek om ander honde aan te val en dan beroof hulle die eienaars. Daar is al etlike sulke voorvalle aangemeld. Inwoners is egter al moeg daarvoor om die aanvalle aan te meld omdat daar gewoonlik geen reaksie uit owerheidsweë is nie.

“Die groot voertuighekke wat toegang vanuit Kayamandi na die reservaat bied, is onwettig en word  gebruik om onwettige toegang tot die reservaat te verkry. Dit lei tot die vernietiging van plantegroei en die dierelewe.”

Inwoners kla ook dat die reservaat soos ‘n groot ablusiegerief lyk en ruik en dat afval orals gestort word, sonder dat enigiemand daarteen optree.

Nog ‘n inwoner vertel hy het talle vergaderings met die burgemeester, Gesie van Deventer, en van haar direkteure gehad maar geen stappe is geneem nie.

Die reservaat, wat onder die munisipaliteit se jurisduksie val, is deur die provinsiale regering aan hom oorgedra en toevertrou, maar volgens inwoners van Onder-Papegaaiberg word hierdie verantwoordelikheid nie nagekom nie.

Om hierdie rede het die inwoners nou ‘n petisie opgetrek wat eerskomende Dinsdag aan die Stellenbosse burgemeester oorhandig gaan word. In die petisie word daar genoem dat:

  • inwoners van Onder-Papegaaiberg hoë vlakke van misdaad ervaar
  • daar onvoldoende toesig oor die natuurreservaat is
  • daar min en stukkende sekuriteitskameras is wat swak gemoniteer word
  • hulle besorg is oor ‘n verharding in gesindhede en wil saamwerk aan ‘n spoedige oplossing
  • net gedeeltes van die reservaat omhein is en die elektriese heining is buite werking
  • menslike afval die water besoedel waar ‘n onwettige informele nedersetting tans ‘n gedeelte van die reservaat as veldtoilet gebruik
  • snags is die reservaat vir misdadigers ‘n deurgang na Onder-Papegaaiberg
  • ‘n Groot segment van die heining langs Bokmakieriestraat is verwyder. Daar word snags gate in die bestaande heining geknip om toegang tot die woonbuurt te verkry en inwoners moet self die heining herstel. Die elektriese drade bo-op die heining is nooit aktiveer nie.
  • Daar is tans geen werkende veiligheidskameras in die buurt om met misdaadvoorkoming te help nie.

Voortelle van die belastingbetalers van Onder-Papegaaiberg sluit in:

  • Sluit padingange na die reservaat. Behou net twee ingange vir noodvoertuie en dienste, en sluit die hekke.
  • Skep drie beheerde voetgangeringange om in te pas by die beplande Adam Tas-korridor, byvoorbeeld by die begraafplaas, Striker Meat en Bergkelder. Die ingange moet bedags beman word en tussen 20h00 en 06h00 gesluit word. Daar moet geen direkte toegang na die reservaat toegelaat word uit die omliggende woonbuurte nie.
  • Sekuriteitswagte moet aangestel word om deurentyd die hele heining te patrolleer.
  • Die heining in Bokmakieriestraat moet onmiddellik herstel word en die oorgroeide dele langsaaan moet ontbos word. Die heining in Bokmakieriestraat moet ook geëlektrifiseer word.
  • Sekuriteitskamera’s moet by drie voertuigingange aangebring word – hoek van Flamingo- en Bokmakieriestraat, hoek van Tarentaal- en Devonvalleistraat (by TFD) en die nuwe sirkel in Devonvalleistraat.

Papegaaiberg Natuurreservaat 

Die reservaat is Stellenbosch dorp se mooiste natuurbate en beslaan 317 ha van fynbos en renosterveld, verskeie soorte fauna en ‘n onbelemmerde uitsig van 360-grade oor die dorp en omliggende berge tot by die see. Die verwaarlosing van hierdie geproklameerde, nasionale bate word deur inwoners as ‘n aanklag teen die munisipaliteit beskou. Dit is soveel belangriker aangesien die reservaat deel uitmaak van die beplande Adam Tas-kooridor,een van die grootse ontwikkelings nog op Stellenbosch.

Teken die petisie dat die munisipaliteit moet optree teen die indringing en stadige vernietiging van die Papegaaiberg-natuurreservaat hier:

https://chng.it/CQBDbnzy

Die volgende vrae is aan die munisipaliteit gestuur, maar met die ter perse gaan is geen reaksie nog ontvang nie. Dit sal bygewerk word sodra dit verkry is.

Wat doen die munisipaliteit om orde in die reservaat te handhaaf?

Word die reservaat gereeld gepatroleer?

Watter maatreëls is in plek om inwoners van Onder-Papegaaiberg te beskerm?
Wat doen die munisipaliteit aan diegene wat troppe jaghonde aanhou en in die reservaat jag – en ook in die omgewing van die begraafplaas daar?

Bytmerke aan die been van ‘n vrou wat onlangs in die Papegaaiberg-natuurreservaat gaan stap het en deur rondloperhonde aangeval is.

Groot dele van die reservaat lyk soos ‘n rommelhoop en ruik soos ‘n veldtoilet.
‘n Tweede varkboerdery is nou in die rerservaat gevestig.

Onwettige toegangspaaie lei tot die vernietiging van fauna en flora in die reservaat.
Perde loop onwettig los in die reservaat.
Groot dele van die heining om die reservaat is beskadig en verwyder en word ook nie deur die munisipaliteit in stand gehou nie.
Onwettige strukture word al hoe meer binne die reservaat se grense.

Onwettige boerdery-aktiwiteite word toenemend in die reservaat toegelaat.

3 Replies to “Stellenbosch-munisipaliteit – ‘Red ons natuurreservaat’”

  1. Dis ‘n Godskreiende skande dat die mooie area/omgewing so verval het en dat daar, ten spyte van jarrre se klagtes deur die korrekte kanale dadels van gekom het.
    Hierdie toedrag van sake is ‘n aanklag teen die verantwoordelike leiers/rolspelers van alle betrokke afdelings,
    Sies man….

  2. Lyk my die munisipaliteit het die reservaat eenvoudig vir die plakkers gegee. As oud-Stellenboscher betreur ek die agteruitgang en verval wat ek elke keer sien met ń besoek. As kind het ons graag in die reservaatgebied gestap. Dis ook nou onmoontlik om die begraafplaas te besoek – te on veilig.

  3. Die petisie word op Dinsdag 12/09 tussen 13h en 14h aan die BM oorhandig by die munisipaliteit en ons hoop dat inwoners ons daar sal kom ondersteun. Twwe eposse is al aan Gesie gestuur rakende die reëlings maar sy het nog nie geantwoord nie… die DA moet besef dat hulle besig is om die stemme van die inwoners te verloor….Die petisie word nie nou gesluit nie, ons gaan nou nasionaal en ons gaan voort met ons poging om die reservaat te red!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!