Kaasfees 2023 net om die draai

Kaasfees is kulinêre fees sonder weerga

Daar heers reeds groot opwinding vir die 20ste aanbieding van die bekroonde en gewilde Suid-Afrikaanse Kaasfees soos die Erfenisdag-langnaweek in Septembermaand nader kruip.

Die Sandringham-landgoed buite Stellenbosch speel weer soos ouder gewoonte die gasheer vir hierdie fees, wat vanjaar van Saterdag 23 September tot Maandag 25 September aangebied word.

Die 2023 SA Kaasfees beloof om smulpape van alle ouderdomme aan ’n wêreld van kaas bekend te stel en hulle op ’n verskeidenheid fynproewers-lekkernye te trakteer.

Met minder as twee weke voordat die feeshekke op Sandringham oopswaai, is die organiseerders van die SA Kaasfees opgewonde om meer besonderhede oor al die opwindende aanbiedings op vanjaar se feesprogram bekend te maak – ’n feesprogram wat avontuurlustige “foodies” sekerlik sal aanmoedig om betyds hul kaartjies vir hierdie jaarlikse kulinêre fees te kry wat amper elke jaar vooraf uitverkoop is.

“Die SA Kaasfees is meer as net ’n geleentheid – dit is ’n viering van amper meer as twee dekades se kulinêre lekkerte,” sê Jacques Fourie namens die feesorganiseerders.

“Hierdie fees bied feesgangers ’n merkwaardige samesmelting van fynproewers-ervarings, musiek en prettige vermaak,” voeg hy by.

Nuut op die program

“Ons is baie opgewonde om vanjaar ’n eksklusiewe gasvryheidsaanbieding vir BBP’s by The Pavilion aan te bied – ’n aanbieding wat spesiaal ontwerp is vir skerpsinnige kos-entoesiaste wat op soek is na ’n eksklusiewe ervaring,” sê Fourie.

Die SA Kaasfees se nuwe permanente The Pavilion-geriewe op die feesperseel beslaan twee verdiepings en gaan BBP-gaste op ’n spesiaal saamgestelde kulinêre reis neem – wat alles van proe-en-pas-werkwinkels tot ’n luukse ontspanningsruimte sal insluit, sowel as private spyseniering.

Die kaartjies vir hierdie premie-ervaring is nou aanlyn beskikbaar en gaste word aangemoedig om vroegtydig hul kaartjies vir hul gekose datums te bekom.

Pretpark tot proeë

Die SA Kaasfees roem homself op die wye verskeidenheid aanbiedings en besienswaardighede wat daar elke jaar op die fees is. Só verseker die feesorganiseerders dat elke kaartjie ’n rykdom van waarde inhou.

Die SA Kaasfees maak voorsiening vir die smake en voorkeure van elke feesganger – hetsy dit met kaas- en wynproeë is tot lewendige musiekvermaak en heelwat ander opwindende aanbiedinge.

Feesgangers sal vanjaar weer die geleentheid kry om aan ’n wye verskeidenheid gehalte-kase te kan smul tesame met goeie wyne as die perfekte pasmaats.

Terwyl die feeskaartjie besoekers toegang bied tot al die gratis kaasproeë, kan ’n wynproeglas vir R35 gekoop word by die fees om die diverse verskeidenheid onbeperkte wynaanbiedings te proe.

Daarbenewens gaan bekende kenner-sjefs interessante kosdemonstrasies doen, en so hul insigte oor die kookkuns deel sowel as oor kaasvariëteite en die kuns om kos en wyn bymekaar te pas. “Ons is werklik opgewonde om die uitstekende musiekprogram bekend te maak, met uitsonderlike kunstenaars en musiekgroepe soos Prime Circle, Watershed, Gerhard Steyn, Elvis Blue, Tasché, Juan Boucher, Mark Haze en nog baie meer wat gaan optree. Ons glo hierdie musiekvermaak gaan vir ’n lewendige atmosfeer op die feesgronde sorg,” voeg Fourie by.

“Behalwe vir ons splinternuwe karnaval-styl pretpark stel ons ook helikopter-ritte op die feesterrein bekend. Besoekers sal ‘n keuse hê tussen ‘n twee-minute pretrit of ‘n langer 10-minute rit oor die Kaapse Wynlande. Ons glo dat dit ’n element van gesinsvriendelike pret tot die fees sal voeg.”

Ondersteun plaaslik en ontdek uitsonderlike produkte

Nog ’n toevoeging tot vanjaar se SA Kaasfees-program is die Culinary Marketplace, ’n vertoonplek vir ’n skatkis van handgemaakte produkte, fynproewers-lekkernye, wyne en nog baie meer van plaaslike uitstallers wat graag hul produkte aan feesgangers wil bekend stel.

“Kom ontdek uitsonderlike produkte, ondersteun plaaslike sake-ondernemings en neem van die gehalte-kase en ander verwante produkte wat ten toon gestel gaan word, huis toe om dit na afloop van die fees te geniet,” sê Fourie.

Die SA Kaasfees wil graag sy dank uitspreek aan sy vennote en ondersteuners. Hulle sluit onder andere in: Simonsvlei, die Wes-Kaapse departement van landbou, Stella Artois, Coca-Cola Peninsula Beverages, Kfm, UCOOK, LIFT Airline, Protea Hotel Marriott Stellenbosch en Tekco Packaging Solutions.

Feeskaartjies is direk by Howler beskikbaar by www.howler.co.za/SAcheesefestival.

‘n Fees der feeste – dis die SA Kaasfees wat binnekort weer gehou word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!