Inwoners woedend oor Papegaaiberg-verval
Danie Keet
Meer as 50 inwoners van die woonbuurt Onder-Papegaaiberg het gisteroggend by Stellenbosch se munisipale kantoor byeengekom om ‘n petisie aan die burgemeester te oorhandig. Inwoners van Onder-Papegaaiberg is erg gegrief oor die verval van die Papegaaiberg-natuurreservaat en dat geen hulp vir die bewaring daarvan van die Stellenbosch-munisipaliteit verkry word nie.
“Die burgemeester het nie opgedaag vir die oorhandiging van die petisie nie. Sy het verlede week twee e-posse ontvang met die versoek om dit in ontvangs te neem. Ek is baie teleurgesteld dat sy nie bereid was om te kom luister na die stemme van meer as 3000 inwoners wat vandag teen 13:30 reeds die petisie onderteken het nie. Sy het nou groter probleme as net mediadekking oor die munisipaliteit se onwaar stelling dat daar nie onwettige strukture in die reservaat is nie – sy het vandag my stem verloor,” het Karin Coetzee wat die groep gelei het, aan Geraldine Mettler, die munisipale bestuurder wat die petisie ontvang het, gesê.
“Die petisie word vandag nasionaal versprei en ons hoop dat alle Suid-Afrikaners ons pogings om hierdie nasionale bate in die Wes-Kaap te red, sal ondersteun. Mense is gatvol vir amptenare wat nie hul werk doen nie, politieke speletjies speel en nie wette toegepas nie. Mettler is die administratiewe hoof wat onmiddellik sal moet werk maak van hierdie dreigende vernietiging van die reservaat. Dit is ‘n skreiende skande dat mense nie die reservaat kan gebruik nie omdat dit te gevaarlik is om te betree. Die verval moet voor haar deur gelê word omdat dit departemente onder haar beheer is wat vir die instandhouding van die reservaat verantwoordelik is.
“Belastingbetalers betaal maandeliks R700 000 aan die Red Ants-veiligheidsmaatskappy om die reservaatgrens te monitor en onwettige strukture af te breek – hoekom weet hulle nie van die onwettige plakkershutte en twee nuwe varkplase binne die reservaat se grens nie? Op hommeltuig-fotos wat verlede week geneem is, kan hierdie onwettige strukture duidelik gesien word. Die oorspronklike geproklameerde grense van die reservaat bestaan nie meer nie – die munisipaliteit het reeds twee keer die grense verskuif om onwettige plakkershutte en vorige varkplase te akkommodeer. Hoeveel keer wil hulle dit nog doen en wat gaan oorbly?
“Al die wildsbokke wat in die reservaat was, is reeds gevang en dood gemaak deur die inwoners van die plakkerskamp wat met troppe honde jag. Ek en my hond is in die reservaat gedreig deur ‘n trop van ongeveer 15 losloperhonde en hul eienaars – dit was vreesaanjaend en ek moes drastiese stappe neem om my hond se lewe te red. Die jagters en hul honde loop ook in die aangrensende woonbuurt rond, die honde word aangehits om die mense aan te val en werkers word ook so beroof,” het Coetzee gevra.
Sy wou ook weet wat geword het van die geld wat die Rupert-familie geskenk het vir die reservaatheining en hoekom dit nie gebruik word om die gate in die heining te herstel nie. Volgens Coetzee is daar is ‘n groot dooie stuk veld teen die helling reg langs die reservaatheining wat afloop na die Plankenburgrivier en wat deur inwoners van die onwettige plakkerskamp gebruik word as veldtoilet. Die rivier loop uit in die Eersterivier en die besoedelde water moet deur besproeiingsboere gebruik word. Perde en varke loop ook in die reservaat rond.
Besoekers aan die reservaat is in gevaar en in die afgelope drie maande is 28 misdade aangemeld, terwyl ‘n inwoner van Onder-Papegaaiberg, wat aan die reservaat grens, in Februarie vanjaar in ‘n aanval 24 keer met ‘n mes gesteek is.
Dit is ‘n probleem wat reeds geruime tyd sloer en min word gedoen om aan die klagtes van die inwoners gehoor te gee.
‘n Vrou wat verlede week daar gaan stap het, is deur ‘n rondloperhond aangeval. Gelukkig het sy ernstige beserings vrygespring, maar haar hond is kwaai gebyt.
Volgens Coetzee is daar gereeld aanvalle op mense en honde, sowel as inbrake en diefstal in die huise en tuine van inwoners van die buurt. Hulle het al met die plaaslike SAPD probeer skakel, maar daar het niks van gekom nie. Die munisipaliteit steur hom skynbaar ook nie aan die probleem nie.
