Papegaaiberg-stryd op spits gedryf

Inwoners vergader met minister oor behoud van Papegaaiberg-reservaat

Die stryd tussen ‘n groep besorgde inwoners van Onder-Papegeaaiberg, en ook uit die groter Stellenbosch-omgwing, word more (Donderdag) op die spits gedryf wanneer die groep ‘n vergadering met die provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, in Kaapstad het.

Volgens Karin Coetzee, sameroeper van die groep, het hulle Bredell genooi om na Stellenbosch te kom en ter plaatse die situasie in die Papegaaiberg-natuurreservaat te ondersoek. Hy het egter slegs tot die vergadering ingestem en ook bepaal dat slegs 4 lede van die besorgde groep inwoners dit mag bywoon – klaarblyklik weens ‘n probleem met ruimte.

Die groep het reeds vroeër ‘n petisie opgestel om ingryping in die vernietiging van die reservaat te bepleit en meer as 6 000 mense het dit reeds onderteken, terwyl 548 papierhandtekeninge ook ingesamel is.

“Ons het die petisie begin omdat etlike jare se klagtes rakende die veiligheid van inwoners en vernietiging van die reservaat aan die munisipaliteit nie deur enigeen aangespreek is nie. Die munisipaliteit het ontken dat daar enige onwettige strukture in die reservaat is, iets wat duidelik op lugfoto’s gesien kan word. Daar is selfs twee varkplase in die omgewing en in die reservaat.

“Die reservaat is ‘n nasionale bate en moet binne voorskrywing behou en beveilig word. Tans is dit uiters gevaarlik vir enige persoon om die reservaat te betree,” het Coetzee gesê.

In hul skrywe aan Bredell meld die besorgde inwoners dat die oorspronklike geproklameerde grense van die reservaat nie meer bestaan nie en dat die Stellenbosch-munisipaliteit reeds twee keer die grense verskuif het om onwettige plakkershutte en vorige varkplase te akkommodeer.

“Al die wildsbokke wat in die reservaat was, is reeds gevang en dood gemaak deur die inwoners van die plakkerskamp wat met troppe honde jag. Ek en my hond is in die reservaat genader deur ‘n trop van sowat 15 losloper honde en hul eienaars – dit was skrikaanjaend en ek moes drastiese stappe neem om my hond se lewe te red.

“Die jagters en hul honde loop ook in die aangrensende woonbuurt rond, die honde word aangehits om die mense aan te val en werkers word ook so beroof.”

In die brief word ook gevra wat geword het van die geld wat die Rupert-familie geskenk het vir die reservaatheining, hoekom die heining nie voltooi is nie hoekom die gate in die heining nie deur die munisipaliteit herstel word nie?

Daar is ook ‘n groot stuk veld reg langs die reservaatheining, teen die afloop-helling na die Plankenburgrivier, wat deur inwoners van die onwettige plakkerskamp gebruik word as veldtoilet. Rondlopende perde en varke besoedel ook die grond. Die rivier loop uit in die Eersterivier en die besoedelde water moet deur besproeiingsboere gebruik word. Die E-Coli telling is tans ongeveer dubbeld die aanvaarbare norm soos getoets deur Afriforum in Augustus 2023.

Ondersteun die petisie hier: https://chng.it/Br2h2gvMjR

Onwettige boerdery-aktiwiteite word toenemend in die reservaat toegelaat.
Onwettige strukture word al hoe meer binne die reservaat se grense.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!