Woordfees borrel dat dit bars

Kry halfprystoegang by SPAAR BAR

Saartjie Botha, die direkteur van die Toyota US Woordfees, is baie gelukkig met die verloop van sake by die Woordfees tot dusver: “Die atmosfeer in die dorp is heerlik en die gehalte van die aanbiedings baie goed. Ons het voor die begin van die fees reeds meer kaartjies verkoop as vir die hele 2022-fees, wat ons vanweë die pandemie inderhaas moes organiseer. Gewoonlik verdubbel ons gedurende die fees die kaartjies wat vooraf verkoop is, en ek hou duime vas dat dit weer die geval sal wees te midde van moeilike ekonomiese omstandighede.”

Die Toyota US Woordfees het op die aand van 6 Oktober met die Langtafel onder die eike van Ryneveldstraat afgeskop en is steeds in volle swang. En dis nog nie te laat om by die feestelikheid aan te sluit nie. Die laaste naweek bied ’n groot verskeidenheid vir almal van groot tot klein en oud tot jonk.

Vir kinders en hul ouers en grootouers is daar Braam en die engel – Nico Scheepers se verwerking van dié geliefde kinderboek met Joanie Combrink, De Klerk Oelofse, Rehane Abrahams in die rolverdeling.

Daar is ook ’n laaste kans om Christiaan Olwagen se veelbekroonde drama Die moeder met Sandra Prinsloo in die hoofrol te sien.

By die Van der Stel-sportgronde is daar twee groot buitelugkonserte: Uit volle Bosch (met Van Der Aven, Zaan Sonnekus, Gian Groen, Jan Blohm, Die Heuwels Fantasties) en Jol & Jive – ’n viering van die WOW-projek se 20ste verjaardag met The Temple Boys, Tribal Echo, Early B, Mango Groove en Dr Victor & The Rasta Rebels.

Liefhebbers van klassieke musiek kan Sondagaand 15 Oktober die fees op ’n hoë noot afsluit met Beethoven String Quartets: The Beginning and the End met die Amici-strykkwartet, wat wyd beskou word as een van die beste kamermusiek-ensembles in die land.

 

Met die SPAAR BAR voor die Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, By die SPAAR BAR kry jy halfpryskaartjies op alle vertonings binne die volgende vier ure.

Hoe dit werk:

Die SPAAR BAR is oop tot 15 Oktober, daagliks tussen 09:00 en 16:00.

Hier kan jy halfpryskaartjies koop vir enige aanbieding op die feesprogram wat binne die volgende vier ure plaasvind. Byvoorbeeld: As jy 09:00 by die SPAAR BAR is, kan jy alle vertonings tot en met 13:00 halfprys koop, as jy 10:00 opdaag is alle vertonings tot en met 14:00 halfprys.

Dit sluit egter leefstylaanbiedings waar kos en drank bedien word uit. In die laaste uur wat die SPAAR BAR oop is, van 15:00 tot 16:00, is alle kaartjies vir die res van daardie dag halfprys.

Jy kan ook hier ’n borrel bars en pryse wen van Monarch Coffee Cartel, Pizza Ē Vino, Stellenbosch Square en Stellenbosch-wynroetes.

Liewe Heksie vang vis. Foto: Natalie Gabriels
Droomkraankonieke. Foto: Jeremeo Le Cordeur

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!