“Ons kry geen antwoorde van die munisipaliteit nie. Wat die groepe mans met die klomp honde doen is om die honde op te steek om ander honde aan te val en dan beroof hulle die eienaars. Daar is al etlike sulke voorvalle aangemeld. Inwoners is egter al moeg daarvoor om die aanvalle aan te meld omdat daar gewoonlik geen reaksie uit owerheidsweë is nie.
“Die groot voertuighekke wat toegang vanuit Kayamandi na die reservaat bied, is onwettig en word gebruik om onwettige toegang tot die reservaat te verkry. Dit lei tot die vernietiging van plantegroei en die dierelewe.”
Die reservaat, wat onder die munisipaliteit se jurisduksie val, is deur die provinsiale regering aan hom oorgedra en toevertrou, maar volgens inwoners van Onder-Papegaaiberg word hierdie verantwoordelikheid nie nagekom nie.
In die petisie wat aan die Stellenbosse munisipaliteit oorhandig is, word daar genoem dat:
- inwoners van Onder-Papegaaiberg hoë vlakke van misdaad ervaar
- daar onvoldoende toesig oor die natuurreservaat is
- daar min en stukkende sekuriteitskameras is wat swak gemoniteer word
- hulle besorg is oor ‘n verharding in gesindhede en wil saamwerk aan ‘n spoedige oplossing
- net gedeeltes van die reservaat omhein is en die elektriese heining is buite werking
- menslike afval die water besoedel waar ‘n onwettige informele nedersetting tans ‘n gedeelte van die reservaat as veldtoilet gebruik
- snags is die reservaat vir misdadigers ‘n deurgang na Onder-Papegaaiberg
- ‘n Groot segment van die heining langs Bokmakieriestraat is verwyder. Daar word snags gate in die bestaande heining geknip om toegang tot die woonbuurt te verkry en inwoners moet self die heining herstel. Die elektriese drade bo-op die heining is nooit aktiveer nie.
- Daar is tans geen werkende veiligheidskameras in die buurt om met misdaadvoorkoming te help nie.
Stuart Grobbelaar, die munisipale woordvoerder, het gesê wanneer nuwe lugfoto’s met oues vergelyk word, kan daar gesien word dat daar geen nuwe strukture in die gebied opgerig is nie. Hy het ook gesê die munisipale wetstoepassingsafdeling doen gereelde monitering en dat hulle kan bevestig dat daar geen nuwe strukture is nie.
Een van die inwoners van Onder-Papegaaiberg wat nou betrokke is by die pleidooi om die reservaat te beskerm, het in reaksie hierop gesê dat geen reservaat se grense so krom en skeef uitgemeet sal word om strukture by die informele nedersetting in te sluit nie. “Dit is duidelik dat die grensheining verskuif is om die strukture deel van die woongebied te maak,” het hy gesê
In ‘n vroeëre verklaring het Grobbelaar erken dat enige vorm van oorskreiding van grense na openbare grond, soos die natuurreservaat, onwettig is en dat daar opgetree word wanneer en soos nodig. Hy het ook erken dat lewende hawe, soos varke, al vir etlike jare op grond langs die reservaat deur kleinboere aangehou word.
“Op versoek van die munisipaliteit het kundiges van die Elsenburg-landboukollege gereeld inspeksies hier uitgevoer. Die munisipaliteit het kennis geneem van die inwoners se bekommernis oor veiligheid in die reservaat en ons onderneem om sterk wetstoepassingsaksies toe te pas.
“Ongelukkig is openbare veiligheid nie die munisipaliteit se kernverantwoordelikheid nie en dit berus by die SAPD. Ons sal egter as ‘n saak van dringendheid ons kontak met die SAPD verskerp,” het Grobbelaar gesê.
Papegaaiberg-natuurreservaat
Die reservaat is Stellenbosch dorp se mooiste natuurbate en beslaan 37 ha van fynbos en renosterveld, verskeie soorte fauna en ‘n onbelemmerde uitsig van 360-grade oor die dorp en omliggende berge tot by die see. Die verwaarlosing van hierdie geproklameerde, nasionale bate word deur inwoners as ‘n aanklag teen die munisipaliteit beskou. Dit is soveel belangriker aangesien die reservaat deel uitmaak van die beplande Adam Tas-korridor, een van die grootse ontwikkelings nog op Stellenbosch.
Teken die petisie dat die munisipaliteit moet optree teen die indringing en stadige vernietiging van die Pappegaaiberg-natuurreservaat hier:








uiters swak. Gesie sal nie my vote ooit wee kry nie