Tradisie en wetenskap vat hande om eetbare sprinkane te help identifiseer
Die meeste mense sal waarskynlik hul neuse optrek vir ’n bak sprinkane, maar inwoners in sekere landelike gemeenskappe in Limpopo smul graag aan hierdie insekte, wat ’n belangrike deel van hul dieet en kulturele tradisies is. En hulle berei hulle gunstelingsprinkaangeregte op verskillende maniere voor.
Hulle vang gewoonlik die sprinkane met die hand, pluk dan hul agterpote af en gooi dit in emmers. Nadat die sprinkane afgespoel is, word dit gewoonlik op die vuur in ’n pan gebraai, gesout en as versnapering geëet. Soms word hulle ook saam met tamatie en uie gekook en dan saam met pap as ’n aandete geëet.
Wat ook interessant is, is dat mense in hierdie gemeenskappe plaaslike spesie-identifiseerders en volksname (etnospesies) gebruik om eetbare sprinkane te identifiseer. Hierdie name is aan die plaaslike taal van die gemeenskap gekoppel en verskil dikwels van plek tot plek.
Volgens navorsers van die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Limpopo en die Universiteit van Strasbourg (Frankryk) kan sommige van die eetbare sprinkaanspesies wat in die natuur geoes word, moontlik geskik wees vir grootskaalse teling.
“Aangesien dit reeds bekend is as voedselbron, kan die kommersiële ontginning van sprinkane help om voedselonsekerheid aan te spreek, tradisionele voedselkulture op te hef en ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika te bevorder.
“Die probleem is egter dat eetbare sprinkane in die land grootliks ongeïdentifiseer is, wat dit moeilik maak om voedings- en biologiese eienskappe met spesiename te verbind. Dit belemmer weer die vordering wat met moontlike kommersialisering gemaak kan word.”
Die navorsers wys daarop dat sprinkane byna glad nie kommersieel in Afrika geteel word nie, terwyl insekteboerderye in Asië gehelp het om baie mense uit armoede te verhef. As voorbeeld noem hulle ’n studie wat in 2013 deur die voedsel- en landbou-organisasie van die Verenigde Nasies vrygestel is en wat getoon het dat daar 20 000 insekboerdery-ondernemings in Thailand geregistreer is, waarvan die meeste op kleinskaalse huishoudelike vlak bedryf is.
Om hierdie kwessie in Suid-Afrika te help aanspreek, het hulle tradisionele kennis en wetenskaplike metodes gebruik om die biodiversiteit van eetbare sprinkane in die land te dokumenteer. Die bevindings van hulle studie het onlangs in die internasionale vaktydskrif Biodiversity and Conservation verskyn.
Die navorsers het nou saam met gemeenskapslede gewerk wat monsters op ’n tradisionele manier versamel het deur ruigtes met takke vol blare te versteur om die sprinkane te laat opvlieg. Altesaam 36 genetiese spesies is geïdentifiseer uit altesame 35 etnospesies wat name in Sepedi, Tsonga, Lobedu en Venda gehad het.
“Aangesien tradisionele kennis toenemend onder verstedeliking en die aanvaarding van moderne leefstyle gebuk gaan, was die gemeenskapslede se kundigheid om die sprinkane te identifiseer, indrukwekkend en baie van die etnospesies het met die genetiese data ooreengestem.”
Die gemeenskap het nie net gehelp met die insameling van die sprinkane nie, maar hulle het ook van hulle gunstelingmaaltye aan die navorsers voorgesit.
Nadat die monsters ingesamel is, het die navorsers DNS uit die sprinkane se beenspiere onttrek en DNS-strepieskodes vir verskillende etnospesies gegenereer. Die navorsers sê hulle is vol vertroue dat die klassifikasie van die monsters volgens genetiese groepe akkuraat is.
“Ons het bevind dat die diversiteit van eetbare sprinkane wat tradisioneel in Suid-Afrika geëet word, oor die algemeen hoër is as wat voorheen aangedui is.
“Ons DNS-gebaseerde ontledings het op die benutting van 36 genetiese spesies gedui wat waarskynlik verskillende spesies verteenwoordig. Ons studie is die eerste om te toon dat mense in Limpopo sowat sewe bykomende sprinkaanspesies eet wat nog nie voorheen gedokumenteer is nie.
“Die feit dat tien uit 35 (29%) van die etnospesie wat in ons studie gevind is, meer as 20 jaar gelede aangeteken is, beklemtoon die belangrikheid van hedendaagse kulturele hulpbronne en plaaslike kennis vir die dokumentering van biodiversiteit.”
Volgens die navorsers is dit die eerste studie oor eetbare insekte wat DNS-gebaseerde data met ’n spesifieke stel monsters saam met hulle volksname assosieer wat beskikbaar is vir toekomstige verwysing. Hulle voeg by dat dit belangrike voorbereidingswerk is vir die akkurate optekening van eetbare sprinkane in Suid-Afrika.
“Ons studie is ’n stap vorentoe in die dokumentering van eetbare sprinkane wat deur Suid-Afrikaners geëet word. Die gebruik van verskillende inligtingsbronne dra by tot die ontrafeling van die ongelooflike oorvloed eetbare insekkulturele en -biologiese diversiteit in Afrika en die res van die wêreld.
“Genetiese inligting soos DNS-strepieskodes kan help om die gaping in die identifisering van spesies te verklein deur volgordes van monsters te gebruik wat kundig geïdentifiseer is as verwysing vir die vrae oor onbekende volgordes. Studies wat DNS-strepieskodering gebruik om die diversiteit van wilde, eetbare insekte te dokumenteer, is steeds skaars en verteenwoordig slegs ’n klein deeltjie van die groot verskeidenheid taksonomiese groepe wat wêreldwyd geëet word.”
Hulle voeg by dat hulle werk as rigtingwyser vir toekomstige studies oor die dokumentering van eetbare insekte in Afrika en ander wêrelddele kan dien.



